Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Werk aan fasiliteite in Oos-Kaap ‘vorder goed’
Oscar Mabuyane
Oscar Mabuyane (middel), premier vir die Oos-Kaap, het Dinsdag die Sir Henry Elliot-hospitaal in Mthatha besoek. Foto: Facebook

Meer as ’n derde van die beplande opgraderings aan Oos-Kaapse gesondheidsfasiliteite is reeds voltooi.

Die provinsiale regering het 86 opknappingsprojekte met ’n gesamentlike waarde van R594 miljoen vir gesondheidsfasiliteite oor die provinsie heen geoormerk.

Oscar Mabuyane, premier, het Dinsdag sy weeklikse mediakonferensie oor die provinsie se vordering in die stryd teen die koronavirus by die Sir Henry Elliot-hospitaal in Mthatha gehou en gesê dié projekte sal die provinsie van 2 458 Covid-19-beddens voorsien.

Teen Dinsdag was 27 van die opgraderingsprojekte afgehandel, waarmee 706 beddens vir isolasiegeriewe voorsien is.

Die begroting vir die opgraderingsprojekte is soos volg oor die onderskeie distrikte verdeel:

• O.R. Tambo – R152 miljoen,

• Alfred Nzo – R45,5 miljoen,

• Amathole – R66 miljoen,

• Chris Hani – R53,5 miljoen,

• Joe Gqabi – R107,6 miljoen,

• Sarah Baartman – R38 miljoen,

• Nelson Mandelabaai-metro – R58,5 miljoen, en

• Buffalo-Stad-metro – R73,3 miljoen.

Mabuyane het Dinsdag gesê Covid-19 het die nood vir opgraderings by gesondheidsfasiliteite in die provinsie bespoedig.

“Ek het sommige van die fasiliteite met my eie oë gesien. Met die verskriklike vervalle toestand van die infrastruktuur gaan dit my verstand te bowe hoe van hulle die status as gesondheidsfasiliteit behou het.”

Die premier het verder gesê 7 446 uit die beoogde 7 656 poste wat vir die Covid-19-pandemie geïdentifiseer was, is gevul.

Van die jongste aanstellings behels 435 verpleegsters en 38 maatskaplike werkers. Agt senior bestuursposte is ook gevul en bied stabilisering van die leierskap in distrikte en die hoofkantoor, terwyl nog 17 poste geadverteer word.

Mabuyane het benadruk dat alle hospitaalbestuurders, selfs diegene in waarnemende poste, verantwoordelikheid vir hul hospitaal moet neem deur te verseker sake verloop glad.

Die provinsie het 143 ventilators, waarvan 50 deur die Amerikaanse regering geskenk is, na die provinsie se onderskeie gesondheidsfasiliteite versprei.

Mabuyane het sê met die verskeie poste wat gevul word en vordering met die opgraderingsprojekte, word geen “afgryslike stories” verwag van pasiënte wat sonder sorg gelaat word of ongesonde etes ontvang nie.

Mabuyane het weer eens Dinsdag die skuif na vlak 2 van die inperking verwelkom.

Volgens hom is die Oos-Kaap se gesondheidsorgstelsel nie meer onder druk weens die toename in Covid-19-pasiënte nie, en word ’n bestendige afname in aktiewe gevalle gesien.

Hy sê die provinsie het ’n herstelkoers van 94%, terwyl daar 2 627 aktiewe gevalle op 16 Augustus was waarvan die meeste tussen die provinsie se twee metro’s, Nelson Mandelabaai (694) en Buffalo-Stad (550), is.

Hy waarsku egter dat die gebruik van tabakprodukte en alkohol, wat onder vlak 2 verkoop mag word, die potensiaal het om ’n tweede vlaag van infeksies te veroorsaak indien dit misbruik sou word.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Oos-Kaap  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.