Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-syfers val, maar 2de piek kan kom

Die getal nuwe Covid-19-gevalle, sterftes en hospitaalopnames het die afgelope twee weke afgeneem, maar kenners waarsku die land kan ’n tweede piek te wagte wees.

“Ons het daarin geslaag om die pandemie te beheer, maar dis nog lank nie gestop nie,” sê prof. Bruce Mellado, datakenner by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se fakulteit wetenskap en lid van die Gautengse premier se advieskomitee. Hy bestudeer die syfers sedert die begin van die uitbreking en sê hoewel data nooit die hele waarheid vertel nie, is dit ’n manier om die onsekerheid om ’n pandemie te “bestuur”.

“Ons sien die laaste twee weke dat Covid-19-syfers afneem. In Julie was daar sowat 12 000 nuwe gevalle per dag.”

Teen Vrydagaand is 6 275 nuwe gevalle aangeteken, aldus syfers van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Altesame 579 140 is al positief getoets vir die nuwe koronavirus en teen Vrydagaand was daar 117 406 aktiewe gevalle.

‘In die Vrystaat is die hospitale vol, maar personeel kan dit beheer.’

Meer as 460 000 Suid-Afrikaners het al herstel.

“Daar is minder mense wat positief toets vir Covid-19, minder sterftes en minder mense wat in hospitale opgeneem word,” sê Mellado. “Net omdat grafieke wys daar is ’n afplatting, beteken dit nie ons is oor die piek nie. Dit beteken net dat ons suksesvol was om dit te beheer. Dis belangriker as ooit dat mense by die regulasies hou, anders gaan ons weer ’n groot uitbreking hê.”

Suid-Afrikaners moet hul maskers dra, hul hande gereeld was en hul afstand handhaaf.

“As ons nou ontspan, kan dieselfde met ons gebeur as in Amerika, waar hulle deur ’n tweede vlaag getref is wat erger is as die eerste. Terselfdertyd is dit belangrik dat die ekonomie weer aan die gang kom sodat mense ’n broodnodige inkomste kan verdien,” sê hy.

Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, maan Suid-Afrikaners ook om versigtig te wees.

Sy was een van die sprekers op ’n webinaar van die Universiteit van die Vrystaat (UV) as deel van die Vrystaatse letterkundefees VrySpraak-digitaal. Die gesprek het veral gefokus op die syfers wat die afgelope twee weke daal.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het in dié gesprek gesê daar is nou minder van dié pasiënte in hospitale en in waakeenhede.

Karim het ook gewaarsku ons moet daarop let dat Spanje, Duitsland en Amerika “oor hul piek was” en deur ’n tweede vlaag infeksies getref is.

Gray meen gemeenskapstoetsing is belangrik sodat uitbrekings betyds geïdentifiseer en bestuur kan word.

Dr. Cloete van Vuuren, spesialis in aansteeklike siektes en deeltydse dosent by die UV, sê die algehele prentjie lyk beter omdat die metro’s ’n piek in infeksies bereik het.

“Dit het gelei tot ’n plato in die statistieke, maar vir my wil dit voorkom of ons nou sit met sporadiese uitbrekings in kleiner dorpies en plekke.

“In die Vrystaat is die hospitale vol, maar personeel kan dit beheer. Ook kleiner hospitale is nou meer opgewasse. Die ramings oor hoe erg die pandemie ons sou tref, is heeltemal oorskat. Daar is geweldig baie klem gelê op ventilators wat beskikbaar moes wees en beddens in waakeenhede – dít terwyl ons nou sien dat vinnige suurstoftoediening baie belangriker is,” sê Van Vuuren.

“Almal is so behep met die herstel- en sterftekoerse, terwyl dit eintlik maar net ’n idee gee en ’n manier is om onsekerheid te meet. Om lande suiwer op syfers te vergelyk is verkeerd, want geen land meet sy data op dieselfde manier nie.”

Van Vuuren sê in Italië, Brittanje en New York het die uitbrekings grootliks in ouetehuise voorgekom en daarom het hulle baie meer sterftes. In Suid-Afrika is dit veral jonger mense in hul 40’s en 50’s wat die virus kry en die oorgrote meerderheid word nie ernstig siek nie.

“Ons weet nou die virus kan suksesvol behandel word as suurstof betyds gegee word.”

Meer oor:  Glenda Gray  |  Salim Abdool Karim  |  Statistieke  |  Covid-19  |  Toetse  |  Sterftesyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.