Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DA besorg oor agterstand met Covid-19-uitslae in Gauteng

Die agterstand met die uitslae van 24 076 Covid-19-toetse in Gauteng belemmer die bekamping van die virus, omdat die infeksiesyfer veel hoër kan wees as wat tans aangedui word.

So sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, Sondag in ’n verklaring.

Volgens hom hou dit ernstige gevolge in om brandpunte in die provinsie spoedig te identifiseer en die verspreiding te bekamp.

“Met die gemiddeld van positiewe gevalle op net minder as 2% van mense wat vir Covid-19 getoets word, beteken dit dat daar in Gauteng weens die agterstand 400 mense is wat nog nie gediagnoseer is nie. Baie van hulle is waarskynlik asimptomaties, maar hulle kan steeds die virus oordra.”

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag in ’n verklaring gesê dat die agterstand op 27 Mei 96 480 was. In Gauteng is dit 24 076, in die Oos-Kaap 22 802, in die Vrystaat 8 800, in KwaZulu-Natal 22 802 en in die Wes-Kaap 18 000.

Lenasia
'n Vrou word verlede maand in Lenasia getoets. Foto: Felix Dlangamandla

In Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en die Noord-Kaap is daar geen agterstand nie.

Donderdag met die virtuele sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid het die regering se syfers oor die agterstand met die uitslae van Covid-19-toetse verwarring veroorsaak.

Mkhize en Anban Pillay, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het mekaar oënskynlik weerspreek, tot die ontsteltenis van Naledi Chirwa, ’n EFF-LP, wat daarop aangedring het dat die onduidelikheid opgeklaar moet word.

Pillay het gesê die agterstand staan op 80 000, net om later deur Mkhize weerspreek te word wat gesê het dit is 30 000. Allan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê hy glo dit is 100 000.

Bloom sê die Gautengse gesondheidsdepartement moet sy Covid-19-toetsvermoë opskerp. “Gauteng behoort sowat 10 000 toetse per dag te doen, maar kry tans net die uitslae van sowat 5 000 toetse.

“Die aktiewe gevalle van Covid-19 in Gauteng is waarskynlik nader aan 8 000. Dit is in ag genome die agterstand met toetsuitslae en dat daar waarskynlik drie ander gevalle vir elke bevestigde geval is.” (Gauteng se bevestigde gevalle het Sondagaand op 4 003 gestaan, waarvan 2 060 herstel het en 33 gesterf het.)

Kwara Kekana, woordvoerder van Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Da  |  Bandile Masuku  |  Jack Bloom  |  Koronavirus  |  Toetse  |  Toetsuitslae  |  Covid -19  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.