Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Cyril verklaar oorlog teen virus
Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagmiddag in Pretoria by die Suid-Afrikaanse Polisiekollege waar hy die polisie toegespreek het.Foto: Isabel Venter

Op die vooraand van Suid-Afrika se staat van inperking het pres. Cyril Ramaphosa diegene besoek wat hom gaan bystaan om die Covid-19-virussiekte te beveg.

Ramaphosa het Donderdagaand troepe van die Suid-Afrikaanse weermag by die Doornkop-weermagbasis in Soweto besoek om hulle voor te berei op hul taak.

“Dit word van julle vereis om 57 miljoen Suid-Afrikaners se lewens te red. Hul lot rus op jul skouers. Jy het ampseed afgelê dat julle Suid-Afrika se mense sal verdedigen aan Grondwetlike waardes sal voorskryf. Die eed is nie net om mense in oorloë te verdedig nie, maar ook teen die gevaar wat ons tans in die gesig staar. Dit is virus wat die hele wêreld aangeval het,” het Ramaphosa gesê.

Hy het soldate toegespreek in weermagdrag. “Ek dra dieselfde klere as julle omdat ek deel is van julle. Ek is julle hoofbevelvoerder en ek beveel julle om hierdie missie met die grootste wilskrag aan te pak,” sê hy.

Ramaphosa sê die land se mense verwag dat die weermag hulle red. “Dit is normaal dat hulle vrees sal hê wanneer julle met gewere rondloop, maar stel hulle gerus en help hulle om te verstaan julle is hier om hulle te help.”

Ramaphosa wil hê dat die weermaglede die publiek met respek behandel en sal ondersteun. “Nou is nie die tyd vir skiet en donner nie. Ek wil hê julle moet ons land dien met vriendelikheid. Die mense het dit nodig want hulle is bang vir die virus.”

weermag
Weermaglede by die Doornkop-basis in Soweto waar pres. Cyril Ramaphosa hulle toegespreek het. Foto: Felix Dlangamandla

Hy stuur soldate af met die woorde: “Maak seker dat ons lewens red. Maak seker dat ons ná 21 dae kan terugkom en mense hul lewens kan terugkry en dat ons ekonomie weer op dreef sal kom. Gaan uit en red Suid-Afrika.”

Ramaphosa het Donderdagmiddag ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Pretoria toegespreek.

“Julle gaan om middernag opgeroep word om oorlog te voer teen ’n onsigbare vyand, naamlik die koronavirus. Julle diens gaan die lewens van miljoene Suid-Afrikaners red,” het Ramaphosa aan die polisielede gesê.

Lede van die taakmag, groepbeheereenheid en verkeerspolisie het op aandag onder ’n wolkbreuk aandagtig na die president geluister.

Ramaphosa het die polisie gemaan om hulle werk met deernis, begrip en respek te doen.

“Julle moet vriendelik wees en die mense help. Ons mense is tans verskrik. Ons moenie enigiets doen as staatsamptenare of polisielede om die situasie slegter te maak nie. Sielkundig is ons mense erg geraak. Hulle vrees dat hulle die virus kan kry, hul werke kan verloor en siek raak in hul huise en nie hospitaal of kliniek toe kan gaan nie,” het Ramaphosa verder gesê.

weermag
Weermaglede by die Doornkop-basis in Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

Ramaphosa sê hy het ook opgemerk dat die strate reeds stiller is, en dit is vir hom ’n teken dat Suid-Afrika ernstig is om die koronavirus te oorkom.

Hy het die polisie egter gemaan om steeds waaksaam te wees teen kansvatters “wat kortpaaie wil vat en doelbewus die staat sal wil uitdaag”.

“Ons sal nie diegene duld wat die mense van die land nie ernstig opneem nie,” was Ramaphosa se waarskuwing aan dié mense.

Intussen het Ramaphosa vroeër die dag by die Reserwebank gesê sy vergaderings met onderskeidelik godsdiensleiers, die Afrika-Unie en die G20-lande Donderdagoggend het glad verloop.

“Die ontbyt met die godsdiensleiers was vertroostend. Ons wil pleit dat Suid-Afrikaners bid vir die wat deur die virus geïnfekteer is, vir hul families en ook vir die hele land wat die eerste maal in sy geskiedenis ’n staat van inperking weens ’n siekte het.”

Suid-Afrikaners het Ramaphosa se pleidooi gehoorsaam en daar is Donderdagaand tussen 18:00 en 18:30 gebid.

Ramaphosa sê die Afrika-Unie en die G20-lande het besluit om te verenig om die siekte te veg.

“Die Afrika-Unie het besluit dat daar ’n taakspan moet wees vir elkeen van die vyf streke wat die ministers van al die betrokke lande moet bevat,” het Ramaphosa gesê.

weermag
Die weermag word ingespan om te help met die inperking wat Donderdagnag van krag word. Foto: Felix Dlangamandla

Tydens die vergadering het die AU ook gevra dat lande regoor die wêreld met sterk ekonomieë hul finansieel moet ondersteun. Die Afrika Koronavirus-fonds is ook hier gestig waarvoor daar reeds $17 miljoen ingesamel is.

Ramaphosa sê tydens die vergadering van die G2- lande, het lande soos Frankryk en Duitsland ook ingestem om Afrika-lande te help, “hoewel daar geen vaste ooreenkoms bereik is nie.”

Op ’n vraag oor onderonsies tussen die lande oor die oorsprong van die virus, het Ramaphosa gesê Afrika wil daarop fokus om die virus te beveg, eerder as om iemand aanspreeklik te hou vir die uitbreek daarvan.

weermag
Weermaglede luister Donderdagaand terwyl pres. Cyril Ramaphosa hulle toespreek. Foto: Felix Dlangamandla
Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens staan gistermiddag op aandag op pres. Cyril Ramaphosa te groet. Die polisie sal in die komende drie weke van inperking ‘n belangrike rol speel om mense se lewens te beskerm, het Ramaphosa gesê. Foto: Isabel Venter
weermag
Pres. Cyril Ramaphosa arriveer Donderdagaand by die Doornkop-weermagbasis in Soweto. Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, staan op aandag vir die volkslied enkele ure voor die staat van inperking Donderdag wat om middernag in werking sal tree. Ramaphosa het vir oulaas die polisie toegespreek oor die belangrike rol wat hulle in die komende weke gaan speel.Foto: Isabel Venter

Meer oor:  Weermag  |  Koronavirus  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.