Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Suid-Afrikaners sien uit na tuiskoms
Francois Daneel (40), ’n onderwyser in Wuhan, kan nie wag om terug te kom Suid-Afrika toe nie.Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners wat in Wuhan in China vasgekeer is weens die Covid-19-virus, is opgewonde om terug te keer huis toe.

Francois Daneel (40), ’n onderwyser in Wuhan, sê hy kan nie wag om ’n Cheddamelt-steak by die Spur te gaan eet nie.

Dit is nou nadat hy en die sowat 130 ander Suid-Afrikaners uiteindelik toegelaat sal word om weer by die samelewing aan te sluit ná ’n verpligte 21 dae in kwarantyn.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement van gesondheid in Gauteng, sê ’n kwarantyneenheid sal iewers in die Vrystaat ingerig word.

Popo Maja, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, sê egter dié reëlings is nog nie afgehandel nie.

“Ons probeer nou spring sodat ons pres. Cyril Ramaphosa se opdrag kan uitvoer,” het Maja Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Planne om die groep met die hulp van die weermag in Bloemfontein te ontvang en dan na Thaba Nchu te vervoer, kon nie deur Maja bevestig word nie.

“Die finale reëlings sal Sondag bekend gemaak word,” sê Maja.

Luister ook: 'n Cheddamelt-steak na Covid-19-kwarantyn

Daneel en die res van die groep wat terugkeer, weet nog nie hoe die ontruiming gedoen sal word nie, maar is reg vir die kwarantyn wat met hul aankoms op hulle wag.

“Ek kan die 21 dae verstaan . . . dis lank, veral as jy al 30 dae lank in totale afsondering was, maar ek dink ons is almal reg daarvoor. Ons moet maar ’n kopskuif maak,” sê Daneel.

Onseker toestande eis sy tol

Nadia Meintjies, wat in die Zhejiang-provinsie sowat 700 km van Wuhan woon, sê die trane het geloop toe hulle die nuus hoor.

“Mense besef nie deur watter geestelike trauma mense in Wuhan is nie. Hulle wil terugkeer, nie om die virus te versprei nie. Hulle wil net nie langer in sulke onsekere toestande leef nie,” sê Meintjies.

Sy het onder meer van die gestrande mense gehelp om met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking in verbinding te tree sodat ’n naamlys opgestel kan word vir mense wat wil terugkeer.

“Ek wil net uit die kern van die moeilikheid kom en net weer ’n normale lewe beleef,” sê Daneel.

Wuhan is tans nog ’n spookdorp – niemand word toegelaat om vryelik rond te beweeg nie.

’n Mens is afgesonder en alleen, sê Daneel.

Dankie tog vir ’n verwarmer en ’n Super-rugbywedstryd om die eensaamheid te verdryf, sê hy.

Ontruiming verwelkom, maar . . .

Die ontruiming van Suid-Afrikaanse burgers uit China is verstaanbaar, maar behoorlike maatreëls moet getref word sodat die virus nie versprei nie.

Dit was Vrydag die reaksie van die Chinese ambassade in Suid-Afrika nadat Ramaphosa opdrag gegee het dat die gestrandes teruggebring moet word.

Lande soos Amerika, Kazakstan, Australië, Nieu-Seeland en Brittanje het reeds hul burgers huis toe geneem.

Daar is 132 Suid-Afrikaners in Wuhan wat gesê het hulle wil van die regering se aanbod gebruik maak.

Met hul aankoms uit China sal die groep as voorsorgmaatreël 21 dae lank in afsondering geplaas word.

Prof. Gert van Zyl, ’n viroloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) meen dié groep sal nie die virus na Suid-Afrika bring nie.

“Dit is al ’n gerusstelling dat die kwarantyntydperk 21 dae is en nie 14 dae soos in ander lande nie,” sê Van Zyl.

Die groter kommer is eerder die onbekende gevalle wat ’n land kan binnekom.

Van Zyl verwys veral na Italië en Irak wat onverhoeds betrap is deur die virus.

Reisigers is nie na behore getoets nie, het in kontak gekom met ander en sodoende die virus versprei.

Van Zyl meen plaaslik moet die fokus eerder verskuif na reisigers wat die virus van buurlande af kan versprei.

“Ander Afrikalande het nie almal doeltreffende gesondheidstelsels nie en ons grensbeheer is nie altyd so doeltreffend nie,” sê Van Zyl.

Eerste geval in Afrika suid van die Sahara

Die Nigeriese departement van gesondheid het Vrydag bevestig iemand in dié land het positief vir die Covid-19-virus getoets.

Die Italiaanse burger het op 25 Februarie van Milaan in Lagos, waar hy werk, aangekom, berig CNN.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vroeër gesê hy sal Afrikalande bystaan om die verspreiding van die virus te verhoed.

Gevalle van die virus is reeds vroeër in Februarie in Egipte aangemeld, terwyl Algerië vroeër vandeesweek sy eerste geval bevestig het.

Covid-19 het in Desember in Sentraal-China in die stad Wuhan uitgebreek.

Die getal bevestigde gevalle van mense wat Covid-19 wêreldwyd opgedoen het, staan tans op 83 861 terwyl die virus al die lewe van 2 867 mense geëis het.

Suid-Afrika se benadering?

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Vrydag bevestig geen gevalle van Covid-19 is al in Suid-Afrika aangemeld nie.

Twee Suid-Afrikaners op die passasierskip die Diamond Princess het wel dié week positief getoets vir die virus.

“Ons kan bevestig dat dié mense in Japan behandel word,” sê Nios in ’n verklaring.

Matthew Hartley, ’n Suid-Afrikaner wat op die Diamond Princess gewerk het, is een van dié twee.

“Tot dusver toon ek nog nie enige van die simptome nie, maar ek is oorgeplaas en ontvang kundige sorg by die Fujita- mediese sentrum,” het Hartley via Facebook aan vriende en familie laat weet.

Richard, Hartley se pa, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die familie is daagliks met hom in verbinding.

“Dit klink of dit goed gaan, maar ons wag ook nou om te hoor wat volgende gaan gebeur,” sê Richard

Sy seun het as fotograaf op die skip gewerk.

Plaaslik doen Nios voortdurend toetse. Teen Vrydag is 133 mense al in Suid-Afrika getoets vir die virus en almal was negatief.

Nios sê Suid-Afrika sal gereed wees indien die virus hier land.

Hy help onder meer met opleiding sodat daar vir Covid-19 getoets kan word by die land se grensposte.

Louis Oelofse, programredakteur van TRT World, het onlangs eerstehands hiermee te doen gekry op ’n Emirates-vlug van Dubai na Suid-Afrika.

Militêre gesondheidsbeamptes het almal in die vliegtuig se koors geneem en hulle is ondervra oor waar hulle was en of hulle ander simptome soos ’n droë hoes het.

Dieselfde het gebeur by die doeane.

Die departement van gesondheid het ook vroeër aangedui dat verskeie hospitale landwyd reeds hul kwarantyneenhede in gereedheid gebring het.

Wat weet ons van Covid-19?

Van Zyl maan teen massa-histerie.

“Nog nie alles oor Covid-19 is bekend nie en nuwe navorsing word nog daagliks gedoen,” sê hy.

Die virus se gedrag is nog onvoorspelbaar, maar dit is duidelik dat nie almal siek, of ernstig siek word daarvan nie.

Covid-19 is die gevaarlikste vir kwesbare mense soos bejaardes, kinders en mense wat reeds asemhalingsprobleme het.

Die WGO het ’n wêreldwye databasis op die been gebring waar navorsing oor Covid-19 gedeel kan word.

Volgens die WGO versprei die virus via druppels vloeistof uit die neus.

Daar kan nog nie met sekerheid gesê word dat die virus deur die lug versprei word nie.

Volgens die WGO en Nios sluit simptome asemhalingsprobleme, koors, uitputting en ’n droë hoes in en kan pasiënte kortasem raak.

Hierdie simptome stem ooreen met dié van griep, daarom raai Van Zyl mense aan om so gou moontlik hul griepinspuitings te kry.

“Ons is nog nie in ons griepseisoen nie, dus as mense met hierdie simptome opdaag én hulle het reeds hul griepinspuiting gehad, kan daar dadelik vir Covid-19 getoets word,” het Van Zyl gesê.


Meer oor:  Korona-Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.