Maatreëls moontlik tot in Januarie verleng
Inperkingsmaatreëls in Duitsland sal heel moontlik tot in Januarie verleng word, wanneer daar ook besluit sal word watter maatreëls opgehef kan word.
Angela Merkel, Duitse bondskanselier, het saam met die leiers van Duitsland se 16 federale state gestem om maatreëls in die land te verleng en strenger te maak.
Die maatreëls geld tot minstens 20 Desember en sal heel moontlik tot Januarie verleng word.Armin Laschet, leier van Noordryn-Wesfale, die digsbevolkte staat in Duitsland, het in ’n onderhoud met Deutschlandfunk-radio gesê maatreëls sal in Januarie hersien word.
Volgens data van die Robert Koch-instituut vir aansteeklike siektes is daar teen Sondag sowat 1 000 minder gevalle van die koronavirus in die land aangemeld as ’n week vantevore.
Hoewel 14 611 nuwe gevalle die afgelope naweek aangemeld is, is die aanmeld van gevalle gewoonlik laer oor naweke omdat minder toetse dan gedoen word. – Reuters