Terwyl daar wyd in Heilbron bespiegel word dat die plaaslike Tokollo-hospitaal as ’n Covid-19-hospitaal ingerig gaan word, wou die Vrystaatse gesondheidsdepartement nie Donderdag die gerugte bevestig nie.
Inwoners het Woensdag op sosiale media gesê die hospitaal is aangewys as ’n hospitaal vir ligte Covid-19-gevalle in die Noordoos-Vrystaat.
Gesondheidswerkers, wat nie hul name bekend wil maak nie, het aan Netwerk24 bevestig dat pasiënte wat om ander redes in die hospitaal is, nou na hospitale in omliggende dorpe oorgeplaas word.
Dit is onseker waarheen mediese noodgevalle soos hartaanvalle of beserings weens motorongelukke verwys sal word.
Mondli Mvambi, provinsiale gesondheidswoordvoerder, sê die departement gaan nie kommentaar lewer oor planne wat hy in reaksie op die pandemie maak nie.
Mvambi sê mense moenie gebeurlikheidsplanne bespreek wat nog nie gefinaliseer word nie.
“Dit is oneties van mense wat nie as woordvoerders aangestel is nie om inligting uit te lap.”
Intussen het Heilbron van die meeste gevalle op die Vrystaatse platteland en is daar 21 gevalle in die Ngwathe-munisipaliteit, waarvan tien in Heilbron.
Die naburige Metsimaholo- munisipale gebied, wat uit Sasolburg, Oranjeville en Deneysville bestaan, het nege gevalle.
Die Vrystaatse gesondheidsdepartement sê die Heilbron-kliniek se deure is tydelik gesluit omdat personeellede positief vir Covid-19 getoets is.
Die departement wou nie bekend maak hoeveel personeellede positief getoets is nie, omdat inwoners glo mense wat positief toets, viktimiseer.