Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 176: Jongste syfers in SA bekend gemaak

Dit is dag 176 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is op vlak 2 met meer as 655 572 kumulatiewe gevalle en byna 15 722 sterftes.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie, het meer inligting rondom die vlak 1-regulasies bekend gemaak. Kyk weer na die stroom hier:

Suid-Afrika skuif Sondagaand om middernag na vlak 1. 

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

18 Sep. 21:34:56

US help ook met toets van entstof teen virus

Die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van ’n groot internasionale proefneming wat een van die drie belowendste koronavirus-entstowwe toets.

Die entstof, bekend as ChAdOx1 nCoV-19, gebruik ’n verkouevirus (adenovirus) as draer van ’n onskadelike deel van die koronavirus om die immuunstelsel te stimuleer en teenliggaampies te vervaardig.

Deelnemers aan die proefneming kry óf ’n entstof óf ’n plasebo.

Nie eens die navorsers self weet wat aan wie toegedien word nie.

Die entstof is deur die Oxford-universiteit in Engeland ontwikkel en word tans in Suid-Afrika getoets, asook in Engeland en Brasilië.

Lees verder
18 Sep. 20:22:08

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 2 055 nuwe infeksies aangemeld wat die totaal op 657 627 te staan bring, het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydagaand bekend gemaak.  

Daar is in dieselfde tydperk 85 mense dood - die sterftesyfer in Suid-Afrika staan nou op 15 857.

18 Sep. 19:35:36

Tweede vlaag infeksies in VK, sê Boris

Boris Johnson, Britse premier, het Vrydag gesê "die begin van 'n tweede vlaag" van koronavirusinfeksies word nou in die Verenigde Koninkryk gesien.

Johnson het gesê dit was "onvermydelik" dat gevalle in die VK weer sou styg.

"Ek wil glad nie meer ingrypende inperkingsmaatreëls instel nie."

Hy het gesê 'n tweede algehele inperking is die "laaste ding" wat enigiemand wil hê, maar dat die huidige maatreëls hersien moet word.

"Wat ek wel kan sê, is dat ons skole wil oophou."

Dit kom nadat die regering se raadgewers gesê het dat die infeksies weer wydverspreid oor die VK voorkom en toeneem.

18 Sep. 18:13:31

Kaapstad se lughawe gereed vir toeriste

Kaapstad se internasionale lughawe is reg en gereed om toeriste te ontvang.

’n Besoek aan dié lughawe het Vrydag bewys die veiligheidsmaatreëls wat in plek is om die toename in toeriste te hanteer is van ’n hoë standaard en sal dit vir die lughawepersoneel maklik maak om veiligheidsmaatreëls na te kom.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het saam met James Vos, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede, die lughawe besoek.

Hulle het gesê die skuif na vlak 1 en die sekerheid dat die internasionale grense teen 1 Oktober weer oop sal wees, is ’n groot verligting vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf nadat die pandemie dié bedryf baie erg getref het.

Sedert Augustus, toe interprovinsiale reise toegelaat is, was daar ’n groot toename in besoekers na en van Kaapstad.

Plaaslike lugdienste soos Airlink, FlySafair en Mango het gesamentlik 314 plaaslike vlugte per week.

Dit is ’n 74%-toename teenoor die vorige maand.

Lees meer
18 Sep. 16:56:04

Brittanje se R-syfer styg weer

Brittanje se R-syfer word nou beraam tussen 1,1 en 1,4.

Verlede week was dit die eerste keer dat die syfer bo 1 gestyg het.

’n R-syfer is ’n aanduider van hoeveel mense uit ’n bevolking die virus onder lede sal kry van ’n enkele pasiënt.

’n R-syfer van 1,4 beteken dat vir elke 10 pasiënte, ’n verdere 14 die virus sal opdoen. ’n R-syfer bo 1 is ook kommerwekkend omdat dit beteken die virus is eksponensieel aan die versprei in ’n sekere bevolking.

Die moontlikheid dat ’n hernude inperking die Britte se voorland is, word nie uitgesluit nie.

18 Sep. 16:50:02

18 Sep. 16:38:53

18 Sep. 16:30:18

Kommer oor Europa se gesondheidsdienste

Die aantal hospitalisasies in verskeie Europese lande is ’n groot bron van kommer vir die WGO.

So sê dr. Maria van Kerkhove, epidemioloog van die WGO, op ’n nuuskonferensie.

Dit kom ’n dag nadat die WGO bekend gemaak het die vlaag van infeksies wat in Europa waargeneem word is kommerwekkend.

“Ons is bekommerd dat die reeds oorvol waaksale en hospitale nie die vraag na nog pasiënte sal kan hanteer nie omdat die griepseisoen ook binnekort begin.”

In Engeland verdubbel die opnames in hospitale elke agt dae en in Frankryk is waaksale reeds oorvol.

 

18 Sep. 16:14:49

18 Sep. 16:00:44

‘Derde vlaag tref Iran’

Amptenare in Iran beweer dat hul land in die greep is van ’n derde vlaag van die koronavirus, omdat die getal nuwe infeksies weer gestyg het tot meer as 3 000 per dag, berig The Guardian.

Iran was een van die eerste lande wat deur die virus buite China getref is.

Die virussiekte is vroeg in Mei effens onder beheer gebring, maar in Junie het ’n verdere styging plaasgevind, wat einde Augustus tot net onder 1 600 nuwe gevalle per dag gedaal het.

Die jongste syfers wat die gesondheidsdepartement Vrydag uitgereik het, het 144 sterftes in die afgelope 24 uur aangedui en die getal nuwe infeksies het tot 3 049 gestyg.

Die dodetal staan op 23 952.

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.