Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Nog geen hulp vir SA’ners in hoërisiko-lande

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ’n beroep op Suid-Afrikaners in hoërisiko-lande gedoen om hul plaaslike ambassade te kontak indien hulle hulp in die buiteland benodig.

Die departement het sover geen planne om mense in ander lande te gaan haal nie.

Pandor het Maandag op ’n nuuskonferensie in Pretoria vrae oor Suid-Afrikaners in die buiteland beantwoord. Die interministeriële komitee oor die koronavirus was ook op die nuuskonferensie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand ’n noodtoestand afgekondig en omvangryke reisbeperkings ingestel, wat insluit dat mense van hoërisiko-lande soos China, Iran, Italië, Suid-Korea, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Amerika nié na Suid-Afrika mag reis nie.

“As Suid-Afrikaners in ’n hoërisiko-gebied is, moet hulle uitvind wat die voorskrifte van hul gasheerlande is. Hulle moet selfisolasie toepas of mediese hulp daar soek,” sê Pandor.

Altesaam 35 grensposte sal gesluit word, waaronder die meeste van die grensposte tussen Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini.

Sy het bygevoeg dat elke geval op verdienste gehanteer sal word en dat hulle hulp in die buiteland sal verleen indien nodig.

Meer as 8 000 visums wat onlangs deur Suid-Afrika aan inwoners van China en Iran toegestaan is, is intussen opgeskort.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, sê streng visummaatreëls is die enigste wettige manier om reisigers van hoërisiko-lande te keer.

Altesaam 8 389 visums wat in Januarie en Februarie aan inwoners van China toegestaan is, asook 429 visums wat aan inwoners van Iran toegestaan is, sal opgeskort word. Dit geld egter nie vir werksvisums nie, tensy diegene met werksvisums intussen terugkeer na hul geboortelande.

Hy het bygevoeg dat visums vir buitelanders in Suid-Afrika verleng kan word.

Motsoaledi het verder gesê verskeie van Suid-Afrika se 72 ingangspunte (53 op land, 11 lughawens en agt hawens) gaan gesluit word.

Die Saldanha- en die Mosselbaai-hawe is vir passasiers gesluit, maar kommersiële bedrywighede sal voortgaan.

Altesaam 35 grensposte sal gesluit word, waaronder die meeste van die grensposte tussen Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini.

“Die Beitbrug-grenspos (tussen Suid-Afrika en Zimbabwe) sal egter nie gesluit word nie omdat dit die enigste grenspos tussen ons en Zimbabwe is en ook die poort na die res van die vasteland. Ons sal 20 ekstra personeellede daar ontplooi.”

Fikile Mbalula, minister van vervoer, sê Suid-Afrikaanse lughawens is nou volgens internasionale standaarde toegerus om mense te toets en maskers is aan personeel in die eerste linie uitgedeel. Personeel wat hulp aan passasiers verleen, moet ook beskermende maskers en handskoene dra.

“Die president se reisverbod beteken dat geen buitelanders van hoërisiko-lande in Suid-Afrika toegelaat word nie. Privaat vlugte sal nou by die hooflughawens moet aandoen. Ons hooflughawens is gereed om sulke vlugte te akkommodeer. Lugvaartowerhede het riglyne beskikbaar gestel om die risiko’s verder te verminder,” sê Mbalula.

Volgens Mbalula voer hulle ook gesprekke met alle rolspelers in die plaaslike openbare vervoerstelsel.

Van die maatreëls wat aangekondig is, is dat Prasa se treine ontsmet sal word en passasiers in taxi’s en treine onverwags getoets sal word.

Meer oor:  Covid-19  |  Naledi Pandor  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Italië  |  Suid-Korea  |  China  |  Amerika  |  Iran  |  Duitsland  |  Noodtoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.