Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Nuwe infeksies in Wes-Kaap begin stabiliseer

Hoewel Covid-19-hospitalisasies en -sterftes in die Wes-Kaap toeneem, blyk dit uit die gesondheidsdepartement se data dat die derde vlaag van infeksies begin stabiliseer.

So het dr. Keith Cloete, hoof van die gesondheidsdepartement, Donderdag op Alan Winde, premier, se weeklikse virtuele konferensie gesê.

Hy sê die getal nuwe gevalle dui aan dat infeksies begin stabiliseer. Dit geld nie noodwendig hospitalisasies en sterftes nie.

“Die epidemiologiese patroon is dat daar gewoonlik ’n tydperk verbygaan tussen infeksie, hospitalisasie en die dood. Die mense wat nou gehospitaliseer word of sterf, is reeds vroeër besmet,” sê hy.

“Die syfer wat ons dus dophou, is die nuwe infeksies omdat dit die jongste aanduider van die omstandighede is.”

Dr. Keith Cloete, hoof van die gesondheidsdepartement. Foto: Malherbe Nienaber

Daar was 3,2% meer positiewe Covid-19-toetse in die week tussen 11 en 18 Julie. Cloete sê dit is minder as die persentasie toename in die vorige weke, waar dié syfer al by 30% gaan draai het.

Hy sê die plato in positiewe gevalle kan ook toegeskryf word aan ’n afname in toetse weens die onlangse taxigeweld in die provinsie wat sommige sentrums gedwing het om te sluit.

In die Kaapse metro is daar ’n toename van 4% in gevalle in die week van 11 tot 18 Julie. Cloete sê die oordrag vind steeds grootliks in huishoudelike en werksomstandighede plaas.

Cloete en dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, sê dit is ook die eerste keer in vier weke dat daar meer pasiënte in die openbare sektor behandel word as in die private sektor.

Hospitale in die metro is tans 91% vol, hospitale in die George-omgewing 70% vol, die Paarl-omgewing is 78% en Worcester-omgewing 68% vol.

Volgens die departement se data word slegs 24% van dié pasiënte, in die metro en op die platteland, egter vir Covid-19 behandel of vir moontlike infeksie ondersoek.

Cloete sê as daar na Covid-19-modelle gekyk word en voorspellings vir infeksies, blyk dit dat die Wes-Kaap reeds sy kruin bereik het.

“Die Suid-Afrikaanse Covid-19-modelleringskonsortium (SACMC) sê daar is ’n kans van 73% dat die provinsie reeds die kruin van die derde vlaag bereik het,” sê hy.

Meer oor:  Keith Cloete  |  Wes-Kaap  |  Gesondheidsdepartement  |  Covid-19  |  Infeksies  |  3De Vlaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.