Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Swanger ma veg om haar lewe

’n Jong vrou van Midrand wat 30 weke swanger is met haar eersteling veg om haar en haar babaseuntjie se lewe nadat sy Covid-19 opgedoen het.

Marzanne Lennox (29) is in ’n kritieke toestand op ’n ventilator in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria.

Weens die streng Covid-19-regulasies kon haar familie haar nog nie besoek sedert sy verlede Dinsdag opgeneem is nie.

Marzanne Lennox (29) is onlangs met Covid-19 gediagnoseer nadat sy in die hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

“Jy mag onder geen omstandighede naby haar kom nie en dis wat dit nog erger maak. Jy kan nie met haar praat nie – niks nie,” sê haar pa, Skip Scheepers, en sluk die trane weg.

Lennox het aanvanklik meer as ’n week voor haar hospitaalopname oor ’n krapperige keel en moegheid begin kla. Haar mond was ook baie droog en sy het haar smaak- en reuksintuig verloor.

Volgens haar pa het sy geen koors gehad nie.

Lennox is twee keer dokter toe en het medikasie vir ’n verkoue ontvang, maar haar toestand het drasties vererger en sy was kort van asem. Maar nooit is sy vir die koronavirus getoets nie.

Eers toe Lennox in die hospitaal opgeneem is, is daar vasgestel dat sy met Covid-19 besmet is.

“Hulle het haar dadelik op ’n ventilator geplaas. Die suurstof in haar bloed was in die 20’s wat beteken dat die organe besig was om te gaan staan,” sê Scheepers.

Die dokters het ’n noodkeisersnee oorweeg, maar Lennox was te swak.

Sy is onder verdowing, maar word nou en dan wakker.

“In hierdie stadium is dit (haar toestand) op en af soos ’n wipplank. Dinge het stelselmatig ’n bietjie beter gelyk en toe eweskielik het die suurstofvlakke weer afgeneem,” sê Scheepers.

“Haar longe het klaar so seergekry. Die dokters probeer hul bes en wil haar so gou moontlik van die ventilator afhaal.”

Lennox en haar man, Thomas (30), is vyf jaar gelede getroud.

“Die man trek ongelooflik swaar. Ek en Mamma (Ina) hanteer maar die meeste van die dinge en laat weet hom,” sê Scheepers.

Marzanne en Thomas Lennox op hul troudag vyf jaar gelede. Foto: Verskaf

Intussen bid onbekende mense van oor die wêreld heen vir haar gesondheid.

“Die ondersteuning en mense wat hul knieë buig vir ons is ongelooflik. Ek was een van die mense wat Covid-19 gesien het as ’n stupid ding en gedink het die mense oorreageer,” sê Scheepers.

Daar word vermoed dat Lennox moontlik by ’n kliniek aangesteek het.

Sy het geen onderliggende siekte nie.

“Asseblief, mense – wees versigtig en pas jouself op. Dra jou masker, was jou hande en drink jou vitamiene,” sê Scheepers.

Hy bedank almal vir hul gebede en ondersteuning tot dusver en vra dat mense aanhou om vir sy dogter te bid.

Meer oor:  Marzanne Lennox  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.