Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid: Polisie moet help in Wes-Kaap

Polisielede, wetstoepassers en gesondheidsamptenare wat kuierplekke, eetplekke, winkelsentrums en selfs kantore inspekteer en ’n kliklyn waar mense oortreders van die Covid 19-regulasies kan verkla, sal in die die feestyd aan die orde van die dag wees in die Wes-Kaap.

“Die virus is nie weg nie. Dit sal gedurende die vakansie en daarna met ons wees,” het Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Donderdag gesê.

Bredell en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Donderdag gereageer op die skerp toename in Covid-19 infeksies in die provinsie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het  die Wes- en Oos-Kaap uitgesonder as die grootste kwelpunte in die stryd teen die koronavirus en gesê owerhede moet bykomende beperkings en strenger optrede oorweeg om die pandemie te bekamp.

Winde het gesê daar is ’n hernude opbloei van die virus nadat die aantal aktiewe gevalle van een week na die volgende met 52% toegeneem het. Die provinsie het tans die meeste aktiewe gevalle van Covid-19 in die land, naas die Oos-Kaap waar meer as die helfte van alle Suid-Afrikaanse gevalle aangeteken is.

Volgens Mkhize word tussen 50% en 55% van die daaglikse nuwe gevalle in die Oos-Kaap aangemeld, met die Wes-Kaap wat sowat 25% bydra.

Die virus is nie weg nie. Dit sal gedurende die vakansie en daarna met ons wees,” het Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.

Winde het gesê munisipale en provinsiale wetstoepassers, gesondheidsamptenare, medici en amptenare van die departement van arbeid moet ingryp om te verseker Kapenaars en besoekers gee gehoor aan regulasies om die virus te bekamp. Hy het gesê hy is bekommerd oor die geweldige styging in syfers en het mense gevra om oor die feestyd eerder in kleiner groepe bymekaar te kom.

Die geregsdienaars en medici sal in spanne verdeel word om inspeksies te doen by onder meer winkelsentrums, werkplekke, onthaallokale en openbare byeenkomste. Die Wes-Kaapse gesamentlike operasiesentrum vir rampbestuur sal die inspeksies koördineer.

Bredell het gesê dit het noodsaaklik geword om regulasies strenger op te dwing.

“Die afgelope week alleen het die provinsie ’n toename van 52,1% in nuwe gevalle gehad, hoofsaaklik in die Tuinroete en die Kaapse metro-streke.”

“Ons is bekommerd oor gebeurtenisse soos Swart Vrydag. Dit is ’n werklike risiko vir die verspreiding van die virus.” Hy het mense ook aangeraai om die noodsentrum van die Kaapstad-metro te bel op 021 480 7700 vanaf ’n selfoon of 107 vanaf ’n landlyn om oortredings van die koronavirus-regulasies aan te meld.

Hoewel Mkhize Donderdag die twee provinsies met die meeste infeksies uitgesonder het, het hy ook gesê hy vertrou nie die amptelike syfers wat Gauteng, waar daar tans die minste infeksies aangemeld is, verskaf het nie.

Hy sê hy gaan nie die aantal jongste aktiewe gevalle in die land bekend maak nie omdat hy onreëlmatighede met Gauteng se syfers bespeur het. Hy het die provinsiale gesondheidsdepartement gevra om sy syfers te wysig. Die provinsie het Maandag 283 aktiewe gevalle aangemeld, terwyl sy koronavirusgevalle met 128 nuwe gevalle toegeneem het. Dinsdag het Gauteng selfs minder aktiewe gevalle (243) aangemeld en sy nuwe koronavirusgevalle het met 179 gestyg.

Mkhize het Donderdag op sy tweede besoek aan die Oos-Kaap binne twee weke gesê meer as die helfte van dié provinsie se aktiewe koronavirusgevalle is in die Nelson Mandelabaai-metro aangemeld. Volgens hom is dit genoeg rede om weer sterker inperkingsmaatreëls te oorweeg.

Hy het versluierde verwysings gemaak na die moontlikheid om die aandklokreël en ’n beperking op drankverkope weer in te stel.

Die minister het gesê beperkings op laataandkuiers en ander aktiwiteite en die druk wat drankverwante ongevalle op hospitale plaas moet in ag geneem word.

“Ons moet hieroor praat. Ons het nog geen besluite geneem nie, maar ná hierdie besoek behoort ons ’n goeie idee te hê van waar die probleme ontstaan sodat ons op grond daarvan aanbevelings aan die nasionale koronavirusbevelsraad kan maak.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.