Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Cyril waarsku oor dié partytjies

“Ons sien foto’s en video’s van mense wat partytjie hou of sosiaal verkeer – en dit sonder maskers. Ons moet baie versigtig optree en waaksaam wees om onsself en die mense om ons te beskerm.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa gisteraand op ’n sogenaamde presidensiële imbizo gesê toe hy vrae beantwoord het van gewone Suid-Afrikaners wat deur ’n omroeper aan hom gestel is.

Pres. Cyril Ramaphosa

Die vrae het gestrek van kwessies soos die doodstraf en privatisering tot wat Covid-19-simptome alles behels.

Op ’n vraag oor wanneer die regering die verbod op sigarette en tabakverwante produkte gaan ophef, het Ramaphosa gesê dit kan gebeur namate die land na laer inperkingsvlakke beweeg.

Die verbod op sigarette en tabakverwante produkte sal “wel eendag” iets van die verlede wees, maar hy kon nie sê wanneer nie.

Baie rokers is ontmoedig nadat die hooggeregshof verlede week gelas het hy gaan die aansoek deur British American Tobacco (Batsa) om die verbod ongeldig te laat verklaar eers in Augustus aanhoor.

Die rasionaal was dat sekere aktiwiteite nie vir ewig toegehou kon word nie . . . Daar was die misbruik van alkohol wat tot geslagsgeweld, ongelukke, meswonde en vuurwapengevegte gelei het.

Tog het Ramaphosa op ’n ander vraag die regering se besluit geregverdig om drankverkope weer toe te laat, hoewel hy bygevoeg het dat daar baie maatskaplike newe-effekte met die besluit gepaardgaan.

“Die rasionaal was dat sekere aktiwiteite nie vir ewig toegehou kon word nie . . . Daar was die misbruik van alkohol wat tot geslagsgeweld, ongelukke, meswonde en vuurwapengevegte gelei het.”

Hy het gemaan Suid-Afrikaners moenie beangs word wanneer hulle in die tyd wat kom op TV sien en oor die radio hoor hoe Covid-infeksies en die dodetal styg nie.

“Ons gesondheidstelsel is relatief goed. Ons versterk die stelsel, hoewel dit uitgedaag kan word. Ons sterftekoers is nog op 1,8%, terwyl dit in ander lande op 5% is.”

Op ’n vraag oor hoekom die regering nie staatsondernemings wil privatiseer nie, het Rama­phosa gesê staatsondernemings speel ’n sleutelrol om die lewe van Suid-Afrikaners te verbeter omdat die land nog nie ’n ontwikkelde ekonomie het nie.

“In Suid-Afrika volg ons ’n gemengde model waarvolgens die staat en die private sektor albei verskillende dele van die samelewing beheer.”

Hy het Eskom as voorbeeld gebruik om te illustreer dat staatsondernemings kan help om arm mense op te hef.

Volgens hom sou geen private instelling ná demokrasie elektrisiteit aan landelike gebiede verskaf nie, want dit sou nie winsgewend wees nie.

“Dit was slegs deur Eskom dat krag aan die landelike gebiede en die townships verskaf is. Dit kon net deur ’n staatsonderneming gedoen word,” het hy verduidelik.

Ramaphosa het op ’n ander vraag geantwoord hoewel hy begrip het daarvoor dat mense soms voel die doodstraf moet teruggebring word vir moordenaars, veral die moordenaars van vroue en kinders, is die land onderhewig aan die Grondwet, wat die reg op lewe vooropstel.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Covid-19  |  Partytjies  |  Koronavirus  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.