Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Húlle is beboet weens buitensporige pryse

Sowat 21 maatskappye is gesamentlik met meer as R13 miljoen beboet omdat hulle die pryse van hul produkte te midde van die staat van inperking buitensporig opgeblaas het.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededingingFoto: CITYPRESS

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, sê een van dié maatskappye is nie net met miljoene rande beboet nie, maar boonop deur die mededingingsowerhede beveel ’n bykomende skenking van R5 miljoen aan die Solidariteitsfonds te maak.

Dié inligting kom uit ’n parlementêre antwoord wat Maandag uitgereik is.

Ahmed Shaik Emam, ’n LP van die National Freedom Party, wou in ’n parlementêre vraag by hom weet watter maatskappye ondersoek word weens opgeblase pryse en wat die status van daardie ondersoeke is.

Patel sê in sy antwoord die regering het besef dat “gewetenlose” entrepreneurs die situasie kon uitbuit om onregverdige winste tot groot skade van gemeenskappe en landsburgers te maak.

Dit geld veral in omstandighede waar die vraag na kritieke produkte om die koronavirus-pandemie te beveg wêreldwyd die aanbod oorskry én waar die situasie vererger word deur die dringendheid waarmee verbruikers gesigmaskers en ontsmettingsmiddels benodig.

Die Mededingingstribunaal het gedurende die tydperk boetes en ander betalings van gesamentlik meer as R13 miljoen aan 21 maatskappye opgelê.

Daar is verskeie ondersoeke gedoen deur sowel die Mededingingskommissie as die Nasionale Verbruikerskommissie. Regulasies teen buitensporige pryse is ook uitgereik.

“Die Nasionale Verbruikerskommissie het sy ondersoeke daaroor afgehandel en aangeleenthede na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys wat boetes aan vier maatskappye opgelê het omdat hulle verbruikers buitensporige pryse laat betaal het.

“Die Mededingingskommissie het ook verskeie ondersoeke gedoen ná verskeie klagtes van die publiek oor buitensporige pryse.

“Die Mededingingstribunaal het gedurende die tydperk boetes en ander betalings van gesamentlik meer as R13 miljoen aan 21 maatskappye opgelê.”

Die Mededingingskommissie is nog besig met van sy ander ondersoeke.

Volgens Patel word van die sake betwis en is dit aan verdere prosesse by die Mededingingstribunaal of die Mededingingsappèlhof onderworpe.

Dit hou verband met Dis-Chem en Babelegi Workwear Overall Manufacturers and Industrial Supplies BK.

Maatskappye wat beboet is en waarvan die bevele deur die Mededingingstribunaal bekragtig is, sluit in:

• “Matus, ’n verskaffer van chirurgiese maskers wat bedrywig is in verskillende dele van die land, en teen wie bevind is dat hy die pryse van gesigmaskers in Maart vanjaar opgeblaas het. Hy moes ’n boete van R5,9 miljoen betaal en R5 miljoen aan die Solidariteitsfonds skenk.

• “Die twee maatskappye Hennox en Sicuro, verskaffers van gesigmaskers in Boksburg, Gauteng. Die Mededingingskommissie het bevind dat Sicuro en Hennox hul pryse dramaties tussen Desember 2019 en Maart vanjaar verhoog het sonder meegaande verhogings in hul koste. Hennox voer gesigmaskers in, terwyl Sicuro die maskers van Hennox aankoop en dit aan verbruikers verkoop. Die twee maatskappye moes gesamentlik ’n boete van R1,5 miljoen betaal en ’n skenking van R200 000 regstreeks aan die Solidariteitsfonds maak.”

• Ander maatskappye teen wie boetes opgelê is, sluit volgens Patel “Caprichem, Domoney, Van Heerden Pharmacy, Centrum Pharmacy, Weleda Pharmacy, Sunset Pharmacy, Seaside/ Merlot Pharmacies, Evergreens Fresh Market, Belkem Pharmacy en Manhattan Cosmetics” in.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Mededingingskommissie  |  Covid-19  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.