Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19-situasie in Tuinroete woes – LUR

Die Covid-19-situasie in die Tuinroete is tans “woes” – nie net weens ’n toename in hospitaalopnames nie, maar ook weens stygende aktiewe gevalle.

So het dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR van gesondheid, Donderdag op ’n digitale mediakonferensie oor die virussiekte in die Wes-Kaap gesê.

Volgens Mbombo sal sy die Tuinroete volgende week besoek. Stygings het op plekke soos Bitou (Plettenbergbaai) voorgekom.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê die Tuinroete beleef ’n vertraagde, skerp derde vlaag wat anders is as in ander gebiede. “Die distrik het ’n vertraagde, eerste vlaag gehad en ’n skerp, vroeë tweede vlaag.”

Volgens hom nader die Wes-Kaap tans die piek van die derde vlaag. In die George-gebied is 918 hospitaalbeddens beskikbaar.

In die Tuinroete-distrik is veral die George- en Oudtshoorn-hospitaal onder druk. Oudtshoorn en Hessequa het die grootste toename in aktiewe gevalle gehad. Teen Maandag was daar 1 706 sterftes in die Tuinroete, wat 97 aangemelde sterftes sedert verlede Maandag insluit.

Daar is ook ’n tekort aan entstof, maar volgens inligting sal meer entstof na verwagting volgende week arriveer.

Die George-hospitaal is onder groot druk met ’n Covid-19- en die hoësorg-saal wat vol is. Die ander distrikshospitale is ook baie besig, maar kan alles nog hanteer. Die private hospitale in Mosselbaai, George en Oudtshoorn is ook baie besig.

Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vandeesweek op sy Facebook-blad aangekondig dat sy rampbestuurspan mense met registrasie vir inentings gaan help. 122 registrasies vir Volmoed en De Hoop is reeds voltooi. Donderdag het die rampbestuurslede die Welgeluk- en Greylands-gebied besoek en Vrydag kom die Lategansvlei-gebied aan die beurt.

Die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai verwys steeds pasiënte wat slegs intensiewe sorg benodig, sê Riaan Croucamp, streekbestuurder van die groep. Die situasie word weekliks hersien. Sekere operasies is verminder om die vraag na beddens en personeel wat in chirurgiese sale benodig word, te verminder.

Kraamgevalle en hartnoodgevalle word steeds hanteer, asook pasiënte by die noodeenheid wat behandeling moet kry of oorgeplaas moet word indien nodig.

Dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic Suidelike Afrika, sê druk op die groep se hulpbronne in die Tuinroete bly hoog.

Gedurende die laaste maand was daar ’n baie skerp toename in Covid-19-verwante opnames by hul hospitale in die Tuinroete. Hospitaalhulpbronne is onder druk, maar die situasie word goed bestuur.

Aktiewe gevalle

Teen Donderdagmiddag was daar 2 642 aktiewe gevalle in George, in Mosselbaai 1 165, in Knysna 511, in Hessequa 434, in Oudtshoorn 419, in Bitou (Plettenbergbaai) 151 en in Kannaland 129.

In die Sentraal-Karoo-distrik is daar 419 aktiewe gevalle in Beaufort-Wes en 76 in Prins Albert.

In die Wes-Kaap is daar 136 156 aktiewe gevalle volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

Meer oor:  Infeksies  |  3De Vlaag  |  Tuinroete  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.