Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 102: 47 sterf oornag in Wes-Kaap

Dit is dag 102 van die nasionale staat van inperking.

  • In die meeste provinsies keer gr. 6- en gr. 11-leerlinge vandag terug skool toe en in sommige provinsies ook gr. R-leerlinge.
  • Daar is ook talle skole wat toestemming by provinsiale departemente van onderwys gekry het om vir meer grade oop te maak.
covid-19, 5 julie

Hier volg die jongste verwikkelinge:

06 Jul. 21:11:21

Talle polisiekantore in Gauteng sluit

Talle polisiekantore in Gauteng is Maandag gesluit nadat polisielede positief vir die koronavirus getoets is.

Polisiekantore in Brooklyn in Pretoria, Randburg, Cleveland en Rosebank in Johannesburg, Elsburg in Ekurhuleni, Kagiso aan die Wes-Rand, Boipatong in Sedibeng en Rabie Ridge in Midrand het almal Maandag hul deure gesluit nadat positiewe gevalle onder lede hier aangemeld is.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê die onderskeie gemeenskapsdienssentrums by die polisiekantore sal tydelik na ander lokale verskuif word.

“Die polisiekantore sal eers deeglik ontsmet word voordat dit vir die publiek heropen. Die publiek word versoek om die 10111-noodnommer vir enige noodgevalle of klagte te kontak omdat die telefoonlyne by die polisiekantore tydelik buite werking is. Hou ook die polisie se sosialemedia-platforms vir die alternatiewe lokale dop,” sê Peters.

06 Jul. 21:04:22

Noordwes-LUR dood weens Covid-19

’n Hartaanval het Maandag die lewe van ’n LUR in Noordwes, wat Covid-19 onder lede gehad het, geëis.

Gordon Kegakilwe, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, is Sondagmiddig in die Vryburg Private Hospitaal opgeneem met longontsteking en het onmiddellik suurstof gekry, sê Job Mokgoro, premier van Noordwes, in ’n verklaring.

“Daar is Maandagoggend besluit om hom na ’n mediese gerief in Klerksdorp oor te plaas.

Hy is per ambulans van Vryburg na Klerksdorp vervoer en by sy aankoms in Klerksdorp het hy ’n hartaanval gehad.“Ondanks al die pogings van die mediese personeel, is hy dood,” lui die verklaring. 

Mokgoro het namens die inwoners van Noordwes en die provinsiale regering sy meegevoel aan Kegakilwe se  familie en vriende oorgedra.Volgens Mokgoro het Kegakilwe “hom onderskei as een van die beste uit die geledere van die regerende ANC”.

“Mag sy siel in vrede rus.”

06 Jul. 20:51:53

Australië sluit sy grense eerste keer in 'n 100  jaar

Die grens tussen Australië se twee digsbevolkte deelstate gaan Dinsdag weens die Covid-19-pandemie sluit – die eerste keer dat dit gebeur sedert die Groot Griep in 1919 daar.

Dit grens gaan selfs deur die weermag gepatrolleer word om te verseker niemand glip deur nie.

Die sluiting is genoodsaak weens ’n tweede golf van uitbrekings van die virus in Melbourne in Victoria.

Dié deelstaat se grens met Nieu-Suid-Wallis was die afgelope 100 jaar nog nie weer gesluit nie.

Lees die volledige berig
06 Jul. 20:29:43

13 kampusse in Brittanje kan sluit

’n “Baie moontlike werklikheid” van insolvensie staar 13 Britse universiteite ná die Covid-19-pandemie in die gesig tensy hulle ’n reddingsboei van die regering kry, is in ’n studie bevind.

Die grootste onmiddellike gebrek aan inkomste staar hoogs aangeskrewe universiteite met groot getalle internasionale studente in die gesig, sê die Instituut vir Fiskale Studies (IFS), maar die risiko is die grootste vir die minder gesogte universiteite, sê die IFS.

Die IFS sê ’n geteikende hulpfonds van die regering sal die kostedoeltreffendste plan wees.

Dié gevolg van Covid-19 “hou ’n aansienlike finansiële bedreiging vir Brittanje se hoëronderwysstelsel in met die meeste instellings wat met verminderde netto bates sit”, sê ontleders.

Lees meer
06 Jul. 19:42:34

47 oornag in Wes-Kaap dood

Hoewel Gauteng die Wes-Kaap begin inhaal wat die totale getal koronavirus-infeksies betref, styg die Wes-Kaap se gevalle steeds bestendig.

Gauteng het reeds meer aktiewe gevalle as die Wes-Kaap.Maandag teen 13:00 was die getal aktiewe gevalle in die Wes-Kaap op 17 612, wat 1 319 meer is as ’n dag tevore.

Die dodetal het oornag met 47 toegeneem van 2 052 tot 2 099.

Die departement van gesondheid het sy medelye met die families van slagoffers betoon.

Teen Maandag was 1 837 mense weens Covid-19 in die provinsie gehospitaliseer en is 310 in hoësorgeenhede behandel.Van die 69 982 totale bevestigde gevalle in die provinsie het 50 271 reeds herstel.

Die departement van gesondheid sê in ’n verklaring 327 938 toetse is reeds in dié provinsie gedoen.

Die distrikte waar die meeste gevalle aangemeld is, is Tygerberg (8 406), Khayelitsha (6 721) en Klipfontein (6 428). Die departement sê omdat die getal infeksies so hoog is, sukkel hy om elke positiewe persoon se adres na te gaan om dit in die regte distrik aan te teken.

“Namate die provinsie nader aan die piek beweeg en die departement daagliks meer as 1 000 nuwe gevalle registreer, is dit nie moontlik om gou genoeg te kontroleer of die adresse wat vir elke nuwe geval verskaf is, korrek is nie.

“Dit beteken dat gevalle soms in die verkeerde sub-distrikte ingedeel kan word. Ons werk saam met die sub-distrikte om die data te verifieer en waar foute plaaslik opgetel word, sal gevalle weer by die regte gebiede aangeteken word.”

06 Jul. 19:36:14

Jy mag weer gaan fliek, teater toe gaan

Regulasies wat die oopstel van biblioteke, museums, rolprentteaters en teaters toelaat, is Maandag in die Staatskoerant gepubliseer.

Rolprent- en ander teaters mag net 50 mense op 'n slag toelaat, werknemers uitgesluit en besoekers moet sosiale afstand van 1.5 m handhaaf.

Mense se temperatuur sal geneem word voordat hulle mag ingaan. Mense ouer as 60 word afgeraai om te gaan fliek of teater toe te gaan.

Biblioteekdienste is vir nou net die uitleen en terugbesorg van boeke. Studie-areas sal oopgestel word mits dit nie meer as 30% van die biblioteek beslaan nie. Die kinder- en speelgoed-afdelings bly gesluit.

06 Jul. 13:34:29

Bykans 'n halfmiljoen Covid-19-gevalle is wêreldwyd in twee dae aangemeld, blyk uit 'n kaart en data wat bygehou word deur die Johns Hopkins-Universiteit in Baltimore.

06 Jul. 13:34:03

Bykans halfmiljoen Covid-19-gevalle wêreldwyd in 2 dae aangemeld

Saterdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) is die 11-miljoen kerf vir gevalle van die koronavirus wêreldwyd verbygesteek. Net meer as twee dae later is bykans nóg 500 000 gevalle aangemeld.

Volgens die kaart en data wat deur navorsers aan die Johns Hopkins-Universiteit in Baltimore, Amerika, bygehou word is daar nou 11 458 291 gevalle wêreldwyd.

Onder die lande met die hoogste getal bevestigde gevalle is:

VSA: 2 888 729

Brasilië: 1 603 055

Indië: 697 413

Rusland: 686 777

Peru: 302 718

Chile: 295 532

Brittanje: 286 932

Mexiko: 256 848

Spanje: 250 545

Italië: 241 611

Suid-Afrika met 196 750 gevalle is steeds 17de op die lys van lande met die meeste gevalle.

06 Jul. 13:12:22

Strenger regulasies vir Gauteng bepleit; nie harde inperking, sê LUR

Te midde van die voortdurende styging in die Covid-19 syfers in Gauteng, het Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, gesê die provinsiale koronavirusbevelsraad het nie die regering gevra vir die algehele terugkeer na ’n harde inperking nie, maar vir die herinstelling van strenger regulasies.

Hy het Maandag per telefoon aan Netwerk24 gesê die provinsiale bevelsraad het reeds 'n voorstel aan die nasionale koronavirusbevelsraad gedoen en wag tans op ’n finale besluit.

Masuku het gesê die maatreëls sal onder meer 'n aandklokreël vir Gauteng en strenger regulasies vir die verkoop en aankoop van alkohol insluit.

“Ons beweeg nie na ‘n harde inperking nie. Ons het voorgestel dat ons dalk die aandklokreël weer moet instel om beweging op sekere tye te verminder. Ons wil ook sien dat 'n mate van skarebeheer regulasies ingestel word en strenger toegepas word omdat ons gesien het dat van die uitbrekings wat ‘n opwelling veroorsaak het, uit saamtrekke gevloei het,” het Masuku gesê.

06 Jul. 12:53:03

Die jongste Covid-19 syfers vir Limpopo.

Meer oor:  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.