Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DA vra ingryping in Vrystaat met hospitaalbeddens

Hospitaalbeddens vir Covid-19-pasiënte in die Vrystaat kan ook te min word as daar nie betyds bykomende voorsiening gemaak word nie.

Daarom is dringende ingryping nou nodig, waarsku Mariëtte Pittaway, DA-wetgewerlid en woordvoerder van dié party oor gesondheid.

Pittaway sê in ’n nuusverklaring dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het op TV gesê dat hospitaalbeddens in die land te min kan word soos wat die Covid-19-pandemie sy piek binnegegaan.

Sy sê in ’n aanbieding deur die portefeulje-komitee vir gesondheid in die Vrystaatse wetgewer op 4 Junie het die Vrystaatse departement van gesondheid ’n optimistiese vooruitskatting gegee dat hulle teen 1 Augustus sowat 3 886 hospitaalbeddens nodig gaan hê en 1 080 beddens in waakeenhede.

Mariëtte Pittaway en David van Vuuren, twee DA-LPW’s van die Vrystaat. Foto: Marietjie Gericke

Die departement het ook gesê as deel van die vlak 3-inperking word tyd gegee vir die voorbereiding van hospitale en beddens in veldhospitale.

Elmarie Prinsloo Foto: Argief

Pittaway sê sy het op 1 Julie ’n vraag aan Montseng Tsiu, die Vrystaatse LUR vir gesondheid, gestuur waarin sy vra wat die datum gaan wees waarop die veldhospitale voltooi sal wees en hoeveel beddens teen 1 Augustus beskikbaar sal wees.

Pittaway het Vrydag gesê dat Tsiu haar steeds ’n antwoord verskuldig is.

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid. Foto: Argief

Sy sê dit het dus as verrassing gekom toe die Vrystaatse provinsiale regering op 7 Julie ’n nuusverklaring uitreik dat die provinsiale koronavirus-bevelsraad, wat deur die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, gelei word, die Bloem-skouterrein gaan besoek om die plek te gaan deurkyk as moontlikheid vir die oprigting van ’n veldhospitaal.

“Dit is kommerwekkend omdat daar nog net drie weke voor die spertyd van 1 Augustus oor is en dat die provinsiale bevelsraad eers nou na die plek gaan kyk. Op die geleentheid het die premier gesê hulle is ’n bietjie bekommerd. Ook dat die Vrystaat uiteindelik 7 000 toegeruste beddens vir Covid-19 gaan hê.”

Pittaway sê een van die redes vir die streng inperkings was vir die provinsiale gesondheidsdepartement om voor te berei vir wanneer die land sy piek gaan bereik. Maar die Vrystaatse gesondheidsdepartement sleep sy voete om voldoende voorbereidings te tref.

Sy sê die DA-regeerde Wes-Kaap het teen 30 Junie vanjaar ’n ongelooflike 44 geriewe met 4 672 beskikbare beddens daargestel en ’n bykomende 182 geriewe is gereed vir aktivering wanneer dit benodig mag word.

Dié geriewe bied gesamentlik 9 670 beddens.

Die DA sal voortgaan om toesig te hou en die omstandighede te monitor, omdat die grootste krag wat enige ekonomie kan hê, in ’n gesonde bevolking lê.

* Netwerk24 het Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, drie keer gebel, maar daar was nie geantwoord nie.

Sy het vroeër aan Netwerk24 gesê dat die veldhospitaal by Bloemskou teen die einde van Augustus voltooi sal wees omdat daar nog eers deur verkrygingsprosesse van die staat gegaan moet word om tenders toe te ken vir die bou van afskortings, die plasing van beddens en suurstof.

Sy het ook gesê daar is gelukkig reeds strukture, elektrisiteit en water wat nie nog aangelê hoef te word nie.

Intussen is daar ander geriewe in die Vrystaat waar kontrakteurs reeds aan die werk is om bykomende beddens te voorsien, soos in die ondergrondse parkeervlak van die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein, sê sy.

Tekort aan hospitaalgeriewe en -beddens ’n werklikheid

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van die Bloemskou, het ook in ’n nuusverklaring gesê in die lig van die huidige landwye ramptoestand weens die Covid-19-pandemie en die koers waarmee infeksies besig is om te styg, het die tekort aan hospitaalgeriewe en -beddens ’n werklikheid geword.

Sy sê Bloemskou het in samewerking met die Vrystaatse departement van gesondheid ’n gedeelte van die skouterrein as gerief geïdentifiseer wat in die behoeftes sal voldoen vir ’n veldhospitaal en wat die infrastruktuur het soos wat nodig is.

Prinsloo sê dit is belangrik dat die publiek en kliënte duidelik verstaan dat die skouterrein meer as 330 000 m² groot is en dat slegs 20% hiervan gebruik sal word vir die hospitaal.

“Aktiwiteite op die res van die skouterrein, sakeondernemings in en om die terrein, asook veilings sal normaalweg voortgaan.”

Sy sê die gesondheidsdepartement wil al die partye en die publiek verseker dat alles moontlik gedoen word om die veilige daaglikse werksaamhede van sakeondernemings te verseker.

’n Hoë vlak van sekuriteit- en ander maatreëls om infeksies te beheer sal toegepas word om blootstelling aan die publiek te vermy, sê sy.

Vir navrae kan die skoubestuur by 051 448 9894 gebel word.

Meer oor:  Mariëtte Pittaway  |  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.