Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Deel tegnologie van entstowwe gratis, vra Cyril

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag ’n beroep op die internasionale farmaseutiese bedryf gedoen om tydelik die handelsverwante intellektuele eiendomsreg rondom mRNA-entstowwe op te skort en die inligting gratis aan lae- en middelinkomstelande beskikbaar te stel.

Ramaphosa was ’n spreker tydens die herdenking van die stigting van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se inisiatief om vinniger toegang tot middele teen Covid-19 te vind, die sogenaamde ACT-inisiatief.

Suid-Afrika en Noorweë is sedert September die medevoorsitters van die raad vir die fasilitering van die ACT-inisiatief.

“Kom ons werk saam om entstof-nasionalisme uit te daag en maak seker dat intellektuele eiendomsreg nie ten koste van menselewens toegepas word nie,” het Ramaphosa aan ’n internasionale gehoor gesê.

Die Covid-19-entstowwe van Pfizer-BioNTech en Moderna gebruik mRNA-tegnologie.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Twitter

Volgens Ramaphosa is dit tans nog noodsaakliker dat tegnologiese kennis oorgedra word omdat baie lande ’n oplewing van koronavirusinfeksies ondervind.

Suid-Afrika en Indië het verlede jaar ’n voorstel ingedien dat patente vir entstoftegnologie tydelik opgehef moet word sodat entstowwe op groter skaal vervaardig kan word en armer lande sodoende vinniger toegang daartoe kry.

Volgens Ramaphosa is dit bemoedigend dat meer as 100 lande, 130 burgerregteorganisasies, ’n groep van 70 voormalige wêreldleiers en meer as 100 Nobelpryswenners reeds die voorstel ondersteun.

Hy het ’n verdere beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om te help om $19 miljard op ’n dringende grondslag te bekom sodat die Act-inisiatief sy prioriteite vir vanjaar in werking kan stel.

“Net so doeltreffend as wat ons dit in die laaste jaar gedoen het, laat ons volhou om die internasionale gesondheidskrisis in die gees van solidariteit en samewerking aan te pak. Dit is slegs deur samewerking wat ons hierdie verwoestende pandemie sal oorwin,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê deur die Act-inisiatief is 70 lande ondersteun om infrastruktuur vir laboratoriums en toetsing te verbeter, beskermende persoonlike toerusting (PPE) ter waarde van $500 miljoen te kry en meer as 140 lande te help om hul gereedheid vir die verspreiding van entstowwe te assesseer. Deur die Covax-program is meer as 38 miljoen entstof-dosisse aan meer as 100 lande versprei.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het gesê die Act-inisiatief het in sy eerste doel geslaag.

“Ons het nou verskeie veilige en doeltreffende entstowwe wat Covid-19 kan voorkom, ons het sneltoetse vir die siekte ontwikkel en ons het suurstof en deksametasoon om dit te behandel. Maar ons het ’n ver pad om te gaan om die tweede doel te bereik. Oral in die wêreld is mense besig om dood te gaan omdat hulle nie ingeënt is nie, omdat hulle nie getoets is nie en omdat hulle nie behandel word nie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.