Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 189: 1 745 nuwe infeksies; 132 sterftes

Dit is dag 189 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is op vlak 1.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdagaand laat die jongste Covid-19-syfers bekend gemaak:

Hier volg die jongste verwikkelinge:

01 Okt. 22:07:43

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 1 745 nuwe bevestigde infeksies aangemeld, wat die totaal op 676 084 te staan bring.

In dieselfde tydperk was daar 132 sterftes; die sterftesyfer is nou 16 866.

Die herstelkoers is tans 90%.

01 Okt. 21:57:07

01 Okt. 21:13:03

Spanje perk hoofstad gedeeltelik in

Madrid gaan nou gedeeltelik ingeperk word omdat die koronavirus in die Spaanse hoofstad soos 'n veldbrand versprei, het die provinsiale regering aangekondig.

Die stadsvaders is egter woedend omdat dit beweeglikheid en byeenkomste in die stad aan bande sal lê.

Dit dek die tafel vir 'n politieke stryd wat in howe gevoer kan word.

"Die situasie in Madrid is ingewikkeld en kommerwekkend," het die minister van gesondheid, Salvador Illa, aan die media gesê. Sowat 44% van die 11 016 nuwe gevalle in die afgelope 24 uur in dié land kom in Madrid voor.

01 Okt. 19:53:39

01 Okt. 19:13:48

Aktiewe gevalle onder gevangenes, DKD-beamptes is 2,6%

Die aantal aktiewe koronavirusgevalle onder gevangenes en korrektiewe beamptes landwyd staan nou op 2,6%.

Volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) se jongste syfers is 115 hiervan gevangenes en 77 korrektiewe beamptes.

Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder van die DKD, sê van die 7 131 mense wat tot dusver positief getoets is, het 95% ten volle herstel en 125 is dood.

By die DKD se hoofkantoor in Tshwane is die herstelsyfer 100%, met geen sterftes en geen aktiewe gevalle nie.Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, het vandeesweek op ’n mediakonferensie gesê die departement is bekommerd oor ’n moontlike uitbreking van die virus by ’n korrektiewe sentrum in die Vrystaat.

Sy het dié uitlating gemaak terwyl sy terugvoer gegee het oor die reuse-uitbreking in Burgersdorp en Middelburg.

Volgens Gomba is interprovinsiale reise ’n bydraende faktor tot haar departement se bekommernis by die gevangenis in die Vrystaat. - Lynn Williams

Lees meer
01 Okt. 18:14:16

Wes-Kaap maak reg vir 'tweede golf van virus'

Daar is ’n groot risiko dat ’n tweede golf van die koronavirus die Wes-Kaap kan tref, maan die provinsiale regering.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag op premier Alan Winde se weeklikse digitale inligtingsessie gesê kundiges hou die internasionale ervaring dop om te sien watter faktore moontlik tot ’n tweede golf kan lei.

“Ons is op ’n gereedheidsgrondslag en berei ons voor asof ons ’n twee golf gaan kry. Enige toename in koronavirusgevalle in die provinsie word onmiddellik opgespoor en gehanteer om te verhoed dat ’n tweede golf ons tref.”

Cloete sê ’n taakspan, wat onder andere provinsiale spesialiste insluit, ondersoek nou sowat 100 lande. Hy sê internasionaal is daar tot dusver 60 lande wat ’n tweede golf beleef het.

"Die taakspan ontleed alle faktore wat die drywers van ’n tweede golf beïnvloed. Ons neem die faktore in ag en vergelyk dit met ons eie konteks.

“Ons is versigtig, maar ons wil liewer oorversigtig wees as om oorgerus te wees.” - Warda Meyer

01 Okt. 16:40:54

Pandemie lei tot meer kinderhuwelike

'n Piek in die aantal wêreldwye kinderhuwelike kan die werk van die afgelope 25 jaar om dié praktyk te beëindig ongedaan maak.

Volgens die organisasie Save the Children bring die koronaviruspandemie meer armoede teweeg, wat meisies uit die skole dwing om te gaan werk of te trou. Dus loop 2,5 miljoen méér meisies die risiko om voortydig teen 2025 getroud te wees. Dit is veral meisies in dele van Suid-Asië, Afrika en Latyns-Amerika wat die kwesbaarste is.

Karen Flanagan van Save the Children sê dié huwelike is 'n skending van die meisies se menseregte en stel hulle bloot aan 'n groter risiko vir depressie, lewenslange geweld, gestremdhede en selfs die dood.

Lees die hele berig hier.

01 Okt. 15:33:02

Tienduisende Amerikaanse lugdienspersoneel verloor hul werk

Tienduisende werkers van Amerikaanse lugrederye sal sonder salarisse sit as die regering nie baie gou sy hulppakkette aan hierdie sukkelende ondernemings hernu nie.

Tot 50 000 werknemers, onder wie kajuitbeamptes, vlieëniers, toonbank- en ander personeel, word geraak. Die regering het egter nie Woensdag dié hulpverlening aan die bedryf verleng nie.

American Airlines se uitvoerende hoof, Doug Parker, het Woensdag gesê daar sal Donderdag voortgegaan word om 19 000 mense af te lê, maar dit sal omgekeer word indien 'n ooreenkoms met die regering bereik word.

"Ons begin môre met die moeilike proses om ons hardwerkende en toegewyde kollegas af te lê," het hy in 'n e-pos aan die werknemers geskryf.

"Ek is baie jammer daaroor. Julle verdien dit nie."

United Airlines het ook bevestig dat hy duisende poste gaan sny. In 'n brief aan werknemers skryf dié redery dat sowat 13 000 poste geraak sal word.

Pres. Donald Trump het in Maart 'n ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan bykans 75% van die lugrederye se salarisrekening deur die staat betaal word. Dié ooreenkoms het ook gestipuleer dat die lugrederye niemand voor 1 Oktober mag afdank nie. Dié ooreenkoms het Woensdagaand verstryk.

Lees die volledige berig hier.
Meer oor:  Staatskaping  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.