Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Cyril, kabinet bly oor nog 10 m. entstowwe

Pres. Cyril Ramaphosa en sy ministers verwelkom die suksesvolle onderhandelinge met Pfizer-BioNTech vir ’n bykomende 10 miljoen entstofdosisse, wat beteken dat Suid-Afrika 30 miljoen altesaam van dié vervaardiger se entstowwe sal kry.

“Dit beteken die land sal in staat wees om 15 miljoen mense, in plaas van net 10 miljoen, met dié entstof in te ent,” het Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, Donderdag namens die kabinet op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê.

Sy het ook die besluite bekend gemaak van Woensdag se heel eerste fisieke kabinetsvergadering sedert die staat van inperking verlede jaar in die land afgekondig is.

Ntshavheni het bevestig dat die kabinet die opheffing van die tydelike opskorting van die Johnson & Johnson-Sisonke-inentingsprogram goedgekeur het.

Khumbudzo Ntshavheni
Khumbudzo Ntshavheni Foto: Daily Sun

Volgens haar sal dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en sy departement egter aankondig wanneer presies dié program hervat sal word. “Daar is ’n aanbeveling dat dit hervat moet word.”

Volgens haar sal Suid-Afrika teen die laatste Maandag nog 'n miljoen van die Johnson & Johnson (J&J)-entstofdosisse van die Aspen-aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) ontvang.

“Die hervatting van die inentingsprogram sal daarom begin so gou as wat die departement se stelsels gereed is daarvoor.”

Die kabinet het ook vir Mkhize en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, geloof vir die afhandeling van uitstaande J&J-kontrakkwessies sonder om Suid-Afrika se soewereine posisie daarmee in gevaar te stel.

Die kabinet het ook alle mense bo 60 versoek om op die elektroniese datastelsel of fisiek by die meer as 3 338 inentingslokale landwyd te gaan registreer ter voorbereiding van fase 2 van die inentingsprogram, wat op 17 Mei begin.

Volgens Ntshavheni is die kabinet op die vergadering ook ingelig oor die redes vir die tydelike opskorting van die J&J-inentingsprogram en hoe dit ’n voorsorgmaatreël was om Suid-Afrikaanse wetenskaplikes toe te laat om die land se data oor die J&J-entstof te hersien.

Dit volg nadat die J&J-inentingsprogram in Amerika opgeskort is nadat ses mense wat ingeënt is ’n skaars tipe bloedklont/e ontwikkel het. Ook nadat J&J vrywilliglik die verspreiding van sy entstowwe in Europa weens die Amerikaanse gevalle gestaak het.

“Die tydelike opskorting in Suid-Afrika was in ooreenstemming met die regering se verbintenis om te verseker dat omvattende veiligheidsmaatreëls rakende die inentingsprogram onderneem word.

“Die hersiene data het bevestig dat mense in Suid-Afrika nie enige skaars bloedklonte ontwikkel het met die gesondheidswerkers wat reeds ingeënt is nie.”

Die kabinet het die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad se aanbeveling om die J&J-inentingsprogram te hervat, verwelkom.

“Ons wetenskaplikes sal aanhou om alle Suid-Afrikaners te monitor soos hulle ingeënt word. Teen middel April is meer as 292 263 gesondheidswerkers onder die Sisonke-inentingsprogram ingeënt,” het Ntshavheni namens die kabinet gesê.

Die hersiene data het bevestig dat mense in Suid-Afrika nie enige skaars bloedklonte ontwikkel het met die gesondheidswerkers wat reeds ingeënt is nie.

Die kabinet is ook op die hoogte gebring van die huidige koronavirusinfeksies en het Suid-Afrikaners geloof vir hul volgehoue voldoening aan die voorkomingsmaatreëls teen die virus.

’n Verslag daaroor het volgens Ntshavheni teen 18 April ’n effense styging van 4,9% getoon van mense wat die afgelope 14 dae positief vir die virus getoets is.

“Die gevalle het toegeneem van 14 113 in die voorafgaande 14 dae tot 14 807 in die laaste 14 dae. Die effense toename word toegeskryf aan groep-aansteking in die Vrystaat en Noord-Kaap. Snelreaksie-spanne is geaktiveer om kontakopsporing daar te doen,” sê die kabinet.

Meer oor:  10 Miljoen  |  Pfizer-Entstof  |  Koronavirus  |  Covid 19  |  J&J-Inentingsprogram  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.