Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid: ‘Te vroeg’ om te sê oor plato in W-Kaapse sterftes

Dit is nog te vroeg om te sê of die daaglikse Covid-19-sterftes in die Wes-Kaap ’n plato begin bereik en die provinsie se scenario-beplanning word tans aan die hand van die data aangepas.

Intussen het Gauteng die volgende brandpunt geraak met die meeste nuwe gevalle daagliks. Volgens die nasionale departement van gesondheid het die virus daar selfs vinniger versprei as wat verwag is.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Dinsdag by navraag gesê enige model of scenario word gegrond op die beste data wat aan die regering beskikbaar is.

“Ons ontleed deurlopend die data en is besig om scenario’s te herkalibreer. In dié stadium is dit te vroeg om te sê dat die sterftes ’n plato bereik het, maar ons gaan ons bygewerkte scenario-beplanning bekend maak sodra dit voltooi is.”

In die afgelope week het die daaglikse Covid-19-sterftes van meer as 60 gedaal tot tussen 30 en 40 in die laaste paar dae.

Maandag is 6 130 nuwe gevalle oor die land heen aangemeld en 144 264 gevalle sedert die begin van die pandemie.

Nog 73 sterftes is aangemeld, wat die dodetal tot op 2 529 bring.

Van dié jongste sterftes is 43 in die Wes-Kaap, 10 in die Oos-Kaap, ses in onderskeidelik Gauteng en KwaZulu-Natal, vyf in Limpopo, twee in Noordwes en een in Mpumalanga.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag gesê die getal nuwe gevalle tel stoom op en “die storm is op pad”.

Veral in Gauteng, neem die getalle vinniger toe as verwag. Die Wes-Kaap se syfer het baie vinnig gestyg, maar in Gauteng was ons van gisteraand af naby aan 3 000 per dag.”

In die lig van die gevaar wat die snel toename vir die gesondheidsdienste inhou, het hy ’n beroep gedoen op mense om ’n veilige afstand van mekaar te hou en die gesondheidsprotokolle te volg.

“Die probleem gaan inkom as te veel mense terselfdertyd siek raak. Ons vra mense om maskers te dra, hande te was en afstand van ander te hou.

“In Julie gaan ons groter getalle mense sien wat besmet raak, al die pad tot in Augustus. Ons hoop om die situasie in dié tyd te bestuur.”

Mkhize sê hoewel die getalle aanhou styg, is daar geen besluit geneem oor ’n strenger staat van inperking nie.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het in sy weeklikse epidemiologie-verslag vir die week geëindig 20 Junie gesê vir die eerste keer sedert die “uitbreking momentum opgetel het”, het die Wes-Kaap ’n kleiner deel van Covid-19-gevalle as Gauteng uitgemaak.

“Die styging in Gauteng word toegeskryf aan ’n toename in toetsing en verbetering in die opspoor van gevalle of ’n toename in gemeenskaplike oordrag. Die waarskynlikste rede vir die daling van getalle in die Wes-Kaap is die verandering in toetspraktyke eerder as ’n afname in gevalle, namate die fokus van toetsing na gehospitaliseerde gevalle skuif.”

Teen Maandagmiddag was daar 61 445 gevalle van die koronavirus in die Wes-Kaap, waarvan 16 550 aktief is en 43 120 herstel het.

Die getal sterftes het toe op 1 775 gestaan en 300 251 toetse is al in die provinsie uitgevoer.

Van die 1 787 mense in die hospitaal met Covid-19, is 318 in die hoësorg- of waakeenheid.

Nog tydelike hospitale gaan in Julie in diens gestel word om intermediêre sorg aan Covid-19-pasiënte te lewer. Dit sluit in die Brackengate-hospitaal met 330 beddens wat op 10 Julie die eerste pasiënte gaan ontvang, asook die Sonstraal-hospitaal in die Kaapse Wynlande wat ’n bykomende 63 pasiënte in die eerste week van Julie sal kan opneem.

covid-19, 30 junie, wes-kaap

Covid-19-gevalle in Kaapstad per sub-distrik (getal wat herstel in hakies):

• Westelik: 5 212 (3 915);

• Suidelik: 5 449 (4 074);

• Noordelik: 3 782 (2 858);

• Tygerberg: 7 946 (6 080);

• Oostelik: 5 340 (3 939);

• Klipfontein: 6 139 (4 632);

• Mitchells Plain: 5 265 (3 928);

• Khayelitsha: 6 518 (5 208).

Covid-19 gevalle per distrik (getal wat herstel in hakies):

Tuinroete

Bitou: 68 (18);

Knysna: 155 (89);

George: 541 (169);

Hessequa: 24 (17);

Kannaland: 5 (3);

Mosselbaai: 199 (71);

Oudtshoorn: 68 (24).

Kaapse Wynlande

Stellenbosch: 1 002 (612);

Drakenstein: 2 501 (1 713);

Breedevallei: 1 494 (830);

Langeberg: 434 (182);

Witzenberg: 638 (440).

Overberg

Overstrand: 592 (272);

Kaap Agulhas: 50 (27);

Swellendam: 49 (24);

Theewaterskloof: 412 (223).

Weskus

Bergrivier: 191 (146);

Cederberg: 39 (13);

Matzikama: 58 (25);

Saldanhabaai: 613 (328);

Swartland: 531 (329).

Sentraal Karoo

Beaufort-Wes: 24 (2).

Daar is ook 5 900 gevalle waar ’n adres nog nie toegewys is nie en 2 847 mense wat herstel het.

Meer data oor die Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap is op die provinsiale regering se aanlyn paneelbord beskikbaar.


Meer oor:  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Plato  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Infeksiekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.