Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oorsig: DAG 128: SA steek halfmiljoen-merk verby

Dit is dag 128 van die nasionale staat van inperking.

Volg die jongste verwikkelinge hier:

01 Aug. 14:21:27

Covid-19 veroorsaak moontlik ook gehoorverlies

In 'n klein studie is bevind sommige mense wat Covid-19 opgedoen het, het ook gehoorprobleme - selfs maande nadat hulle herstel het.

Oudioloë by die Universiteit van Manchester het 121 pasiënte getoets agt weke nadat hulle reeds uit die hospitaal ontslaan is.

16 mense het gesê hul gehoor is swakker as toe hulle in die hospitaal behandel is, agt het aangedui hul gehoor het verswak en nog agt het simptome van tinnitus ontwikkel.

Hoewel die studie nog net anekdotiese gevalle opgeteken het, het die navorsers in 'n brief aan die Journal of Audiology geskryf dit is rede tot kommer.

01 Aug. 13:47:43

Hersiene skoolkalender uitgereik – kry dit hier

Die departement van basiese onderwys het pas die hersiene skoolkalender vir 2020 uitgereik.

Dit volg ná die besluit dat skole vir vier weke moet sluit en eers op 24 Augustus heropen. 

Dit is die tweede keer vanjaar dat die skoolkalender hersien word weens die impak van die koronavirus.

Volgens die nuutste skoolkalender sal onderwysers 163 dae en leerlinge 156 dae teen die einde van die jaar by die skool gewees het.

Skole sal op 15 Desember vir gr. R tot gr. 11-leerlinge sluit en die skooljaar sal afgehandel wees en geen werk sal na 2021 oorgedra word nie.

Om die derde en vierde kwartaal te skei, sal daar 'n kort vakansie van 26 tot 30 Oktober wees.

Die laaste matriekvraestel sal ook op 15 Desember geskryf word. Die nasien van vraestelle sal eers op 22 Januarie afgehandel wees en die uitslae sal op 23 Februarie 2021 uitgereik word.

Die nuwe skooljaar begin op 25 Januarie 2021, vir onderwysers en leerlinge.

Die kalender sal in die Staatskoerant gepubliseer word.

Laai die aangepasde skoolkalender hier af
01 Aug. 12:11:51

01 Aug. 11:28:15

Te min word belê in Afrika vir die vervaardiging van entstowwe

Prof. Helen Rees van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het gister op 'n nuuskonferensie gesê sy werk met verskeie liggame van die WGO oor Covid-19 en volgens haar word daar dringende tegnologie, veral met entstowwe, benodig, asook die kapasiteit om dit te kan vervaardig en om dit op groot maat te kan aflewer.

Sy het gewaarsku daar word nie genoeg in Afrika belê om entstowwe te kan vervaardig nie. 

Volgens Rees sal Suid-Afrika en Afrika nie met maatskappye kan onderhandel om entstowwe in die hande te kry nie.

Volgens haar wil die WGO deur sy Covax-geriewe entstowwe beskikbaar maak aan Afrika-lande deurdat ryker lande daarin belê en dan 20% van die vervaardigde entstowwe kry.

01 Aug. 11:17:06

Rekordgetal nuwe gevalle wêreldwyd

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Vrydag ’n wêreldwye rekordgetal in die toename van koronavirus-gevalle gerapporteer, met altesame 292 527.

Volgens die daaglikse verslag was die grootste stygings Vrydag in Amerika, Brasilië, Indië en Suid-Afrika.

Sterftes het met 6 812 gestyg.

Die vorige rekord van 284 196 nuwe gevalle op een dag is op 24 Julie deur die WGO aangeteken.

Sterftes het op 24 Julie met 9 753 gestyg, die tweede grootste toename op ’n dag tot nog toe.

Sterftes was gemiddeld 5 200 per dag in Julie, teenoor ’n gemiddeld van 4 600 per dag in Junie.

Daar is volgens die WGO ook ’n toename in Covid-19-gevalle in Australië, Japan, Hongkong, Bolivia, Soedan, Ethiopië, Bulgarye, België, Oesbekistan en Israel.

Reuters het Vrydag berig daar is wêreldwyd meer as 17,4 miljoen infeksies en byna 675 000 sterftes.– Reuters

01 Aug. 11:08:25

Virusreëls: Jong paartjie in twee lande kan nou net hoop

Om na Auckland in Nieu-Seeland te verhuis sou vir Laykanne (25) en Eben (30) Coetzee ’n simbool van ’n nuwe begin en lewe wees.

Maar toe kom die Covid-19-pandemie en die paartjie, oorspronklik van Johannesburg, se planne is in die wiele gery.

Vandag is hulle al meer as agt maande weg van mekaar en daar is meer as 12 000 km tussen dié jong getroudes.

En hulle weet ook nie hoe lank dit nog sal duur nie weens die Nieu-Seelandse regering se besluit om die land se grense te sluit.

Lees hier
01 Aug. 11:07:20

Gehoor vir 2-jarige weeg swaarder as vrees vir virus

“Hallo” was die eerste woord wat Sage Cloete (2) van Grassy Park in Kaapstad geuiter het nadat sy verlede maand ’n kogleêre inplanting gekry en vir die eerste keer kon hoor.

Die gawe van gehoor vir hul dogter het vir Reginald en Tonia Cloete veel swaarder as die vrees vir Covid-19 geweeg en hulle het besluit om die Tygerberg-hospitaal te trotseer.

“Al was dit in die middel van die Covid-19-chaos het ons ons voete in die gevreesde plek gesit waarheen geen mens sou wou gaan nie.”

Lees hier
01 Aug. 11:00:18

Wayde van Niekerk het glo koronavirus

Wayde van Niekerk sal na bewering nie vandag in Trieste in die blokke sak nie nadat hy glo positief getoets ist vir die koronavirus.

Luidens die Italiaanse publikasie La Gazzetta dello Sport is Van Niekerk in kwarantyn geplaas in die Italiaanse stad Gemona, sy Europese oefenbasis, waar sy toestand dopgehou sal word.

Van Niekerk sou vandag sy langverwagte terugkeer op internasionale vlak gemaak het waar hy geskeduleer was om by die Triveneto-byeenkoms in die Grezar-stadion in Italië aan die 100 m en 400 m deel te neem.

Dit sou sy eerste byeenkoms sedert Februarie wees en sy eerste buite Suid-Afrika se grense sedert hy in 2017 ’n kruisligamentbesering opgedoen het.

Lees hier
01 Aug. 10:48:32

01 Aug. 10:47:16

Alkohol speel rol in misdaad, aldus statistieke

Alkohol het tussen 1 April 2019 en 31 Maart 2020 ’n rol gespeel in 8,4% van geweldsmisdade.

Die minister van polisie, Bheki Cele, wat die laaste paar maande entoesiasties vir die verbod op alkohol voorspraak gemaak en dit afgedwing het, het die misdaadstatistieke vir die vorige boekjaar Vrydag aan die portefeuljekomitee oor polisie voorgelê, waarna hy dit aan die media bekend gemaak het.

Daar was altesame 372 174 moorde, pogings tot moord en aanrandings. In 31 322 van hierdie gevalle is bevestig dat die oortreders onder die invloed van alkohol was.

Die statistieke het bevind dat drankwinkels – sjebiens, tavernes, kroeë, nagklubs en drankwinkels – derde op die lys was van plekke waar geweldsmisdade plaasgevind het, naas woonplekke en openbare plekke soos oop gebiede, parke, strate, strande en verlate geboue.

Die statistieke dek net vier dae van die grendeltydperk, wat op 27 Maart begin het.

Die verklaring van ’n ramptoestand in reaksie op die Covid-19-pandemie het die regering bemagtig om die verkoop van alkohol te verbied. Terwyl die aanvanklike verbod nog van krag was, het Cele gesê as dit sy keuse was, sou alkohol permanent verbied word. – News24

Meer oor:  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.