Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: 1 517 666 gevalle al in SA bevestig

Dit is dag 343 van die nasionale ramptoestand wat weens die koronavirus-pandemie afgekondig is. Suid-Afrika is op vlak 1 met meer as 1,5 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 50 000 sterftes.

* Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die Nasionale Persklub toegespreek op die vooraand van toe die eerste Covid-19-geval 'n jaar gelede in Suid-Afrika ontdek is:


Hier volg die jongste verwikkelinge: 

04 Mrt. 22:24:39

Jongste syfers

Daar is tot dusver altesame 1 517 666 bevestigde gevalle in Suid-Afrika aangemeld.

Die afgelope 24 uur was daar 96 sterftes, wat die sterftesyfer op 50 462 te staan bring.

Daar het al 1 436 010 mense herstel. Die herstelkoers is 94,6%.

Daar is teen Donderdagaand 92 029 gesondheidswerkers ingeënt.

04 Mrt. 21:56:17

Pas van inentings gaan in April toeneem, sê minister

Span Suid-Afrika het dit moontlik gemaak dat die land die Covid-19-pandemie so doeltreffend as moontlik tot dusver kon bestuur, se dr. Zweli Mkhize.

Mkhize het Donderdagaand so gesê tydens ’n aanlyn gespreksessie met die Nasionale Persklub in Pretoria in reaksie op ’n vraag oor hoe goed hy dink hy as minister die afgelope jaar gevaar het om die pandemie in Suid-Afrika onder beheer te bring.

Volgens Mkhize het almal die afgelope jaar hul bes probeer.

“Ons bedank veral alle gesondheidswerkers en almal anders wat hul deel in die stryd teen die pandemie gedoen het.

“Ons almal sien uit na ’n situasie waar ons kan herstel en onsself uit die huidige beperkinge kan kry. Ons sien nou weer uit na die tyd wat ons sonder Covid-19 kan leef.”

Volgens hom het die pandemie die afgelope jaar baie verwoesting gesaai en sterftes veroorsaak, “maar dit het ook getoon hoe ons mense as ’n eenheid kan saamwerk”.

Hy het bygevoeg dat daar ook korrupsie tydens die pandemie voorgekom het, maar almal moet steeds saamwerk om die pandemie die hoof te bied.

Op ’n vraag oor wat hy sedert sy aankondiging van die eerste positiewe geval ’n jaar gelede geleer het, het Mkhize gesê dit het gewys dat Suid-Afrikaners in tye van ernstige krisisse kan saamstaan en -werk.

“Ons was aan die begin almal onbewus van die ernstige aard wat die pandemie sou aanneem. Maar mense het egter hul gedrag verander en ’n nuwe kultuur geskep deur maskers te dra en hul hande te was. Ons het saamgestaan en ’n manier gevind vir die land om te oorleef.”

Hy het ook die media bedank wat die boodskappe aan Suid-Afrikaners oorgedra het oor hoe om hulself tydens die pandemie te beskerm en dit oor die algemeen te beveg.

“Dit sal dit makliker in die toekoms maak om soortgelyke uitdagings aan te pak. Dit was ’n baie goeie les oor wat die land saam kan doen.”

Oor vrese dat die land se inentingsprogram te stadig verloop om 40 miljoen mense nog hierdie jaar in te ent, het Mkhize gesê die verwagting is dat die pas van die inentings van April af en in die tweede en derde kwartaal aansienlik sal toeneem.

“Ons sal soveel mense bereik as wat ons wil,” het hy bygevoeg. – Llewellyn Prince

04 Mrt. 21:28:03

Derde vlaag kan SA Paasnaweek tref, sê Mkhize

’n Derde vlaag van koronavirusinfeksies kan Suid-Afrika dalk oor die Paasnaweek tref, soos mense dan gaan rondbeweeg.

Dr. Zweli Mhize, minister van gesondheid, het Donderdagaand so gesê tydens ’n aanlyn gesprek wat die regering se inligting-en-kommunikasiediens (GCIS) en die Nasionale Persklub aangebied het.

Die gesprek het plaasgevind op die vooraand van 5 Maart – wat presies ’n jaar gelede is sedert Mkhize aangekondig het dat Suid-Afrika sy eerste positiewe koronavirusgeval aangeteken het.

Val Boje, voorsitter van die Nasionale Persklub, het tydens die geleentheid ook aangekondig dat die persklub die Covid-19-pandemie as sy nuusmaker van 2020 aangewys het.

Mkhize het gesê die regering kan nie tans presies voorspel wanneer die derde vlaag die land sal tref nie.

“Maar ons verwag dat dit tydens die Paastyd kan gebeur soos meer mense rondbeweeg. Ons hou egter die situasie fyn dop.“

Die kompromis is dat ons moet aandring dat landsburgers intussen voortgaan met die nakoming van gesondheidsmaatreëls soos die dra van maskers, die handhawing van gesonde afstande en die was en ontsmetting van hande.

“Dit is wat tot die vermindering van infeksies tydens die laaste vlaag gelei het.

“Ons vermoede is egter dat die derde vlaag ons teen laat April en in Mei sal tref.”

Mkhize het bygevoeg dat die inenting van gesondheidswerkers tans goed verloop.

“Ons was teen gister omtrent by 80 000 inentings landwyd. Ons sou baie graag meer wou sien, maar ons het ’n beperkte aantal dosisse en dit is wat die proses vertraag.”

Volgens Mkhize word ’n bykomende 500 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof teen die einde van Maart in die land verwag. – Llewellyn Prince

04 Mrt. 20:15:46

04 Mrt. 19:24:03

Covid keer res van Dale-hulle se liga

Die res van Pakistan se vlagskip-T20-liga is Donderdag ná ’n virtuele noodvergadering tussen dié land se krieketbeheerliggaam (PCB) en span-eienaars met onmiddellike ingang uitgestel.

Dít volg nadat nog drie spelers, wat sedert 20 Februarie aan die Pakistanse Superliga deelneem, positief getoets is vir Covid-19.

Dié spelers was van twee verskillende spanne.Altesaam sewe betrokkenes by die liga, waarvan ses spelers, is reeds positief getoets.

Lees meer
04 Mrt. 18:56:52

04 Mrt. 17:57:55

Biden kap 'Neanderdal-denke' oor dra van maskers

Pres. Joe Biden van Amerika meen die besluit van die deelstate Texas en Mississippi om die verpligte dra van maskers op te hef kom op “Neanderdal-denke” neer.

“Ek dink dit is ’n groot fout.”

Die dra van maskers, die handhawing van ’n veilige afstand en ander maatreëls bly belangrik ondanks die rol wat entstowwe in die beperking van die pandemie speel, het Biden gesê.

Die twee deelstate gaan ook toelaat dat sakeondernemings tot hul volle kapasiteit heropen.

Ook ander deelstate het ’n verslapping van sommige regulasies aangekondig.

Sedert die begin van die pandemie is 28,7 miljoen bevestigde koronavirusinfeksies en 519 000 Covid-19-sterftes in die VSA aangemeld.

Sowat 78 miljoen dosisse entstof is reeds in die land toegedien, maar Biden sê dit is geen rede om openbare gesondheidsmaatreëls te beëindig nie.

04 Mrt. 15:44:20

04 Mrt. 15:29:35

Data oor entstowwe bemoedigend

Die jongste data oor Covid-19-entstowwe van Pfizer/BioNTech en AstraZeneca is bemoedigend, het die Europese streekraadgewer van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Donderdag gesê.

Dit kan daartoe lei dat die WGO die voorgestelde wagperiodes tussen dosisse heroorweeg word, het Siddhartha Datta aan verslaggewers gesê. – Reuters

04 Mrt. 14:27:57

Kubaanse artse doen goeie werk in VS, hoor komitee

Die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid het Woensdag gehoor die Vrystaatse gesondheidsdepartement is baie tevrede met die diens wat 17 Kubaanse dokters in dié provinsie se stryd teen Covid-19 lewer.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, komiteevoorsitter, sê in ’n verklaring by monde van sy woordvoerder, Sakhile Mokoena, dit is deel van die komitee se oorsigrol om te verseker dat die provinsies gehaltegesondheidsorg lewer.

Daarom is al die provinsiale gesondheidsdepartemente uitgenooi om inligting hieroor aan die komitee te verskaf en die Vrystaat was die laaste provinsie om voor hom te verskyn.

Luidens die verklaring verwelkom die komitee die verslag van die gesondheidsdepartement oor die waarde wat hy uit die ontplooiing van 17 Kubaanse dokters in die geveg teen Covid-19 in die Vrystaat kry.

Dié dokters is lede van ’n span van Kuba wat in Suid-Afrika help om die pandemie te beveg.

Lees meer
Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.