Johnson vra vir kalmte te midde betogings
Die Britse premier, Boris Johnson, het Donderdagaand aan Britse landsburgers die versekering gegee dat die nuwe vier weke lange inperking, wat tans van krag is in die land, ’n groot impak sal hê in die stryd om die verspreiding van Covid-19 te beperk.
Johnson het op ’n nuuskonferensie gesê hy verstaan die mense se frustrasies, maar het gevra dat hulle asseblief by die inperkingsmaatreëls moet hou.
“Ons land sal saam deur hierdie krisis kom,” het hy gesê.
Betogings teen die inperking het Donderdag in Londen voortgeduur.
“Die byeenkomste is onwettig en plaas ander in gevaar. Ons vra mense om huis toe te gaan,” het 'n polisiewoordvoerder gesê.
Minstens 104 mense is reeds gedurende die betogings in hegtenis geneem.
Brittanje het meer as 1,2 miljoen bevestigde gevalle van die koronavirus. Die dodetal is 48 000. – BBC.
Boris Johnson beantwoord vrae op Donderdagaand se nuuskonferensie in London. Foto: Reuters