Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DA sleep Cyril dalk hof toe oor inenting-program

Die DA sê hy sal hom moontlik tot die hof wend om pres. Cyril Ramaphosa te dwing om te sê presies hoe die regering ’n Covid-19-enstofplan vir die land gaan ontplooi.

John Steenhuisen, DA-leier, het Maandag op ’n aanlyn mediakonferensie gesê die party gee die president sewe dae om te verduidelik hoe Suid-Afrikaners teen die dodelike koronavirus ingeënt sal word.

Hy sê die land stuur op ’n onbekostigbare ekonomiese ramp af indien ’n omvangryke inentingsprogram nie so gou moontlik ingestel en uitgevoer word voordat die verwagte derde golf van die pandemie die land moontlik oor ’n paar maande tref nie.

Steenhuisen sê die regering se onvermoë om een of meer tipes entstowwe aan Suid-Afrikaners beskikbaar te stel terwyl dit elders beskikbaar is, is ’n skending van hul menseregte.

Die DA is ook bekommerd dat die regering sy eie onvermoë om genoeg entstowwe te bekom as verskoning sal gebruik om die huidige ramptoestand en dié se regulasies verder te verleng, wat ook teen burgers se menseregte indruis.

‘Gee inligting oor dié vergaderings’

Steenhuisen sê die DA het Ramaphosa in ’n brief gevra om ter wille van deursigtigheid besonderhede oor die regering se onderhandelings met die verskaffers van entstowwe te verskaf.

Dit sluit in die datum en die notules van die vergaderings wat hy met hulle gehad het.

Ander regerings – ook van lande wat baie armer as Suid-Afrika is – het al vroeg in Desember planne gereed gehad om hul bevolkings in te ent.

Hulle het die nodige deposito’s daarvoor betaal, maar Suid-Afrika het twee keer die spertyd misgeloop.

John Steenhuisen, DA-leier

Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister, het verlede jaar 17 keer self met die uitvoerende hoof van die farmaseutiese maatskappy Pfizer gepraat om seker te maak dat dié land genoeg entstowwe kry, sê Steenhuisen.

Die DA-beheerde regering van die Wes-Kaap is besig om planne te maak om self entstowwe te bekom om dié provinsie se mense in te ent. Die ander provinsies is nie gerat om ’n inentingsplan suksesvol uit te voer nie.

Steenhuisen sê die werklikheid is dat die regering die bal laat val het wat betref die Pareto-beginsel dat 20% oorsake 80% van suksesse tot gevolg het.

Dié 20% is nie maklik nie en verg insig, beplanning en komplekse uitvoering. Die probleme kon nie opgelos word met ’n aandklokreël en die verbod op sekere goed (soos alkohol), of inhegtenisnemings nie.

Wat die regering moes doen om 80%-suksesvol te wees, sluit in die verbetering van die kapasiteit van die land se gesondheidstelsel, behoorlike toets- en opsporingsprogramme en die aankoop van entstowwe.

“Bheki Cele (minister van polisie) vertel trots dat 300 000 mense wat die inperkingsmaatreëls oortree het, in hegtenis geneem is – dít terwyl gewone misdaad hoogty vier.”

Regering se gesloer kan SA duur te staan kom
grafika

Die regering se onvermoë tot dusver om entstowwe te bekom, sal die land nog duur te staan kom, sê die DA-leier.

“Om kudde-immuniteit te bereik moet twee derdes van die bevolking – sowat 40 miljoen mense – ingeënt word. Die regering het homself vroeër dapper daartoe verbind dat dit voor die einde van vanjaar sal gebeur.”

Selfs al kry elke mens net een van die twee inentings wat nodig is, is daar nie ’n manier dat so ’n omvangryke plan in dié tydsraamwerk sal geskied nie omdat 115 000 mense per dag in die oorblywende minder as 350 dae van die jaar ingeënt sal moet word.

Die probleem word vererger deur die feit dat nie ’n enkele entstof nog in die land beskikbaar is nie.

“Om kudde-immuniteit te bereik moet twee derdes van die bevolking – sowat 40 miljoen mense – ingeënt word. Die regering het homself vroeër dapper daartoe verbind dat dit voor die einde van vanjaar sal gebeur.

Die probleem met die pandemie word vererger omdat die parlement nie toegelaat word om sy toesigrol na te kom nie, meen Steenhuisen.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê die party is gekant daarteen dat Suid-Afrikaners meer belasting sal moet opdok om vir entstowwe te betaal.

“Dit is ’n klap in belastingbetalers se gesig, dit is gevoelloos en wys die regering is onsensitief daarvoor dat Suid-Afrikaners reeds finansieel swaarkry.”

Die verwagte koste van ’n entstofprogram van sowat R15 miljard is bekostigbaar.

“Die regering sê hy het nie die geld nie, maar is bereid om steeds ondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te help,” sê Hill-Lewis.

grafika

Meer oor:  Da  |  Entstofprogram  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.