Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid eis nog 2 bekendes van Bloemfontein

Met die donker wolk van Covid-19 wat swaar oor die Vrystaat hang, het die familie van twee bekende Bloemfonteiners bekend gemaak dat ook hulle slagoffers van die pandemie geword het.

Margaret Iandoli (67), wat alom bekend was vir haar gemeenskapswerk, is Maandag in die Pelonomi-hospitaal aan Covid-19 dood.

Margaret (67) en Angelo (69) Iandoli. Margaret is Maandag in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein aan Covid-19 dood. Foto: Facebook

Iandoli is die skoonma van Gerdie Karstens, aanbieder van Rosestad 100.6FM se program OggendMoles. Karstens sê hy sal sy skoonma onthou as ’n baie liefdevolle ouma, ma en eggenote vir haar man, Angelo (69).

Sy het haar vir die Brandwag-woonbuurt in Bloemfontein beywer, onder meer deur ’n buurtwag vir Brandwag op die been te bring.

Iandoli word oorleef deur haar man, twee dogters – Tracey Karstens en Nealia van Heerden – asook die dogters se eggenote, Gerdie Karstens en Fernando van Heerden, en twee kleinkinders, Marelize (11) en Elmé (6) Karstens.

Lynette Fischer, bekende voormalige driekampatleet van Bloemfontein, word op haar troue deur haar broer, Hughie van der Watt, by die kerk ingebring. Sy het op Facebook hulde aan hom gebring nadat hy aan Covid-19 dood is. Foto: Argief

• Lynette Fischer, bekende oud-Bloemfonteinse driekamp-atleet, het op Facebook bekend gemaak haar broer, Hughie van der Watt, is aan Covid-19 dood.

Sy skryf: “Ek het vir jou gebid toe jy op die asemhalingsmasjien geplaas is en gehoop dat jy beter sou word, maar die sterk man wat ek geken het, is geneem.”

Fischer skryf ook op Facebook: “Ek het so baie goeie herinneringe aan jou en myself waar jy as kind my eerste speelmaat was. Ons het saam geleer om fiets te ry en het oor naweke saam gaan perdry. Dit was altyd lekker om te gaan kyk hoe jy vir die Cherries en Grey se eerste span rugby gespeel het. Ek was altyd so trots op my tawwe broer.”

Jongste statistieke

Die Vrystaat se statistieke oor die pandemie vir die afgelope 24 uur lyk soos volg.

Daar is 360 nuwe gevalle:

  • 157 in die Mangaung-metro;
  • 75 in Fezile Dabi (Noord-Vrystaat);
  • 45 Thabo Mofutsanyana (Oos-Vrystaat);
  • 64 in Lejweleputswa (Wes-Vrystaat); en
  • 19 in Xhariep-distrik (Suid-Vrystaat).

Die kumulatiewe bevestigde gevalle van die virus in die Vrystaat staan op 110 296 met 95 572 (87%) mense wat herstel het.

Altesame 4 662 sterftes is sover amptelik in die Vrystaat aangemeld.

Die sterftekoers vir die Vrystaat is 4,2%.

Intussen het Jaco Smith van Jaco Smith-begrafnisondernemings foto’s aan Netwerk24 gestuur van die verwaarloosde Suidpark-begraafplaas in die stad waar hy mense moet gaan begrawe.

Hy sê sy onderneming is besig en 20% tot 25% van begrafnisse is dié van Covid-19-slagoffers.

Dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis van die Life Rosepark Hospitaal, het Dinsdag by navraag gesê die situasie by dié hospitaal is onveranderd.

“Hoewel ons vandag (Dinsdag) ’n paar beddens oop het, sal dit onmiddellik weer gevat word.”

Die oorgroeide Suidpark-begraafplaas in Bloemfontein waaroor Jaco Smith van Jaco Smith-begrafnisdienste in die Rosestad kla.
Die troostelose Suidpark-begraafplaas waar mense hul geliefdes moet begrawe.
Nóg ’n foto wat wys hoe toegegroei die Suidpark-begraafplaas in Bloemfontein is.

Hy doen ’n beroep op mense wat vir die Covid-19-entstof in aanmerking kom om dit te kry.

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, een van sowat drie geregistreerde spesialiste in die voorkoming en behandeling van oordraagbare siektes in die Vrystaat, glo dit is ’n baie goeie ding dat onderwysers ook van Woensdag af ingeënt kan word omdat dit sal help om skole oop te hou.

“As diegene bokant 60 jaar nie ingeënt wil word nie, sal dit ’n goeie ding kan wees as daar genoeg entstof is om dit ook aan diegene onder 60 beskikbaar te begin stel.”

Lees ook: Bloem: Arts ‘wil huil’ oor mense nie kom vir inentings

Dr. Nicholas Pearce, hoof van die taakspan vir Covid-19 by die Universitas Akademiese Hospitaal, sê dit lyk asof diegene bo 60 jaar oud Dinsdag in effens groter getalle by Huis Idahlia in Bloemfontein vir inentings opgedaag het.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.