Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: 'Rykes kan armes nie vertrap oor entstof'
measures, Covid

Suid-Afrika is op vlak 1 van die nasionale staat van inperking weens die koronavirus-pandemie. 

  • Pres. Cyril Ramaphosa het die Oos-Kaap as 'n brandpunt verklaar, dus geld daar strenger inperkings as in die res van die land wat drankverkope en saamtrekke betref. 'n Aandklokreël van 22:00 tot 04:00 geld ook in die provinsie. LEES OOK: Kersfees op vlak 1? 10 dinge wat jy moet weet
3 Desember

04 Des. 22:21:45

'Rykes kan nie armes vertrap in stormloop na entstof'

Die Verenigde Nasies (VN) waarsku dat die wêreld in 2021 op ’n humanitêre katastrofe afstuur sou ryk lande in ’n “stormloop vir entstowwe” arm lande vertrap.

Die 193 lede van die VN se algemene vergadering is ingelig dat die aantal mense wat hulp benodig, met 40% gestyg het weens die Covid-19-pandemie. Die organisasie het ’n versoek gerig vir hulpverlening van $35 miljard.

“2021 gaan katastrofies wees op grond van wat ons in hierdie stadium sien,” het David Beasley, hoof van die VN se Wêreldvoedselprogram, gesê.

"Die VN sal nie alles kan finansier nie en hongersnood bedreig talle lande. Daarom moet ons prioritiseer.”

Die sekretaris-generaal, Antonio Guterres, en sy topamptenare het gevra dat entstowwe aan almal beskikbaar gestel word en dat ryk lande ontwikkelende lande help om die pandemie te bestry en daarvan te herstel.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gevra dat $4,3 miljard onmiddellik in ’n wêreldprogram vir die verspreiding van entstowwe gestort word.

“Ons kan eenvoudig nie ’n wêreld aanvaar waarin armes en gemarginaliseerdes vertrap word deur rykes en magtiges in die stormloop vir entstowwe nie,” het Tedros aan die vergadering gesê.

“Dit is ’n wêreldwye krisis en die oplossings moet regverdig versprei word.” - Reuters

04 Des. 22:18:24

Einde van pandemie nog lank nie in sig - WGO

Die vordering wat gemaak is om entstowwe vir Covid-19 te ontwikkel is beslis positief, maar die Wêreldgesondheidsorganisasie is bekommerd dat dit lei tot die persepsie dat dit die einde van die pandemie beteken.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het Vrydag gesê dat dit nog lank nie die einde van die pad van die pandemie is nie en dat die besluite wat individue asook regerings neem die onmiddellike toekoms én die uiteindelike einde van die pandemie sal bepaal.

"Die vordering wat gemaak is het ons almal laat beter voel en lig in die tonnel laat sien. Die WGO is egter bekommerd dat mense begin dink die pandemie is verby."

04 Des. 20:32:58

Sterftes neem skerp toe in Griekeland

Talle grafte word in die Noord-Griekse stad Thessaloniki gegrawe te midde van ’n skerp toename in die aantal Covid-19-sterftes.

Griekeland het ’n tweede landwye inperking ingestel na ’n toename in Covid-19-gevalle. Teen Donderdag het die land 111 537 gevalle en 2 706 sterftes aangeteken.

Thessaloniki, ’n stad met ongeveer een miljoen inwoners waar die virus die eerste keer in Februarie opgeduik het, gaan nou swaar gebuk onder ’n tweede vlaag van die virus.

“Ons het nie baie gevalle tydens die eerste inperking teëgekom nie. Daar was baie minder gevalle en dit was nie elke dag nie. Nou is dit daagliks,” sê Stavros Chatzivaritis, ’n plaaslike begrafnisondernemer. Volgens hom word daar elke dag tussen vyf en agt begrafnisse gehou.

Daar is heelwat vars grafte in die Heropstanding-begraafplaas in Thessaloniki.

Die stilte in die begraafplaas word net dan en wan versteur deur die sagte dreunsang van ’n Ortodokse priester.

Daar is blomme, maar rouklaers word tot die minimum beperk en op ’n afstand van die grafte gehou.Op ’n krans by een van die grafte is geskryf: “Aan my beminde.” - Reuters

04 Des. 20:26:36

Dra maskers vir dié eerste honderd dae - Biden

Joe Biden, aangewese Amerikaanse president, gaan vra dat sy landgenote maskers dra vir sy eerste honderd dae in die Withuis in 'n poging om die koronavirussiekte te stuit.

Hy het aan CNN gesê daar sal 'n "merkbare afname" in Covid-19-gevalle wees indien Amerikaners maskers dra.

Biden gaan ook beveel dat maskers in alle regeringsgeboue verpligtend is.

Amerika het al 14,1 miljoen infeksies aangeteken en die sterftesyfer staan op 276 000.

 

04 Des. 18:10:10

Kaapstad Toerisme verwag goeie feestyd

Kaapstad Toerisme is bekommerd oor die koronavirusinfeksies wat die afgelope paar weke so vinnig gestyg het terwyl die bedryf nog besig is om te herstel sedert die opheffing van die internasionale reisverbod.

Die gevolg is dat strenger maatreëls ingestel kan word wat die reeds sukkelende toerismebedryf verder kan knak, sê Enver Duminy, uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme.

“Hoewel projeksies vir die komende weke onlangs baie beter gelyk het, is dit nie naastenby waar dit verlede jaar was nie en vir baie is dit nie genoeg om hul deure tot volgende jaar oop te hou nie. Talle ondernemings moes reeds hul deure sluit.

“Ons verwag ’n veel groter vraag na binnelandse toerisme vanjaar en is hoopvol dat ons nuwe binnelandse veldtog, Pocket-Friendly Challenge, die aandag van moontlike besoekers sal lok en hulle sal aanmoedig om Kaapstad as hul vakansiebestemming te kies, maar ook plaaslike inwoners aan te moedig om hul stad te verken.” Om die toerismebedryf ’n hupstoot te gee, het Kaapstad veldtogte begin om meer vakansiegangers te lok.

Lees meer
04 Des. 17:29:44

Strenger maatreëls in NMB verwelkom

Hy verwelkom die strenger maatreëls oor Covid-19 in die Nelson Mandelabaai-metro wat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aangekondig het, sê Tshonono Buyeye, burgemeester.

Hy het Vrydag gesê van die maatreëls is voorstelle wat deur afgevaardigdes van die metro gemaak is. Hy is veral tevrede met die instelling van verkorte ure vir kuierplekke en die aangepaste aandklokreël. Dit is nou van 22:00 tot 04:00 en sal streng dopgehou word deur wetstoepassers in die metro.

Net mense wat ’n noodsaaklike diens lewer, mag buite hul huise wees in dié tyd of as daar ’n noodgeval is

Lees meer
04 Des. 16:20:09

Maatreëls in Tuinroete sal aandag kry

Aanbevelings oor nog moontlike Covid-19-maatreëls in die Tuinroete wat verband hou met kwessies soos die verkope van drank, strande, swembaddens en superverspreider-byeenkomste, gaan aandag kry.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydagmiddag by die Harry Comay-hospitaal in George gesê.

Mkhize het die Tuinroete besoek as deel van 'n assessering omdat die gebied tans 'n oplewing in koronavirus-gevalle ervaar. Hy is vergesel van Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR van gesondheid, en het vroegoggend met burgemeesters vergader by die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Hy het ook die George-hospitaal besoek.Volgens hom is daar vrese dat die gevalle verder kan styg oor die vakansie.

"Mense kan nie gekeer word om die Tuinroete te besoek nie," het hy gesê.

"Maar hulle moet besef dit is onder buitengewone omstandighede en moet daarvolgens optree."

Volgens Mkhize is die lading hoog, maar is hy tevrede dat die gesondheidspersoneel ervare is om dit te kan hanteer.Hy het gesê die styging in gevalle het hulle verbaas en onkant gevang.

Volgens hom is die Tuinroete 'n toerismebestemming en is toerisme belangrik. Baie mense beweeg ook tussen die Oos- en Wes-Kaap. Die twee provinsies se premiers sal moet koppe bymekaarsit oor die beweging van mense.

Hy het ook gesê die siekte gaan nie in hospitale verslaan word nie, maar in gemeenskappe waar mense verantwoordelik optree en leiers 'n voorbeeld stel.

Van die kwessies wat onder sy aandag gebring is, is dat hospitaalpersoneel onder meer druk is weens alkoholverwante voorvalle en motorongelukke. Oor die aanbevelings wat gedoen is, het hy gesê 'n proses word gevolg (soos Vrydag se besoek wat deel van die assessering is) alvorens enige besluite geneem kan word.

Volgens hom sal toerusting soos ventilators van veldhospitale wat nie meer in gebruik is nie, versprei word na waar die nood is.

04 Des. 15:37:46

52 personeellede in George-hospitaal toets positief

Die Wes-Kaapse regering sê die hospitale in die Tuinroete verkeer onder erge druk nadat die koronavirusgevalle in dié gebied toegeneem het.

Daar is tans 67 mense in die George-hospitaal wat vir Covid-19 behandel word, terwyl 22 in die waakeenheid is. Altesaam 52 van die personeellede is intussen positief vir die virussiekte getoets.

"Die hospitaal is onder erge druk en ons probeer so vinnig as moontlik nog plek vir soveel as moontlik pasiënte maak. Ons het reeds drie ekstra sale ingespan waar ons Covid-19-pasiënte kan behandel, terwyl ons ook probeer verseker daar is genoeg plek om traumapasiënte te behandel," het Michael Vonk, uitvoerende hoof van die George-hospitaal, gesê.

04 Des. 15:22:05

04 Des. 15:21:48

Meer oor:  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.