Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 105: 13 674 nuwe gevalle; nóg 129 mense sterf

Dit is dag 105 van die nasionale staat van inperking.

Hier is die jongste statistieke soos wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, dit laat Donderdagaand bekend gemaak het.

Hier volg die jongste verwikkelinge.

09 Jul. 22:23:08

09 Jul. 22:10:10

Jongste syfers

Die departement van gesondheid het Woensdagaand die jongste Covid-19-syfers bekend gemaak.

Daar is die afgelope 24 uur 13 674 nuwe gevalle aangemeld. Die totaal tot dusver in Suid-Afrika is 238 339.

129 mense is die afgelope 24 uur dood wat die sterftesyfer op 3 720 te staan bring.

09 Jul. 20:53:52

Direkteur van veiligheid in Kaap toets ook positief

Richard Bosman, Kaapstad se uitvoerende direkteur vir veiligheid, het ook die koronavirus opgedoen.

Hy het Donderdagaand bekend gemaak sy toetsuitslag was positief vir die virus.

Bosman sê sy vrou is Maandagaand laat met longontsteking by die Constantiaberg- mediese kliniek opgeneem.

Sy is die volgende dag positief getoets vir die virus en onmiddellik onder kwarantyn geplaas.

“Ons het Dinsdagmiddag toetse laat doen en ons resultate vandag (Donderdag) teruggekry,” sê Bosman.

Volgens Bosman is die resultate van sy twee seuns negatief, maar hy is positief.“Ek sal tot die 21ste in isolasie wees,” sê hy.

• Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, is ook Woensdag positief vir die koronavirus getoets en is in selfisolasie by die huis nadat hy verlede week ligte griepsimptome ontwikkel het.

09 Jul. 16:41:18

Andries Treurnicht se weduwee dood aan Covid-19

Die politikus en oudpredikant dr. Andries Treurnicht se weduwee is in Pretoria dood nadat sy positief vir die koronavirus getoets is.

Engela Treurnicht (96) is op 24 Junie in ’n aftreeoord in die ooste van Pretoria dood nadat sy vroeër positief vir die virus getoets is, het iemand na aan die familie by navraag bevestig.

Volgens inligting is Treurnicht op 9 April 1924 in Olifantshoek gebore as een van vyf kinders. Haar pa, ds. Japie Dreyer, was ook ’n predikant, en haar ma, Elsje Jansen van Rensburg, ’n onderwyseres.

Lees hier
09 Jul. 16:30:07

Serwië stop inperking nadat inwoners betoog

Serwië gaan nie meer inperkingsmaatreëls instel nie, het die premier, Ana Brnabic, aangekondig.

Dit volg na grootskaalse betogings teen die beoogde inperking.

Ander maatreëls sal wel aangekondig word om die skerp styging in infeksies in die land te probeer keer.

09 Jul. 16:26:58

Verskeie Suid-Amerikaanse lande meld 'n skerp styging in gevalle én sterftes aan

Dit sluit in Brasilië, Mexiko, Colombia en Peru.

Brasilië het gister sy hoogste daaglikse sterfesyfer vir die maand aangeteken terwyl Mexiko gister die hoogste getal daaglikse infeksies tot dusver aangeteken het.

In Colombia versnel die infeksiesyfer en sterftekoers nou daagliks sedert 1 Julie, terwyl Peru meer getalle aanmeld vandeesmaand as wat dit in Junie was.

09 Jul. 16:00:19

09 Jul. 15:55:48

Tabaksaak dan aangehoor

Die Fair Trade Independant Tobacco Association (Fita) het Donderdag bevestig sy aansoek om appél sal op 15 Julie aangehoor word. Die saak sal via die internet aangehoor word en nie in die hof nie.  Die aansoek kom nadat 'n volbank regters beslis het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wel geldige redes het vir die tabakverbod.

09 Jul. 15:54:14

Covid-19 het gesondheidsektor in Oos-Kaap op sy knieë

Van die ergste vrese dat die Oos-Kaapse gesondheidsdienste onder die aanslag van die Covid-19 pandemie in duie sal stort, word daagliks en met ’n skrikwekkende spoed waar.

Die provinsie se staatshospitale is vol en kan nie meer mense met Covid-19 akkommodeer nie.

Siek pasiënte moet kamers deel met dooies, want die lykshuise is ook vol.

Die regering gaan nie meer mense in een van die grootste brandpunte vir die virus toets nie, want sy mediese laboratoriums is oorweldig en kan nie die reuse-agterstand in toetse inhaal nie.

Intussen word die Oos-Kaap se isolasiegeriewe en veldhospitale ook al hoe voller en styg die  bevestigde gevalle daagliks met meer as 2 000 mense. Daarbenewens meen kenners sake kan selfs nóg vererger.

Lees hier
09 Jul. 15:52:34

Vrystaat se sterftes styg drasties

Die Vrystaat het glo reeds meer as 30 sterftes aan Covid-19.

Die bevestigde getal positief getoetse gevalle in die provinsie is ook nou meer as 3 000.

Dié in die Mangaung-streek (Bloemfontein) staan op meer as 1 000. Dit is volgens betroubare inligting deur Netwerk24 bekom.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal na verwagting binnekort ’n aankondiging hieroor doen.

Dr. Cloete van Vuuren, hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal en spesialis op die gebied van die beheer van oordraagbare siektes, sê daar is ’n dramatiese toename in die voorkoms van die siekte in die Vrystaat.

In die staatslaboratorium in Bloemfontein word nou 140 tot 250 positiewe toetse per dag gelewer. Van dié uitslae is egter van mense uit die Noord-Kaap en Oos-Kaap.

Lees hier
Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.