Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Korona: Nuwe infeksies neem weer toe in Wuhan

Covid-19 het teen Donderdag na sowat 81 lande – insluitend Suid-Afrika – versprei met toenemend meer nuwe gevalle wat buite China aangemeld word.

Meer as 95 300 gevalle is reeds wêreldwyd aangemeld met meer as 3 200 sterftes, berig Reuters.

Die eerste geval van die virus is Donderdag in Suid-Afrika bevestig.

’n Man (38) van KwaZulu-Natal wat saam met sy vrou na Italië gereis het, het volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) positief getoets vir die virus. Hulle was deel van ’n groep van tien mense en hulle het op 1 Maart na Suid-Afrika teruggekeer.

Die dokter wat hom behandel het, het homself ook in isolasie geplaas.

Die pa van twee het op 3 Maart dokter toe gegaan met simptome van onder meer koors, hoofpyn, ’n seer keel en ’n hoes. ’n Verpleegster van die praktyk het monsters geneem en dit by die laboratorium afgelewer. Die man het hom sedert 3 Maart in self-isolasie geplaas.

’n Nasporingspan van die departement van gesondheid is in KwaZulu-Natal ontplooi saam met epidemioloë en klinici van Nios.

wuhan
'n Inwoner van Wuhan, waar die koronavirus aanvanklik uitgebreek het, wat op sy groentebestelling in 'n woongebied in die stad. Winkels lewers inkopies en groente by afsetpunte in woonbuurte af. Foto: Reuters

Intussen het China teen Donderdag 139 nuwe gevalle aangemeld wat die totale getal gevalle in dié land op 80 409 te staan bring, berig Reuters. Die toename in nuwe gevalle is aangedryf deur die toename in nuwe gevalle in Wuhan – die episentrum van die uitbreking – waar 131 nuwe gevalle Donderdag aangemeld is vergeleke met 114 nuwe gevalle die vorige dag.

Die BBC berig Italië sluit alle skole van Donderdag af vir tien dae terwyl hy sukkel om die verspreiding van die virus in bedwang te hou.

Altesame 107 mense is reeds dood weens Covid-19 in Italië, waar een van die ernstigste uitbrekings in Europa voorkom. Giuseppe Conte, eerste minister, sê die land se gesondheidsdienste loop die gevaar om oorweldig te word. Die meeste van die 3 000 bevestigde gevalle in Italië is in die noorde van die land, maar ander gevalle is bevestig in 19 van Italië se 20 streke.

Die bevestigde getal infeksies in Japan het tot 1 036 gestyg – 36 meer as die vorige dag.

Die dodetal in Amerika weens Covid-19 het Woensdag tot 11 toegeneem met nuwe gevalle wat in New York en Los Angeles voorgekom het. ’n Noodtoestand is deur Gavin Newsom, goewerneur van Kalifornië, in dié deelstaat afgekondig ná die eerste sterfte weens die virus.

Intussen is passasiers van ’n tweede groot passasierskip, die MSC Opera, tydelik weens die virus in kwarantyn geplaas nadat die skip in Griekeland vasgemeer het. Sky News berig dat vakansiegangers op die MSC Opera Woensdag aan boord gehou is nadat ’n voormalige passasier positief getoets het vir Covid-19. Dié Oostenrykse burger was op die skip tydens ’n twee weke lange reis in die Oostelike Mediterreense See in Februarie voordat hy deur Noord-Italië gereis het.

Australië het intussen sy tweede sterfte weens die epidemie gehad – die eerste van ’n “plaaslike oordrag” en gewaarsku dat die krisis minstens ’n halwe persentasiepunt van die land se ekonomiese groei in die huidige kwartaal sal aftrek.

Suid-Korea het 438 nuwe gevalle wat die totale getal infeksies tot 5 766 laat styg het. Drie meer sterftes is in dié land aangemeld, wat die totaal op 35 te staan bring.

Bevestigde infeksies in Japan het tot 1 036 gestyg – altesame 36 meer as die vorige dag.

Intussen het die minister vir die Olimpiese Spele in Japan gesê die land is daartoe verbind om ondanks die virus die Somer-spele van Julie af aan te bied.

Verskeie bekende toeriste-aantreklikhede wêreldwyd het reeds hul deure weens die virus gesluit. Alle Disney-temaparke in Asië is ook weens die virus gesluit. – Reuters

Meer oor:  China  |  Wuhan  |  Suid-Afrikaners  |  Covid-19-Virus  |  Beskerming  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.