Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 240: Meer as 2 600 nuwe infeksies in SA

Dit is dag 240 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is op vlak 1 met meer as 750 000 kumulatiewe gevalle en meer as 20 600 sterftes.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

21 Nov. 21:52:50

Nog 86 sterf in SA aan Covid-19

Volgens die jongste syfers is 2 646 nuwe infeksies van die koronavirus in Suid-Afrika aangemeld. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê 86 sterftes is sedert die laaste verslag aangemeld. Die meeste (58) was in die Oos-Kaap. In die Vrystaat is 17 mense dood, in die Wes-Kaap nege en in KwaZulu-Natal twee. Sedert die uitbreking in Maart is altesame 765 409 infeksies reeds in Suid-Afrika aangemeld. Altesame 707 784 mense het van die siekte herstel. Dit verteenwoordig volgens Mkhize ’n herstelkoers van 92,5%. Daar is tans 36 780 aktiewe gevalle in die land, het Mkhize gesê.

21 Nov. 18:12:52

EU raap entstof op

Die EU sal meer as $10 miljard betaal om 425 miljoen dosisse van die entstof van Pfizer en BioNTech te bekom, berig Reuters. Die blok het ingestem om €15,50 (R280) per dosis te betaal.

21 Nov. 17:50:01

Trump Jnr. positief vir Covid-19

Donald Trump Jnr., seun van pres. Donald Trump, is positief getoets vir Covid-19. Volgens sy woordvoerder toon hy egter geen simptome nie en hy is “in kwarantyn by sy huis sedert hy die uitslag aan die begin van die week gekry het”. Andrew Giuliani, seun van Rudy Giuliani, pres. Trump se prokureur, is Vrydag ook positief getoets vir die koronavirus. Die president, sy vrou, Melania, en hul seun, Barron (14), het in Oktober al drie Covid-19 opgedoen.

21 Nov. 14:57:21

Kurwe plat af by Britte

Daar is tekens dat die kurwe in Brittanje begin platter word danksy die inperking, het Matt Hancock, sy gesondheidsminister, gesê.

Dit het die hoop laat opvlam vir ’n normale Kerstyd met minder streng inperkings.

“Dit sal natuurlik nie soos ’n normale Kersfees wees nie – daar moet reëls geld – maar ons hoop dat dit ’n bietjie meer van ’n normale Kersfees moontlik sal maak waarna mense regtig uitsien,” het hy aan SkyNews gesê.

21 Nov. 13:59:48

21 Nov. 13:58:24

21 Nov. 13:01:18

WGO dien Trump se alheilmiddel finaal nekslag toe

Gilead Sciences se geneesmiddel remdesivir word nie aanbeveel vir pasiënte wat met Covid-19 gehospitaliseer word nie, ongeag hoe siek hulle is.

Dit is omdat daar geen bewyse is dat dit die oorlewingskoers verbeter of die behoefte aan ventilasie verminder nie, het ’n paneel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gesê.

Die bevinding  van die paneel is nog ’n terugslag vir die firma, wat vanjaar wêreldwyd aandag getrek het met remdesivir as ’n potensieel doeltreffende behandeling nadat vroeë proewe belowend was.

Pres. Donald Trump van Amerika het dit as ’n alheilmiddel bestempel.

Aan die einde van Oktober het Gilead sy inkomste-teikens vir 2020 verlaag.

Die antivirale middel is een van net twee medisyne ter wêreld wat tans goedgekeur is vir die behandeling van Covid-19-pasiënte op ’n noodgrondslag, maar ’n groot WGO-geleide kliniese studie, bekend as die Solidariteitstudie, het getoon dat dit min of geen uitwerking het op die sterftesyfers of die duur van die hospitaalverblyf vir pasiënte nie.

Gilead het die uitslae van die Solidariteitstudie bevraagteken.

21 Nov. 10:58:39

Europa steek die 15 miljoen-merk verby

Die aantal Covid-19-gevalle in Europa het Vrydag die 15 miljoen-merk verbygesteek.

’n Reuters-ontleding dui daarop dat minstens 15 046 656 gevalle in Europa aangemeld is. Sowat 344 401 mense het reeds gesterf.

Frankryk het Rusland verbygesteek as die land wat ná die Verenigde State, Indië en Brasilië die ergste deur die pandemie geraak word.

Volgens Reuters maak Frankryk en Rusland nou ongeveer 27% van die totale gevalle in Europa uit. Oos-Europa maak ongeveer ’n derde van die totale gevalle in Europa uit en 24% van die sterftes is in die streek aangemeld.

Tsjeggië, Pole, Rusland en Oekraïne is van die lande wat die hardste deur die virus getref is. In Rusland word daagliks gemiddeld meer as 22 434 gevalle aangemeld.

Sommige hospitale in die land ondervind ernstige tekorte aan medisyne wat gebruik word om Covid-19-pasiënte te behandel en kan weens paniekaankope en probleme met ’n nuwe etiket-stelsel nie voorraad kry nie.

In skerp kontras met elders in Europa bestaan die moontlikheid dat streng inperkings in Brittanje weens ’n afname in die infeksiekoers opgehef kan word om gesinne weer toe te laat om vir Kersfees by mekaar te kuier. –Reuters

21 Nov. 09:37:27

3 105 nuwe gevalle in SA

Sedert die laaste koronavirussyfers bekend gemaak is, is 3 105 nuwe bevestigde gevalle aangemeld. Die totaal in Suid-Afrika staan nou op 762 763.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê dit is die eerste keer sedert 21 Augustus dat meer as 3 000 nuwe infeksies aangemeld is.

"Dit is kommerwekkend omdat dit die tweede keer dié week is dat dit die nasionale koers van positiewe gevalle op 12% te staan bring. Ideaal gesproke moet die koers 10% of minder wees, soos ons sedert September reggekry het," het Mkhize gesê.

Daar was in dieselfde tyd 88 sterftes, wat die totale sterftessyfer tot 20 759 verhoog het.

21 Nov. 08:48:07

Mkhize bekommerd oor stygings

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is bekommerd oor die toename van koronavirusgevalle in die Oos- en Wes-Kaap, het dr. Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

"Ja, ons is bekommerd, maar ons is ook tevrede op hierdie stadium dat daar genoeg hulpbronne is om seker te maak pasiënte kan tussen geriewe vervoer word wanneer van die geriewe te vol is."

Sy sê terwyl die wêreld vir 'n entstof wag, moet mense steeds die maatreëls toepas. Die minister sê dit is elkeen se verantwoordelikheid, asook eienaars van winkels of restaurante om seker te maak alles bly onder beheer.

"Dit is belangrik dat die feestyd ook in hierdie konteks gevier moet word: klein groepe, sosiale distansiëring moet gehandhaaf word, mense moet maskers dra, saniteer en die aandklokreël respekteer."

Sy sê verskeie bedrywe sal besoek word om seker te maak hulle voldoen aan die maatreëls. Diegene wat nie die maatreëls volg nie, sal ingevolge die reëls van die Rampbestuurswet vasgevat word.

"Onthou ook dat die besluit om vlakke van inperkings af te dwing, nie by ons in die departement van gesondheid lê nie. Dit is die kabinet se besluit," het sy gesê nadat Netwerk24 wou weet of die Oos-Kaap en Wes-Kaap moontlik ingeperk kan word.

Die Oos-Kaap en die Wes-Kaap teken die afgelope tyd die meeste nuwe koronavirusgevalle aan. Die Oos-Kaap het nou die meeste aktiewe gevalle in die land, terwyl die Wes-Kaap die derde meeste gevalle het.

Die Oos-Kaap het gister 1 121 nuwe koronavirusgevalle aangeteken, terwyl die Wes-Kaap 745 nuwe gevalle aangemeld het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.