Byna 27 000 mense in Noordwes het reeds die koronavirus gekry, maar net 4 612 van hulle is nog siek.
Van die 26 580 mense in die provinsie wat volgens die jongste statistieke teen Woensdagaand positief getoets is, het 21 673 reeds herstel. 295 mense in die provinsie is tot dusver aan Covid-19 dood.
Hoewel verreweg die meeste positiewe gevalle (13 297) tot dusver in die Bojanala-distrik in die Rustenburg-omgewing voorgekom het, is die meeste sterftes (97) in die Matlosana- munisipale gebied in die Klerksdorp-omgewing aangemeld. Rustenburg was reeds van die begin van die pandemie die middelpunt daarvan in Noordwes. Die meeste gevalle kom nog hier voor, terwyl die naasmeeste gevalle in die Kenneth Kaunda-distrik (7 720) aangemeld is.
Die hoë voorkoms van gevalle in veral die Bojanala-distrik, maar ook in Matlosana, word aan die baie gevalle in myne in die Rustenburg- en Klerksdorpomgewing toegeskryf.

Adv. Kammie Strydom van Vryburg, wat in Julie dood is aan Covid-19, en sy vrou, Anita.
Volgens Noordwes se gesondheidsdepartement was die naasmeeste sterfgevalle (71) tot dusver in Rustenburg en die derde meeste (56) in die JB Marks- munisipale gebied wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien. Die meeste sterftes was onder mense tussen 50 en 69 jaar oud. Meer mans as vroue in dié ouderdomsgroep is aan Covid-19 dood.
Die sterftekoers het vanaf 1 Mei tot middel Junie betreklik stadig gestyg, waarna dit vinnig opgeskiet en teen einde Julie ’n hoogtepunt bereik het. Daarna het die sterftekoers weer drasties begin daal, volgens statistieke wat die provinsiale gesondheidsdepartement hieroor uitgereik het.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, is onder die talle mense in die provinsie wat reeds van Covid-19 herstel het. Foto: Susan Cilliers
Covid-19 het selfs nie Noordwes se premier, die 72-jarige dr. Job Mokgoro, gespaar nie. Die premier, wat fiks is en gereeld fietsry, was egter nie baie siek nie en het intussen herstel. Die provinsie se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Gordon Kegakilwe, was egter nie so gelukkig nie en het vroeg in Julie aan die virussiekte gesterf. Die bekende Vryburgse advokaat, Kammie Strydom, is ook deel van die sterftestatistiek nadat hy in Julie aan Covid-19 dood is.
• Die syfers in hierdie berig is gegrond op die jongste statistieke wat Woensdagaand bekend gemaak is.