Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19 ‘nog nie krisis in Gauteng’, maar ...

Hoewel daar nog nie ’n krisis is nie, kan dit een word as die getal Covid-19-infeksies in Gauteng bly styg, sê dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid.

Hy het Sondagaand in ’n onderhoud met die TV-kanaal Newzroom Afrika gesê die derde vlaag van die pandemie – wat op sy ergste in Gauteng woed – het hospitale in dié provinsie nog nie oorweldig nie.

’n Mens blus die vlamme waar hulle uitbreek.

Kenners sê egter die hospitale in die ekonomiese hartland van Suid-Afrika is vol.

Gauteng het Sondag 8 640 nuwe infeksies aangemeld, 300 meer as die vorige dag.

Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid.

Phaahla het toegegee modelleerders was verkeerd dat die derde vlaag in Gauteng nie so erg sou wees soos die tweede vlaag nie.

Die jongste getal infeksies in die derde vlaag sal dié in die tweede vlaag verreweg oorskry, sê hy.

Die getal infeksies styg in al die provinsies.

Die red van lewens en die verskaffing van meer entstowwe is vandeesweek die departement van gesondheid se prioriteit omdat dit hand aan hand gaan in die stryd teen dié dodelike pandemie, het Phaahla gesê.

Hy het ook erken die verlies van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, wat onlangs deur ’n brand beskadig is, is ’n groot terugslag in die stryd teen Covid-19 in Gauteng.

Ons kon ons nie voorberei op die verlies van die Charlotte Maxeke-hospitaal nie.

“Ons kon ons nie voorberei op die verlies van die Charlotte Maxeke-hospitaal nie.”

Dié hospitaal sal in fases heropen word. Die onkologie-eenheid sal die eerste wees om te heropen, maar Covid-19-pasiënte sal vir eers nie daar behandel kan word nie.

Phaahla sê hulle sal ook vandeesweek geriewe opknap en fokus op die beskikbaarstelling van meer beddens.

Hy kon ook nie die versekering gee dat alle mediese personeel in hierdie stadium persoonlike beskermende toerusting (PBT) het om hulle veilig te hou nie. Daar is volgens hom weens “plaaslike bestuurskwessies daagliks ’n tekort aan PBT”.

Die verspreiding van PBT is die verantwoordelikheid van die plaaslike regering, maar as medici sukkel om PBT in die hande te kry, kan hulle die nasionale departement van gesondheid kontak.

Skole en inenting van onderwysers

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op ’n media-konferensie in Pretoria aangekondig skole sal nie te midde van die derde vlaag van die pandemie gesluit word nie.

Sowat 482 000 onderwyspersoneellede sal van Woensdag af ingeënt word. Dit sluit administratiewe personeel, vrywilligers wat kos versprei en skoonmakers in. Ook dié van private skole.

Daar is egter sekere mense wat nie ingeënt sal kan word nie. Dit sluit in mense wat die afgelope 30 dae Covid-19 onder lede gehad het, mense wat ingeënt is met ander entstowwe as Pfizer en Johnson & Johnson, of mense wat in die laaste 14 dae griepinspuitings gekry het.

Onderwysvakbonde en ouerbeheerliggame is ten gunste van die besluit om die personeel in te ent.

Motshekga het gesê die veldtog sal tot 8 Julie, die dag voordat die skole vir die wintervakansie sluit, duur.

Skole gaan nie nou sluit nie, maar die situasie sal deeglik gemonitor word. Besluite sal geneem word op grond van die situasie “van provinsie tot provinsie en van skool tot skool”, het Motshekga gesê.

Die situasie kan egter verander as die koronavirus-bevelsraad of die kabinet sê skole moet sluit.

“Ons glo die skole moet oop bly, maar ons is nie onsensitief vir die bekommernisse oor die stygende getal infeksies nie,” het sy gesê.

Die gevoel is die situasie is nie tans van so ’n aard dat alle skole gesluit moet word nie. Van die sowat 25 400 skole in die land word net 100 geraak – die meeste daarvan in Gauteng.

Die pandemie verskil van streek tot streek.

“ ’n Mens blus die vlamme waar hulle uitbreek,” sê Motshekga.

“As ’n leerling byvoorbeeld positief getoets is, maar nie in kontak met onderwysers of ander leerlinge was nie, hoef die skool nie te sluit nie. Net die leerlinge of onderwysers wat met ’n positiewe geval in kontak wasmoet isoleer.”

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Gauteng  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.