Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: So staan sake in Oos-Kaap

Die optrede van inwoners in die Oos-Kaap in die volgende twee maande sal bepaal hoe die provinsie vaar teen die Covid-19-pandemie.

Oscar Mabuyane, premier, sê hulle is in die middel van die Covid-19-storm en inwoners moet nou alle regulasies volg om die verspreiding van die virus te bekamp.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. Foto: Argief

Volgens die jongste beskikbare syfers is 52 058 mense nou al in dié provinsie positief getoets en 709 is dood.

Mabuyane het Dinsdag sy weeklikse mediakonferensie gekanselleer en in ’n verklaring terugvoering oor die werk van die Covid-19-bevelraad gegee.

Hy sê ondanks die hoë infeksiekoers moet die hoogtepunte uitgewys word. Een daarvan is die provinsie se verhoogde herstelkoers, wat tans op 66% staan.

Met die aanbreek van vlak 3 van die inperking het die Oos-Kaap se herstelkoers gewissel tussen 53% en 57%.

Die premier is wel bekommerd oor die getal gesondheidswerkers wat die virus opgedoen het.

Skaars twee weke gelede was dit 888 gesondheidswerkers, maar teen Dinsdag het 2 285 van hulle die virus gehad. Van hulle is 34% verpleegsters, 2,2% dokters en 57% in ander kategorieë soos skoonmakers. Altesaam 28 gesondheidswerkers in die provinsie is reeds aan die virussiekte dood.

Mabuyane het die aankondiging oor die verbod op drankverkope verwelkom.

Hy het net meer as ’n week nadat die verbod in Junie opgehef is, amptelik versoek dat dit weer in die Oos-Kaap ingestel word.

Alkoholmisbruik het volgens Mabuyane die provinsiale regering se pogings gekniehalter om te keer dat die virus verder versprei, en alkoholverwante beserings het verdere druk op die gesondheidstelsel geplaas.

“(Die verbod) behoort die belanghebbendes in die drankbedryf en die regering genoeg tyd te gee vir samewerking om ’n doeltreffende veldtog oor verantwoordelike alkoholgebruik in te stel,” het Mabuyane gesê.

Hy waarsku dat die inspekteurs van die Oos-Kaapse Drankraad, saam met verskeie owerhede, die nuwe drankregulasies sal monitor en toepas.

Enige drankwinkel wat die regulasies oortree, sal vervolg word en sy dranklisensie kan opgeskort word.

Mgwebi Msiya, woordvoerder van die Oos-Kaap se Drankraad, het drankhandelaars intussen versoek om die verbod op drankverkope te gehoorsaam.

Op vlak 5 en vlak 4 van die inperking, toe die verkoop van drank verbode was, was daar relatief baie mense in die Oos-Kaap wat dood is weens die gebruik van tuisgemaakte drank.

“Dié soort drank is uiters gevaarlik vir mense se gesondheid.”

Die volgende 40 ventilators sal oor die volgende week uitgestuur word.

Enige klagtes of oortredings van die nuwe drankregulasies kan by die polisie aangemeld word, of by die Drankraad, deur 080 000 0420 te skakel.

Mabuyane het verder gesê die provinsie sal binnekort 50 bykomende ventilators in onderskeie hospitale beskikbaar hê.

“Die Amerikaanse ambassade het bevestig die eerste tien ventilators wat aan die provinsie geskenk is, is geïnstalleer. Vyf daarvan is by die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, en nog vyf in die Nelson Mandela-hospitaal in Mthatha.

“Die volgende 40 ventilators sal oor die volgende week uitgestuur word.”

Wat beskermende kleredrag behels, het die provinsie tans een tot twee weke se voorraad beskikbaar by die onderskeie instellings.

Ter voorbereiding van leerlinge in gr. 3, gr. 6 en gr. 11 wat op 20 Julie terugkeer na skole in die provinsie, is 93% van die vereiste beskermende kleredrag teen Vrydag by skole afgelewer. Watertenks is afgelewer by 98% van die skole wat dit nodig het en is met drinkbare water gevul.

Mabuyane het benadruk dat skole wat nie Maandag gereed is nie, nie sal heropen nie.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Oos-Kaap  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.