Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Nóg 712 sterftes; 18 503 nuwe gevalle

Dit is dag 294 van die nasionale ramptoestand wat weens die koronavirus-pandemie ingestel is. Suid-Afrika is op vlak 3 met meer as 1,2 miljoen infeksies en meer as 35 000 sterftes.

Die jongste syfers wat Donderdagaand laat bekend gemaak is:

IN 'N NEUTEDOP:

• Die Afrika Unie (AU) het voorlopig 270 miljoen dosisse van Covid-19-entstowwe verkry vir Afrikalande. Minstens 50 miljoen daarvan sal beskikbaar wees vir die “deurslaggewende tydperk van April tot Junie 2021.”

• Die Mediclinic-hospitaalgroep sê wanneer ’n hospitaal vol is, sal ambulanse ’n paar uur lank herlei word na ander hospitale waar daar wel plek is. Dié protokol word gevolg wanneer hospitale nie nog pasiënte in hul waak- en hoësorgeenhede kan inneem nie.

• Die A tot Z van Suid-Afrika se entstowwe. 

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

14 Jan. 23:04:43

Jongste syfers

Daar is 18 503 nuwe bevestigde gevalle sedert die laaste syfers bekend gemaak is. Die totale infeksies staan tans op 1 296 806.

In dieselfde tydperk was daar nog 712 sterftes, wat die sterftesyfer op 35 852 te staan bring.

Altesame 1 049 740 mense het al herstel.

14 Jan. 22:57:07

14 Jan. 21:53:12

Gauteng nou in 'gevaarlike fase' 

Data toon Gauteng is nou in ’n gevaarlike fase van virusinfeksies.So het dr. Ridhwaan Suliman, senior navorser by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), Donderdag gesê.

Suliman sê hospitalisasies het vandeesweek met 20% toegeneem, vergeleke met die vorige week, terwyl die gemiddelde getal nuwe gevalle oor die afgelope week 5 100 was.

“Die risiko is hoog. Ons moet daarvan bewus wees.”

Suliman sê die situasie in Gauteng sal egter weer stabiliseer.Covid-19 het die afgelope twee weke die lewe van nog 1 057 Gautengers geëis.

Twee weke gelede, op 31 Desember, het die getal sterftes op 5 549 gestaan, die getal kumulatiewe gevalle op 287 018 en 253 070 mense wat reeds herstel het.

Lees meer
14 Jan. 20:45:26

Suurstof van ander provinsies vir Wes-Kaap aangery

Vragte mediese suurstof vir Wes-Kaapse hospitale is in die afgelope week aangery nadat die aanvraag die produksiekapasiteit van die verskaffer oorskry het.

Die provinsiale regering en die verskaffer Afrox het Donderdag egter benadruk dat daar nie ’n tekort aan suurstof vir mediese doeleindes is nie en gebeurlikheidsplanne ingestel is.

Alan Winde, premier, het die middag in ’n verklaring gesê die gesamentlike suurstofgebruik van private en staatshospitale het die afgelope week op rondom 73 ton per dag gestaan.

Afrox se produksie in die provinsie is egter tot 70 ton per dag beperk en bykomende voorraad moes van ander provinsies verkry word.Winde sê die provinsiale regering werk ten nouste saam met Afrox en het vyf tenkwaens verkry om daagliks suurstof aan hospitale af te lewer.

“Ons gaan voort om die gebruik van suurstof noukeurig dop te hou, met die gebruik van ’n interne paneelbord wat spesifiek daarvoor ontwerp is.

”Geriewe wat nie ’n grootmaat-suurstofvoorraad het nie, kan dié paneelbord gebruik om te skat hoeveel en watter grootte gassilinders hulle benodig, luidens die verklaring.

Lees meer
14 Jan. 20:11:36

14 Jan. 19:45:24

Skukuza-kamp, -lughawe sluit tot einde Januarie

Vlugte na en van die Skukuza-lughawe in die Krugerwildtuin is Donderdag tydelik gestaak nadat die aantal koronavirus-gevalle in die Skukuza-gebied en ander nabygeleë kampe skerp gestyg het.

Rodger Foster, besturende direkteur en uitvoerende hoof van Airlink, die operateur, skryf in ’n verklaring ten einde hul klante, spanlede en personeel van blootstelling aan die virus te beskerm, het hulle besluit om alle dienste by die Skukuza-lughawe tot 28 Januarie op te skort.

Lees die volledige berig hier.
14 Jan. 19:44:19

Hospitale, munisipaliteite het hande vol in 2de vlaag

Terwyl hospitale onder ’n tweede vlaag van koronavirusinfeksies steier, sukkel munisipaliteite om die groot aantal sterftes te hanteer.

Die vlaag word gedryf deur die nuwe variant 501.V2 wat vermoedelik vinniger versprei en verskeie mutasies bevat en waaroor belangrike navorsing ingewag word.

Lees die volledige berig hier.
14 Jan. 19:40:06

Wêreldwye Covid-19-nuus in 'n neutedop:

• Rusland beplan om aanstaande maand goedkeuring by die Europese Unie te kry vir die gebruik van sy Spoetnik V-entstof teen die koronavirus.

• Die Serum-instituut in Indië verwag om binnekort noodgoedkeuring te kry vir die gebruik van die Oxford-Universiteit/AstraZeneca-entstof.

• Duitsland wil so vinnig moontlik probeer om geenkodering te bespoedig om die mutasie van die koronavirus makliker na te spoor.

• Diegene wat 'n groter kans op blootstelling het aan die koronavirus sal moontlik ingesluit word by die tweede ronde van inentings in Brittanje, het Boris Johnson, premier, gesê.

• Inwoners in Indië sal nie 'n keuse hê of hulle met 'n plaaslik vervaardigde of internasionale entstof ingeënt sal word nie.

• Die Pfizer-entstof is deur die Filippynse gesondheidsreguleerder goedgekeur vir gebruik op die eilandgroep.

• Mense wat reeds van die koronavirus herstel het, kan in alle waarskynlikheid vir tot vyf maande immuun teen die virus wees, hoewel daar bewyse is dat diegene met teenliggaampies steeds die virus kan versprei.

• Die Afrika Unie het 270 miljoen dosisse entstof bekom vir die vasteland. Sowat 30 000 mense word per dag op die vasteland met die koronavirus besmet. - Reuters

14 Jan. 18:43:23

14 Jan. 18:42:46

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.