Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 111: SA nou verby die kerf van 300 000 gevalle

Dit is dag 111 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is steeds op vlak 3.

So lyk Suid-Afrika se jongste syfers:

Hier is die jongste verwikkelinge.

15 Jul. 21:29:05

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 12 757 nuwe bevestigde gevalle aangemeld wat die totaal op 311 049 te staan bring.

In dieselfde tydperk is 107 mense dood - die sterftesyfers staan nou op 4 453.

15 Jul. 19:58:57

Zindzi Mandela positief getoets vir koronavirus

Zindzi Mandela se seun, Zondwa Mandela, het Woensdagaand op TV aan die SAUK bevestig sy ma is positief getoets vir Covid-19. 

Die familie is egter nog nie seker of dit die oorsaak van haar dood is nie, omdat die lykskouing nog nie afgehandel is nie, het hy gesê.

Mandela, dogter van Nelson Mandela, is Maandag dood.

Sy word Vrydagoggend omstreeks 07:00 begrawe.

15 Jul. 19:40:48

Die imbizo is verby.

15 Jul. 19:38:49

'As skole moet sluit, sal dit gesluit word'

Ramaphosa sê elke lewe is belangrik vir die regering. Dit is nie so dat die regering optree op grond van hoeveel sterftes daar is nie. Dit gaan nie oor die opweeg daarvan nie. 

Om ’n akademiese jaar te verloor, kan nie opgeweeg word teen hoeveel lewens verloor word nie. Lewens is belangriker. As die punt bereik word dat skole gesluit moet word, sal dit so wees.

Daar sal met die belangegroepe gekonsulteer word en daar sal ’n besluit geneem word.

15 Jul. 19:36:24

Dis híér waar die NGV inpas

Oor klinieke wat van 07:00 tot 15:30 oop is, sê Ramaphosa die klinieke help om gesondheidsdienste te verskaf.

Hy sê die kwessie oor kliniektye en of dit tydens die Covid-19-pandemie dalk verleng kan word, moet bespreek word.

Dit pas aan by die Nasionale Gesondheidsversekering wat dié soort kwessies wil takel. Sulke klinieke sal nie gelyk almal 24 uur per dag in bedryf kan wees nie, maar polisiekantore is wel 24 uur per dag oop. 

Dit is ’n kwessie wat Ramaphosa wil takel. Uiteindelik gaan dit oor die NGV en oor die gesondheid van die mense. Daar moet toegang wees tot gesondheidsfasiliteite vir almal.

Begrotingsoorwegings sal in ag geneem moet word.

15 Jul. 19:31:04

Nog vrae

Iemand van Villige FM sê hulle saai uit in landelike dorpies.

Die klinieke maak 15:30 toe. Hy wil weet hoe Ramaphosa kan help dat klinieke 24 uur per dag oop is. 

Nog iemand vra wat die drumpel vir die regering is waar die akademiese jaar vir tersiêre en basiese onderwys opgehef sal word.

15 Jul. 19:28:47

Daar sal gekyk word na hulp vir vryskutwerkers

Iemand vra op sosiale media oor vryskutwerkers wat nie deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) gedek word nie. 

Nog iemand wil weet hoekom die president die taxi’s toegelaat het om mense teen volle kapasiteit te vervoer.

Die persoon sê hulle betaal meer en die nodige afstande word nie gehandhaaf nie. 

Ramaphosa sê hy verstaan die kwessie oor die vryskutwerkers en dit is ’n goeie punt dat dié mense ook hulp moet kry. Hy sê hy sal dit met die minister bespreek, want vryskutwerkers dra ook by tot die ekonomie van die land en hulle betaal ook belasting.

Ons sal moet sien hoe die kwessie hanteer kan word. 

Ramaphosa sê die 100%-laaivermoë vir plaaslike roetes was die uitkoms van konsultasies met die taxi-bedryf.

Hulle moet aan streng gesondheidsmaatreëls voldoen. Die ruite moet oopgedraai word om ventilasie toe te laat en dit sal help.

As mense maskers dra, as hulle ontsmet en daar is ventilasie, sal dit help. 

Die kwessie van mense wat meer betaal, moet aandag kry. Omdat die taxi's nou vol gelaai kan word, moet die taxi-bedryf daarna kyk.

Ons dring aan daarop dat die gesondheidsregulasies nagekom word. 

Niemand mag sonder ’n masker in 'n taxi klim nie. Dit is verpligtend dat maskers in die openbaar gedra word.

Verskonings, soos dat daar nie geld is vir maskers nie, sal nie meer aanvaar word nie. Daar is altyd een of ander kledingstuk wat jy kan gebruik om jou mond en neus te bedek.

15 Jul. 19:22:04

Skole: Daar sal besluit word sodra daar konsensus is

Ramaphosa herhaal dat die regering luister na die kommer van die vakbonde, maar ook na ander rolspelers soos ouers en studente-organsisasies soos Cosas en Sasco.

Die kwessie sal met hulle bespreek word.

Sodra konsensus bereik is, sal 'n besluit geneem word oor wat gedoen moet word. 

Ramaphosa sê toe hulle oor die heropening van skole besluit het, is geluister na baie rolspelers.

Skole moet oopgemaak word, en daar is gesê daar moet gefokus word op klasse wat genoeg ruimte sal laat. Dit is gr. 7’s en matrieks.

Dit was omdat ons lesse wou leer en dit is die jare wat ons nie wou verloor nie. 

Dit is ’n goeie punt dat daar op gr. 12’s gefokus word omdat hulle dan in verskeie klasse versprei kan word.

Maar met die beskouing van die WGO, moet daar teruggetree en gesoek word na oplossings.

Daar moet ook geluister word na diegene wat nie wil hê skole moet sluit nie.

Ouers se siening en dié van mense uit die verskillende gemeenskappe sal gehoor word.

In die volgende paar dae sal ons dit bespreek en dit laat assesseer deur die mediese advieskomitee. Ons moenie vingers wys nie.

Tot dusver was dit ’n inklusiewe proses.

Uiteraard het almal nie saamgestem nie, want ons is divers.

Maar ons moet altyd probeer om konsensus kry. Ons moet ten minste voldoende konsensus kry om die volgende tree te gee.

15 Jul. 19:10:23

Hoe keer regering verkope van onwettige sigarette?

Ramaphosa antwoord nog vrae. Tsepo van Bloemfontein vra onder meer wat die regering doen om verkope van onwettige sigarette te bekamp. Iemand van Thembisa het gevra hoekom die regering nie slegs matrieks laat skoolgaan nie.

15 Jul. 19:07:16

Ons het lesse by die Wes-Kaap geleer

Ramaphosa sê die inperking is ingestel omdat die regering gesien het wat in ander lande gebeur. Dit was een van die strengste inperkings ter wêreld.

Nadat die inperking ingestel is, is daar vergelykings met ander lande getref. In die Verenigde Koninkryk was daar ’n eksponensiële toename in infeksies. 

Die ander rede was om die gesondheidstelsel gereed te kry.

Volgens Ramaphosa het die inperking gewerk, want die sterftekoers is laer in Suid-Afrika as in baie ander lande.

Die virus sal slegs gestop word wanneer daar ’n geneesmiddel of entstof is. 

Dit lyk asof die Wes-Kaap sy piek bereik het en nou afplat.

Ons het nog nie volledige bewyse nie, maar ons sal sien hoe sake oor die volgende weke verloop. In Gauteng en ander provinsies is die toename vinniger, en daarom moet ons voortgaan met die maatreëls, selfs in die Wes-Kaap. Wat hulle doen is fantasties, omdat hulle vroeg die piek bereik het en dit afgeplat het nadat die maatreëls ingestel is wat ook in ander provinsies toegepas word. Ons het lesse by die Wes-Kaap geleer.

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.