Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Hou gestrandes van SA eers in China – oud-GG
Lt.genl. Rinus Jansen van Rensburg, ’n voormalige geneesheer-generaal van die weermag.Foto: Defence Web

’n Voormalige geneesheer-generaal (GG) van die weermag stem saam dat die Suid-Afrikaners wat hulle in die stad Wuhan en die provinsie Hubei in China bevind, eers daar moet bly totdat die virussiekte Covid-19 gestuit is.

Maar, sê die afgetrede lt.genl. Rinus Jansen van Rensburg, wat van 2000 tot 2005 die GG was, sou daar besluit word om hulle na Suid-Afrika terug te bring, sal dit die beste wees om hulle eers twee weke onder die toesig van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens in kwarantyn te hou.

“Ons sal dan moet maak soos die Amerikaners wat hul burgers van die Diamond Princess-passasierskip in Japan verwyder het en hulle nou 14 dae op militêre basisse in Kalifornië en Texas in kwarantyn hou,” sê Jansen van Rensburg, ’n voormalige voorsitter van die internasionale vereniging van militêre geneeskunde.

Die skip lê sedert 3 Februarie in die Djokohama-hawe naby Tokio geanker. Van die 3 700 mense aan boord het 624 passasiers tot dusver die virus opgedoen en twee het gesterf.

Amerika het sedertdien sowat 400 van sy burgers van die skip gehaal. Brittanje beplan ook om binnekort sy burgers van die skip te gaan haal, terwyl Australië, Kanada en Hongkong dieselfde gaan doen.

In hierdie stadium gee die Suid-Afrikaanse regering gehoor aan die Chinese regering se versoek dat dit beter is om die Suid-Afrikaners in Wuhan en Hubei te los totdat die situasie in bedwang is.

Die Chinese is bang dat indien mense wat die virus opgedoen het, verwyder word uit dié gebied dit tot ’n wêreldwye chaos kan lei.

Die virus het vermoedelik sy oorsprong op ’n kosmark in Wuhan gehad. Sowat 2 100 mense in China is al dood, terwyl die getal mense wat die virus opgedoen het, wêreldwyd op 75 674 staan, het Reuters Donderdag berig.

Vroeër vandeesweek het die DA voorgestel dat 85 Suid-Afrikaners wat tans in China gestrand is, teruggebring word na Suid-Afrika.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het in ’n verklaring voorgestel dat hulle dan 14 dae lank op die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria in kwarantyn gehou word.

Bergman het gesê die DA word oorval deur versoeke van bekommerde ouers en familielede wat wil hê dat die regering hulle moet help om die 85 Suid-Afrikaners (hoofsaaklik onderwysers en studente) na Suid-Afrika terug te bring.

Die DA sal vra dat dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dringend in die parlement verslag oor hul lot lewer.

Die DA wil hê dat die regering – en veral die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing – meer behulpsaam teenoor die gestrande Suid-Afrikaners moet wees.

Meer oor:  China  |  Wuhan  |  Kwarantyn  |  Covid-19  |  Suid-Afrikaners  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.