Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 211: Jongste syfers: Byna 1 900 nuwe infeksies

Dit is dag 211 van die nasionale staat van inperking weens die Covid-pandemie. 

Hier is die jongste verwikkelinge:

23 Okt. 21:59:52

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 1 897 nuwe infeksies aangemeld, wat die totaal in Suid-Afrika op 712 412 te staan bring.

In dieselfde tyd is 48 sterftes aangeteken - die sterftesyfer is tans 18 891.

23 Okt. 21:22:54

Wêreld nou by kruispad oor koronavirus – WGO-hoof

Die wêreld is nou by ’n “deurslaggewende kruispad” ten opsigte van die koronaviruspandemie en sommige lande is op ’n gevaarlike trajek wat hul gesondheidsdienste kan laat ineenstort.

So het Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Vrydag gewaarsku. Veral lande in die Noordelike Halfrond is by ’n kruispad, het hy gesê.

“Die volgende paar maande gaan moeilik wees en sommige lande is op ’n gevaarlike trajek.”

Leiers moet dadelik optree om verdere onnodige sterftes te verhoed en te sorg dat noodsaaklike dienste nie ineenstort nie en skole oop bly.

“Ek het dit in Februarie gesê en ek herhaal: Dié is nie ’n oefenlopie nie.”

23 Okt. 19:09:05

Sakekamer bekommerd oor Covid-19 in PE

Die Nelson Mandelabaai-sakekamer is baie bekommerd oor die feit dat die getal mense in dié stad wat positief vir die koronavirus getoets is, in die laaste week verdubbel het.

Dr. Andrew Muir, president van die sakekamer, sê al hoe meer mense word in hospitale opgeneem, veral in private hospitale. Muir, wat ook deel is van die metro se Covid-19-taakspan, sê die syfers beweeg in die verkeerde rigting.

“Sakeondernemings moet besef wat aangaan en seker maak hulle is paraat en voldoen aan die voorgeskrewe regulasies.

”Die sakekamer het in die laaste ruk agtergekom sekere ondernemings laat slaplê as dit kom by die toepassing van die regulasies.

“Die regering kan nie die skuld kry as strenger regulasies weer ingestel moet word nie. Ons doen nie wat ons moet doen nie.

“Ondernemings moet alles in hul vermoë doen om die verspreiding van die virus te keer sodat ekonomiese aktiwiteite kan voortgaan op vlak 1,” sê Muir.

Die sakekamer het die voortou geneem in die geveg teen Covid-19 in die metro.

Die opknapping van die Livingstone- en die Provinsiale hospitaal, die oprigting van ’n veldhospitaal, skenkings van toerusting en beskermende drag aan gesondheidswerkers, en die stoor van kritieke mediese voorraad vir hospitale, is van die hulp wat gebied is.

Volgens die jongste syfers wat Donderdagaand aangekondig is, is 92 936 mense tot dusver positief getoets in die Oos-Kaap. Van hulle het 87 746 herstel en 3 513 mense is dood aan die virussiekte.

23 Okt. 16:58:14

Kommer oor stygings in Amerika

Verskeie Amerikaanse deelstate, waarvan baie in die Midweste, het Donderdag die grootste infeksie-styging in ‘n dag aangemeld.

Dit is ‘n verdere bewys dat die Covid-19-pandemie weer spoed optel met kouer weer wat oor baie dele van die land ondervind word.

Indiana, Illinois, Montana, Oklahoma, Utah en Ohio het almal rekordgetalle op een dag aangemeld.In Florida is 5 000 nuwe infeksies aangeteken.

In 28 deelstate is die rekords vir ‘n enkele dag van Covid-19-gevalle in Oktober aangemeld.

Die aantal sterftes landwyd aan Covid-19 was Woensdag die hoogste in twee maande.

Meer as 222 000 mense in Amerika is al dood aan die koronavirussiekte. - Reuters

23 Okt. 15:17:17

Kommer in Europa oor min mediese personeel

Hospitale kry swaar in Europa wat die fokuspunt is van die tweede vlaag van die koronavirus.

Die grootste vrees dié keer is nie die gebrek aan ventilators of beskermde toerusting in hospitale nie, maar die tekort aan opgeleide mediese personeel.

Die probleem is die grootste in die Tsjeggiese Republiek en België, maar selfs in lande soos Duitsland waar die persepsie is dat die krisis goed gehanteer word, neem die vrees toe dat mediese personeel oorweldig kan word deur die eksponensiële styging in infeksies.

Meer as vyf miljoen Europeërs is tot dusver geïnfekteer en meer as 200 000 is dood.

Duitsland en die Tsjeggiese Republiek het Donderdag ‘n rekordaantal nuwe infeksies bevestig, ‘n dag nadat die meeste infeksies in ‘n dag in Italië aangemeld is. In Spanje is meer as ‘n miljoen mense al geïnfekteer. - Bloomberg

23 Okt. 14:48:11

Tekort aan Pneumovax 23

Die infeksiekoers vir die koronavirus styg skerp, maar daar is nou ook ‘n tekort aan entstof vir nóg ‘n longvirussiekte - bakteriële longontsteking - in dele van Europa omdat mense toustaan om daarteen ingeënt te word.

Die aanvraag na Pneumovax 23 het rekordhoogtes wêreldwyd bereik, sê die vervaardiger, Merck. Dié entstof voorkom sekere longinfeksies.

Meer mense as voorheen word as voorsorgmaatreël daarmee ingespuit.

Intussen is meer as 40 maatskappye besig om navorsing en toetse te doen oor ‘n entstof vir die koronavirussiekte, maar niks daarvan is nog in Westerse lande goedgekeur vir gebruik nie. - Reuters

23 Okt. 14:22:09

Tweederdes van Frankryk ingeperk

Die Franse regering gaan hernude inperkingsmaatreëls op twee derdes van die land se 46 miljoen mense instel.

Dit kom ná 41 622 nuwe koronavirusinfeksies op een dag.

Die inperkingsregulasies begin Vrydagaand en sal vir ses weke geldig wees.

Frankryk het reeds meer as een miljoen gevalle aangemeld.

'n Stil straat in Montmartre in Frankryk kort voordat die aandklokreël in werking tree. Foto: Reuters

23 Okt. 13:06:44

Dansers van Northern Ballet dra maskers tydens 'n oefenklas voor die eerste verhoogoptrede in meer as sewe maande in Leeds in Engeland. Die optrede Woensdagaand was waarskynlik die eerste sedert inperkingsmaatreëls ingestel is in die land. Foto: AP

Understanding the impact of COVID-19 on South Africa’s tourism industry The Tourism Industry Survey in South Africa:...

Posted by Department of Tourism on Friday, 23 October 2020
Meer oor:  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.