Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 142: 4 513 nuwe gevalle van Covid-19; 121 nuwe sterftes

Dit is dag 142 van die nasionale staat van inperking.

Pres. Cyril Ramaphosa het die land om 20:00 toegespreek. Kyk hier na sy toespraak:

Suid-Afrika het 4 513 nuwe gevalle van Covid-19. Die totale aangemelde gevalle is nou 583 653. Die totale sterftesyfer staan nou op 11 667 met 121 nuwe sterftes. Van hierdie sterftes was 34 in KwaZulu-Natal, 26 in die Wes-Kaap, 21 in Gauteng, 18 in Limpopo, 17 in die Vrystaat en 5 in die Oos-Kaap.

So lyk Suid-Afrika se jongste syfers wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Saterdagaand laat bekend gemaak het:

Hier volg die jongste verwikkelinge:

15 Aug. 20:52:15

Vlak 2 in 'n neutedop: Wat jy nou moet weet oor nuwe regulasies

Twak en dop is weer te koop, dis al wat die meeste mense wil weet oor vlak 2 van die nasionale inperking wat Maandag om middernag (of dus Dinsdagoggend om 00:01) in werking tree.

Hier is nog 'n paar goed wat mense wou weet:

 

Drankverkope

Drankverkope by drankwinkels sal net van Maandae tot Donderdae van 09:00 tot 17:00 toegelaat word.

Drankverkope sal wel toegelaat word by restaurante of hotelle of ander plekke waar die drank op die perseel verbruik word, maar slegs tot en met 22:00.

Sigaretverkope

Die verkoop van tabakprodukte word weer toegelaat.

Interprovinsiale reise

Reise tussen provinsies word toegelaat, en hotelle, gastehuise en ander verblyfplekke sal toegelaat word om hiervoor voorsiening te maak.

Ekonomie

Die meeste ekonomiese bedrywighede word toegelaat binne die perke van die reëls vir sosiale afstand en ander gesondheidsreëls om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Sosiale kontak

Mense mag by vriende of familie kuier, maar dit moet soveel moontlik beperk word.

Sosiale byeenkomste moet steeds vermy word, en nie meer as 50 mense mag bymekaar kom by byvoorbeeld begrafnisse of kerkdienste nie.

Aandklokreël

Die aanklokreël bly geld van 22:00 tot 04:00.

Openbare ruimtes

Parke, strande en wildreservate maak weer oop.

Gimnasiums en gesondheidsklubs kan onder streng regulasies heropen.

15 Aug. 20:33:54

Ekonomie het nuwe lewe nodig

Dit sal baie lank duur voordat maatskappye en ondernemings ten volle herstel.

Ons het onlangs in Nedlac vergader en werk aan 'n dringende ekonomiese herstelplan met werkskepping wat sentraal daarin sal staan. Ons fokus ook op infrastruktuur en 'n aantal ander sektore in ons ekonomie. Ons sal binnekort meer daaroor aankondig.

Moeilike dae lê nog voor. Ons het egter die afgelope vyf maande ons veerkragtigheid as 'n nasie gewys.

Ons moet aan ons ekonomie bou met dieselfde energie as waarmee ons die virus beveg. Ons hou aan om sterk te staan teen hierdie erge aanslag.

Maar daar is 'n stukkie lig op die horison.

Ons moet nou baie versigtig wees en vasberade wees om die virus te oorkom.

15 Aug. 20:30:29

SA'ners sal op hoogte gehou word oor stappe teen korrupsie

Die pandemie het ook die ergste in ons samelewing uitgebring, soos diegene wat deur korrupsie wins wou maak uit die pandemie.

Ons neem beslissende optrede om dit te stop en die skuldiges aan die pen te laat ry.

Ons sal die publiek van ons vordering op hoogte hou.

Ons sal ook baie sterker optree teen die ander pandemie in ons land, naamlik geslagsgeweld.

15 Aug. 20:27:34

Nuwe stappe om virus op te spoor

Ons sal oor die volgende paar dae 'n kragtige nuwe instrument aankondig om moontlik besmette mense digitaal te kan opspoor.

Ons sal egter mense se anonimiteit in die proses beskerm.

Ons bedank ook die Wêreldgesondheidsorganisasie wat 43 deskundiges na Suid-Afrika gestuur het om ons hardwerkende gesondheidswerkers te help.

Ons moet aanhou om die risiko vir uitbrekings in hoogs kwesbare instellings soos ouetehuise te verklein. Ook in ons werkplekke, winkels en op openbare vervoer.

15 Aug. 20:23:53

Daar moet 'n nuwe normaal wees

Ons moet ons gedrag verander omdat die virus nog baie maande lank met ons sal wees.

Ek loof diegene wat reeds hul lewe verander het.

15 Aug. 20:22:21

Hierdie beperkings bly

Dit is egter nodig dat sommige beperkings moet bly, soos dié op internasionale vlugte.

Saamtrekke van meer as 50 mense sal steeds nie toegelaat word nie, ook vir begrafnisse.

Geen toeskouers sal by sportwedstryde toegelaat word nie.

Ons raai mense steeds aan om by die huis te bly as hulle kan, en van die huis af te werk indien moontlik, veral mense wat ouer as 60 is en onderliggende siektes het.

15 Aug. 20:20:40

PAS BEKEND: Beperking van 50 mense wat mag vergader bly in plek

15 Aug. 20:19:50

Drank so verkoop

Drank sal net in gelisensieerde drankplekke verkoop mag word, vir gebruik op die perseel tot 22:00.

Drank mag ook net van Maandae tot Donderdae verkoop word.

Besoeke aan families sal ook toegelaat word en voorsorgmaatreëls moet getref word om veral bejaardes te beskerm.

15 Aug. 20:19:24

PAS BEKEND: Jy mag weer by familie kuier, maar aandklokreël bly in plek

15 Aug. 20:16:38

PAS BEKEND: Sigarette en alkohol weer wettig

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.