Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DA wis nie AstraZeneca-entstof is reeds verkoop

Die DA het te laat wakker geskrik en Vrydag ’n beroep op die regering gedoen om die miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof in Suid-Afrika te gebruik. ’n Ooreenkoms is reeds bereik om dit te verkoop.

John Steenhuisen, DA-leier, was skynbaar onbewus van dié verwikkeling toe hy in ’n verklaring gesê het weens die stadige pas van inentings in Suid-Afrika is daar geen tyd te verspil met die ontplooiing van die AstraZeneca-entstof nie.

“Om te wag op ’n koper op die Afrika-vasteland wat bereid sal wees om dieselfde opgeblase bedrag te betaal as wat ons het, sal ook ’n skop in die tande wees van elke Suid-Afrikaner wat desperaat op soek is na beskerming teen die virus,” het Steenhuisen gesê.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, het egter al Maandag aan Netwerk24 gesê ’n ooreenkoms is bereik om die dosisse, wat die regering van die Serum-instituut in Indië aangekoop het, teen dieselfde bedrag aan die Afrika-Unie (AU) en die Afrika-Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (Afrika-CDC) te verkoop.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Jabo Kumalo

Hy het by navraag herhaal dat ’n ooreenkoms bereik is, hoewel die entstof nog by die fasiliteit van die farmaseutiese maatskappy Biovac in Gauteng geberg word.

Die verspreiding van die entstof in Suid-Afrika is verlede maand opgehef nadat navorsing getoon het dat dit swak beskerming bied teen ligte tot matige Covid-19-gevalle wat deur die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus (501Y.V2) veroorsaak is.

Verskeie wetenskaplikes, soos prof. Shabir Madhi, dekaan van die Universiteit van Witwatersrand (Wits) se departement gesondheidswetenskap, dink egter dat die AstraZeneca-entstof steeds beskerming teen ernstige Covid-19 en sterfte bied.

“Met bejaardes en mense met onderliggende siektetoestande wat in die gesig gestaar word deur die verskriklike vooruitsig van ’n derde vlaag van infeksies namate die winter nader kom, sal dit misdadig wees om die entstof te vermors,” het Steenhuisen gesê.

Volgens hom kan die situasie met die tekort aan entstowwe daaraan toegeskryf word dat die regering geslaap het terwyl ander lande besig was om entstowwe te bestel en hul planne voor te berei.

“Terwyl vergelykbare lande soos Chili en Rwanda hul bevolkings teen onderskeidelik 300 000 en 70 000 mense per dag inent, kan ons slegs 7 000 inentings per dag vermag. En benewens die aanvanklike klein besendings van Johnson & Johnson-entstof, het ons geen bevestigde afleweringsdatums vir enige betekenisvolle besendings nie.”

Meer oor:  Astrazeneca  |  John Steenhuisen  |  Verkoop  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.