Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 140: Só lyk die jongste SA syfers

Dit is dag 140 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is op vlak 3 met meer as 560 000 infeksies en meer as 11 000 sterftes.

So lyk Suid-Afrika se jongste syfers wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Donderdagaand laat bekend gemaak het:

Hier volg die jongste verwikkelinge:

13 Aug. 22:57:34

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 3 954 nuwe bevestigde infeksies aangemeld. Dit bring getal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika tot dusver op 572 865 te staan.

Daar is 'n verdere 260 sterftes wat die algehele sterftesyfer op 11 270 te staan bring.

13 Aug. 21:56:22

Byna 6% van Britte het Covid-19 onder lede

Byna 6% van die mense in Brittanje is waarskynlik tydens die piek van die Covid-19-pandemie in dié land met die koronavirus besmet.

Meer as 100 000 mense is daar in ’n studie vir teenliggaampies getoets, en daaruit blyk dat byna 6% die virus onder lede gehad het.

Dit dui daarop dat 3,4 miljoen mense die virus voor einde Junie opgedoen het.

Die resultate stem ooreen met ander opnames, soos dié wat deur die Office for National Statistics gedoen is, wat op hoër vlakke van Covid-19 in die gemeenskap dui as wat daaglikse statistieke van toetse gedurende die pandemie getoon het.

Lees meer
13 Aug. 21:49:19

WGO besweer vrese dat virus aan kos kan klou

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Donderdag vrese besweer dat die koronavirus aan verpakte voedsel kan kleef en het mense gerusgestel dat die virus nie die voedselketting binnedring nie.

Twee stede in China het gesê hulle het spore van die koronavirus op ingevoerde bevrore voedsel en op kosverpakkings gevind.

Dit het opnuut vrese laat ontstaan dat die versending van besmette verpakte voedsel tot nuwe uitbrekings kan lei.

“Mense moenie bang wees vir kos, kosverpakkings of die verwerking of aflewering van kos nie,” het Mike Ryan, ’n WGO-hoof van noodgevalle, Donderdag aan joernaliste by ’n inligtingsessie in Genève gesê.

Lees meer
13 Aug. 20:25:18

Covid-19-storm in Gauteng nog nie verby, sê premier

“Die Covid-19-storm in Gauteng is nog nie verby nie, maar dit het effens bedaar,” het David Makhura, Gautengse premier, Donderdag op die provinsie se weeklikse terugvoeringsessie oor Covid-19 gesê.

Volgens hom was Junie en Julie die ergste maande wat die aantal nuwe infeksies betref.

Hy het egter beklemtoon dat die herstelkoers in die provinsie goed lyk.

Teen Woensdag was die herstelkoers 78%.

Die getal bevestigde gevalle het op 194 685 gestaan, met 152 061 mense wat herstel het en 2 761 wat gesterf het.

Lees die volledige berig
13 Aug. 19:31:45

Oormaat-sterftes: Só daal die getalle

’n Skerp daling in die getal “oormaatsterftes” in die land in die eerste week van Augustus kan daarop dui dat die koronaviruspandemie moontlik reeds sy piek bereik het.

Dit het van 5 533 in die week tot 28 Julie tot 4 673 in die week tot 4 Augustus gedaal.

“Oormaatsterftes” dui op die getal sterftes meer is as wat normaalweg op grond van historiese data vir ’n sekere tydperk verwag kan word.

Luidens ’n verklaring van die MNR is hierdie inligting van “onskatbare waarde”.

Lees die volledige berig

Andrew Lloyd Webber laat hom inent

Die Britse komponis Andrew Lloyd Webber is haastig dat verhoë heropen.Hy is so ernstig daaroor dat hy Donderdag deelgeneem het aan die Oxford-Covid-19-entstof-proewe.

Hy skryf op Facebook by ’n foto waar hy ingeënt word, hy het pas deelgeneem aan die proewe.“

Ek sal enigiets doen om teaters, groot en klein, weer oop en akteurs en musikante terug by die werk te kry,” skryf hy.

13 Aug. 17:59:08

Daar is net vier dinge wat jy moet doen om jouself te beskerm...

Dit is die raad van een van Amerika se voorste pandemie-kenners, dr. Robert Redfield, hoof van die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming.

Hy sê Amerikaners moet:

1. 'n Masker dra;

2. 'n Veilige afstand van mekaar behou;

3. Hul hande was; en

4. Skares vermy.

Redfield het in 'n onderhoud gesê Amerikaners moet hulself staal vir 'n uiters moeilike herfs namate infeksies skerp styg.

Hy meen mense moet vroegtydig ook die griepentsof kry.

Lees die volledige onderhoud hier
13 Aug. 17:29:30

'n Dokter demonstreer hoe die speekseltoets werk wat deur 'n Israelse maatskappy vervaardig word en wat tans aan kliniese toetse onderwerp word. As die toets suksesvol is, sal speeksel gebruik kan word om in minder as 'n sekonde vas te stel of 'n pasiënt die koronavirus onder lede het of nie. Foto: Reuters

13 Aug. 16:16:21

Meer as 750 000 mense al deur C-19 geëis

Die jongste pandemiesyfers is pas deur die Johns Hopkins-Universiteit geverifieer en bekend gemaak.

Wêreldwyd is 750 371 mense al dood, waarvan die meeste sterfgevalle in Amerika aangeteken is (166 118), gevolg deur Brasilië (104 201) en Mexiko (54 666).

Die kumulatiewe infeksies oor die wêreld heen staan tans op 20 666 156.

Die getal mense wat gesterf het, het sedert 2 Junie verdubbel, terwyl 100 000 mense die afgelope 17 dae gesterf het, berig AFP.

13 Aug. 15:35:31

'n Militêre amptenaar ontsmet die gebied voor die Christus die Verlosser-standbeeld in Rio de Janeiro, Brasilië, voordat dié bekende baken vir besoekers heropen. Foto: Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.