Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Wêreldwye sterftesyfer steek 2 miljoen-kerf verby

Dit is dag 295 van die nasionale staat van inperking. Suid-Afrika is op vlak 3 met meer as 1,2 miljoen infeksies.

Só lyk die jongste syfers wat Vrydagaand bekend gemaak is:

Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, het vanoggend die volgende aangekondig.

Skole: Datums in ’n neutedop

  • Onderwysers wat deel van die skool se bestuurspan is, moet op 25 Januarie terugkeer.
  • Die res van die onderwysers keer op 1 Februarie terug.
  • Leerlinge moet op 15 Februarie aanmeld.
  • Kleuterskole wat onder die departement van maatskaplike val word nie geraak deur vanoggend se aankondiging nie.
  • Die matriekuitslae word steeds op 23 Februarie bekend gemaak.

Lees die departement se verklaring hier.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

15 Jan. 22:56:16

Sterftesyfer steek 2 miljoen-kerf verby

Die wêreldwye sterftesyfer weens Covid-19 het Vrydag die 2 miljoen-kerf verbygesteek.

Die 1 miljoen-kerf is bereik nege maande nadat die pandemie uitgebreek het, maar dit het net drie maande gevat om van een miljoen tot twee miljoen te spring, berig Reuters.

Die gemiddelde daaglikse sterftesyfer tot dusver vanjaar is 11 900, oftewel 'n sterfte elke agt sekondes.

"Ons wêreld het 'n hartverskeurende mylpaal bereik," het Antonio Guterres, hoof van die Verenigde Nasies, Vrydag gesê.

"Agter dié skrikwekkende syfers is daar name en gesigte, die glimlag nou net 'n herinnering, die sitplek vir altyd leeg om die eetkamertafel . . ." het hy gesê.

15 Jan. 21:51:48

Só lyk beskikbaarheid van beddens

Verskeie hospitale het die kruin van hospitalisasies wat tydens die eerste vlaag koronavirusinfeksies ervaar is, verbygesteek.

Die Mediclinic-hospitaalgroep sê die getal Covid-19-pasiënte neem beduidend toe in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng.

“Daar is groot druk op waakeenhede met sommige hospitale se waakeenheid- en hoësorgbeddens en ventilators wat vol is.

“Ons kan bevestig dat die getal gehospitaliseerde pasiënte die piek van die eerste vlaag met ongeveer 75% verbygesteek het en in sommige hospitale met 100%,” sê die hospitaalgroep.

Ook by die Life Healthcare-groep se hospitale is die piek van hospitalisasies tydens die eerste vlaag met 25% verbygesteek.

Dr. Charl van Loggerenberg, ’n bestuurder van noodmedisyne van Life Healthcare, sê hoewel Life Healthcare proaktief reageer op die verhoogde vraag, is die menslike hulpbronne en toerusting beperk, en daar is beperkings op die getal pasiënte wat in geriewe versorg kan word.

Lees meer
15 Jan. 20:04:46

Jongste syfers

Volgens die jongste syfers wat Vrydagaand bekend gemaak is, is daar nou altesame 1 311 686 infeksies in Suid-Afrika aangemeld. 14 880 nuwe infeksies is die afgelope 24 uur aangemeld.

Daar is sedert die vorige syfers bekend gemaak is, nóg 615 sterftes aangeteken, wat die sterftesyfer op 36 467 te staan bring.

Altesame 1 062 690 mense het al herstel. Die herstelkoers is 80,9%

15 Jan. 19:58:20

15 Jan. 19:20:21

SA teken rekordgetal sterftes aan

“Die sterftes in Suid-Afrika was waarskynlik laas so hoog voordat daar ’n behandeling vir vigs was.”

So sê prof. Debbie Bradshaw, hoof-spesialiswetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) se eenheid wat die impak van siektes navors, oor die rekordgetal sterftes tussen 30 Desember en 5 Januarie in die land aangeteken is.

Luidens ’n verslag deur Bradshaw en haar span is 20 063 sterftes in dié week aangeteken.

“Dit is die meeste sterftes wat sedert 1 Januarie 2020 in een week aangeteken is. As ons teruggaan in die verlede, dink ek dit was laas so hoog voordat ’n behandeling vir vigs ontdek is,” sê Bradshaw.

In dié week is ook 10 907 oormaatsterftes weens natuurlike oorsake aangeteken. Luidens die verslag is dit 113% meer sterftes as wat verwag is.

Bradshaw sê hoewel hulle nie die nodige data het nie, word vermoed dat die oormaatsterftes aan Covid-19 te wyte was.

“In die Wes-Kaap, waar data wel beskikbaar is, wyk die oormaatsterftes nie te veel van die amptelike Covid-19-sterftes af nie. Die sterftes volg ook die patroon van ’n pandemie.”

Lees meer
15 Jan. 18:11:10

Maak skole oop wat gereed is

Skole wat gereed is, moet toegelaat word om op 27 Januarie te heropen.

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan ’n dringende skrywe rig aan die nasionale bevelsraad en die departement van basiese onderwys met die pleidooi dat skole wat aan die Covid-19-protokolle voldoen, toegelaat sal word om aansoek te doen om op 27 Januarie te heropen.

Dit kom nadat dr. Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, Vrydagoggend op ’n mediakonferensie aangekondig het dat openbare skole se gr. 1- tot gr. 12-leerlinge eers op 15 Februarie mag terugkeer skool toe.

Natasha Venter, raadgewer vir onderwysregte by AfriForum, sê in ’n verklaring dit is in die beste belang van leerlinge en ouers dat skole, waar die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is, soos beplan heropen.

“Leerlinge het reeds verlede jaar gely onder die chaos wat die inperkingsregulasies meegebring het, en ons kan nie bekostig dat hulle verder agterraak nie. Baie skole het reeds die nodige reëlings getref om na personeel en leerlinge se gesondheid om te sien." - Dennis Delport

Lees die volledige berig
15 Jan. 17:23:18

Hofbevel oor private kleuterskole steeds van krag

Arno van der Merwe,  uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Kindersorgvereniging, verduidelik in hierdie video hoe private kleuterskole geraak word ná vandag se aankondiging deur die departement van basiese onderwys dat staatskole eers op 15 Februarie oopmaak.

Hy benadruk dat die hofbevel van 6 Julie 2020 steeds van krag is. Die hooggeregshof in Pretoria het toe beslis kleuterskole kan oopmaak mits die vereiste Covid-19-voorsorgmaatreëls nagekom word.

15 Jan. 17:16:28

Sommige kleuterskole sluit wel

Kleuterskole en sentrums vir vroeë kinderontwikkeling wat 'n toelaag van die staat ontvang, moet saam met openbare skole nog vir minstens twee weke gesluit wees. 

So het Hope Mokgatlhe, woordvoerder van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Vrydag aan Netwerk24 gesê. 

Sy het bygevoeg dat hoewel hulle nie private kleuterskole en sentrums kan verplig om gesluit te bly nie, “ons hulle tog aanmoedig om vir nog twee weke gesluit te bly, want elke kind is tog dieselfde, maak nie saak hoeveel skoolgeld hul ouers betaal nie”. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. – Arisa Janse van Rensburg

The announcement made by the Department of Education pertaining to the delayed opening of Primary- and High-schools,...

Posted by SA Childcare Association on Friday, January 15, 2021

15 Jan. 16:12:55

Almal wag vir entstowwe, nie net SA, sê Cyril 

“Nie net Suid-Afrika wag vir die entstof nie; die hele wêreld wag daarvoor.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in ’n onderhoud met die radiostasie 702 gesê nadat die regering die afgelope ruk onder kritiek deurgeloop het omdat hy sloer om ooreenkomste te beklink om entstowwe teen die Covid-19-virussiekte in die hande te kry. 

Hy het ook uitgebrei oor ander kwessies soos korrupsie, die moontlike skorsing van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, en oor of ’n nuwe ekonomiese stimuluspakket verwag kan word.

Ramaphosa het toegegee van die ander lande was gelukkig genoeg om voorafbestellings vir entstowwe te kon plaas, maar volgens Ramaphosa het dié lande verlede jaar ’n risiko geloop deur miljard rand vooraf te betaal, hoewel dit nie duidelik was of die entstowwe sou werk en of hulle dit sou ontvang nie. 

Volgens Ramaphosa sal die nasionale tesourie seker maak dat geld beskikbaar is vir die aankope van entstowwe om mense se lewens te red. 

Volgens Ramaphosa het hulle van die noordelike lande se voorbeeld gevolg en is hulle betrokke met bilaterale onderhandeling met ontwikkelaars om spesifiek die entstowwe van AstraZeneca, Pfizer, Johnson & Johnson en Moderna te bekom. 

Dié bilaterale onderhandelings sal slegs een van die kanale wees waarmee die regering poog om 20 miljoen dosisse entstof te bekom, het Ramaphosa verduidelik.

Die res sal aangeskaf word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-fasiliteit, asook deur die Afrika-Unie (AU). 

Die 270 miljoen dosisse wat voorlopig deur die Afrika-Unie (AU) bekom is, sal volgens Ramaphosa aan Afrika-lande toegedeel word volgens ’n spesifieke formule. Suid-Afrika verwag sy eerste besending entstowwe van die Serum-instituut in Indië wat deur die AU bekom is in Januarie en Februarie en dit sal aan gesondheidsorgwerkers toegedien word. 

LEES DIE VOLLEDIGE BERIG HIER.
15 Jan. 15:56:26

Sitting van Zondo-kommissie gestaak oor Covid-19

Die Zondo-kommissie se sitting moes Vrydagmiddag inderhaas na middagete uitgestel word, nadat iemand na aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, positief getoets is vir Covid-19. 

Zondo het aangekondig iemand na aan hom het positief getoets vir Covid-19 en hy moet homself isoleer.

Die sitting sal moet verdaag vir Vrydag.“

Dit is die realiteit vir eers. Daar sal ’n weg gevind moet word om vorentoe te gaan. Indien die sittings elke keer ontwrig word, sal dit die werk van die kommissie moeilik maak,” het Zondo gesê.

Die moontlikheid sal ondersoek word dat die sitting met ’n videoskakel kan voortgaan.

– Marelize Barnard

Lees die volledige berig hier.
Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.