Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19 lei tot ‘vol sale’ in private hospitale in Kaap

Private hospitale in Kaapstad het onlangs groot getalle pasiënte opgeneem, wat daartoe gelei het dat sommige hospitale pasiënte en ambulanse na ander geriewe moes herlei.

Mediclinic én Life Healthcare het Donderdag bevestig dat van hul hospitale se sale vandeesmaand al so vol was dat hulle nie verder pasiënte kon opneem of ambulanse kon ontvang nie.

Dr. Stefan Smuts, hoof- kliniese beampte van Mediclinic Suid-Afrika, het by navraag gesê die meeste druk op waak- en hoësorgeenhede in hul hospitale word tans in Kaapstad ervaar.

“As gevolg van die Covid-19-pandemie ondervind talle gesondheidsgeriewe hoë volumes pasiënte in die waak- en hoësorgeenhede en kan weens ’n tekort aan bykomende hulpbronne in dié eenhede by tye nie enige verdere pasiënte ontvang nie.”

Mediclinic gaan waar nodig ’n beleid van die “herleiding” van ambulanse volg om die vervoertyd te verminder en ambulanse te herlei na die naaste beskikbare hospitale, afhangend van die pasiënt se keuse, om ’n vertraging in die versorging sover moontlik te vermy.

Smuts sê dit is nie ’n nuwe praktyk nie en dit is ’n stelsel wat al baie jare bestaan. Hospitale sal die gebruik van dié herleidings en die behoefte daarvoor deurlopend hersien.

Hy kon nie bevestig presies watter hospitale geraak word nie, omdat die omstandighede glo gereeld verander.

Mediclinic het verder bevestig dat sy noodgevalsentrums altyd oop is om pasiënte in ernstige nood te stabiliseer, ongeag of die hospitale ander ambulanse wegwys.

“Die hospitaalbestuur sal die besluit oor herleiding neem nadat die omstandighede geëvalueer is en daar gevind is dat die huidige maatreëls nie die probleem of die oorsaak kan oplos nie. ’n Versoek sal dan aan die plaaslike nooddienste gerig word om vervoer na die hospitaal vir ’n bepaalde tydperk te vermy, omdat die vervoer van ’n bykomende pasiënt hul veiligheid en dié van ander kan raak.”

Smuts sê die hospitaalbestuur moet ook die uitwerking van die herleiding op ander gesondheidsgeriewe in die omgewing in ag neem en seker maak dat dit geregverdig is.

Dr. Charl van Loggerenberg, hoofbestuurder van ongevallebehandeling van Life Healthcare, het bevestig dat die Kingsbury- en Vincent Pallotti-hospitaal ook toestromings van pasiënte ondervind het, maar dat dit tot dusver gehanteer kon word.

In die Vincent Pallotti-hospitaal was daar egter twee nagte toe die sale vir pasiënte by wie Covid-19 sterk vermoed word, vol was.

“In dié gevalle kan die hospitaal nie pasiënte wat dalk positief kan wees opneem nie en is daar geen ander opsie as om ambulanse te herlei nie. Dit het al gebeur en slegs vir ’n paar uur op ’n slag.”

Die Kingsbury-hospitaal het op 4 Junie ook weens ’n tekort aan kapasiteit een van drie ambulanse herlei wat onderweg was, sê Van Loggerenberg.

Die hospitaal het plek gehad vir pasiënte wat reeds getoets is, maar nie vir pasiënte wie se status onbekend is nie.

In ’n noodgeval waar mense se lewens in gevaar is, sal enige ongevalle-afdeling van Life Healthcare egter pasiënte ontvang om hulle te stabiliseer, waarna ’n besluit geneem sal word of hulle na ander geriewe oorgeplaas moet word.

“Waar nodig, en slegs in uiterste gevalle, sal hospitale pasiënte na die naaste ongevalle-eenheid verwys. Dit is in pas met ons infeksiebeheerbeleide en om ons werkers en pasiënte veilig te hou.”

Craig Murphy, kusstreek-direkteur van Netcare, het Woensdag gesê Netcare-hospitale in Kaapstad “is tans besig, maar nie oorweldig nie”.

Meer oor:  Life Healthcare  |  Mediclinic  |  Koronavirus  |  Private Hospitale  |  Kaapstad  |  Sale  |  Covid-19  |  Ambulanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.