Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Jongste syfers in SA

DIt is dag 372 van nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie afgekondig is.

Suid-Afrika is op vlak 1 met meer as 1,5 miljoen kumulatiewe koronavirusgevalle en byna 53 000 kumulatiewe sterftes.

03 Apr. 01:30:34

Stil tyd in Jerusalem: 'n Diens ter viering van Paasfees word Donderdag in die Heilige Grafkerk in Ou Jerusalem gehou. Israelse sakelui en die toerismebedryf beleef egter 'n stil Paastyd omdat Christene oor die wêreld heen nie soos gewoonlik na Jerusalem stroom om die heilige plekke van die Bybelse kruisiging en opstanding te besoek nie. Talle lande se verbod op reise geld steeds as deel van hul inperkingsregulasies om die verspreiding van die koronavirus te voorkom. Daarbenewens is groot byeenkomste in Israel verbied, hoewel kerkdienste en ander kleiner byeenkomste gehou mag word.  Foto: AP

02 Apr. 22:56:20

Jongste syfers in SA

49 sterftes is sedert Donderdag se verslag in die land aangemeld, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydagaand in 'n verklaring bekend gemaak.

Dit bring die sterftesyfer in die land op 52 946 te staan.

Sedert die vorige verslag is 1 273 nuwe koronavirusgevalle aangemeld. Die kumulatiewe syfer in die land is nou 1 550 724. Daar is tans 22 380 aktiewe gevalle in die land.

1 475 398 mense kon van die virussiekte herstel. Die herstelkoers is 95%.

02 Apr. 22:03:17

Fauci sê VSA benodig nie AstraZeneca

Amerika het dalk nie AstraZeneca se koronavirusentstof nodig nie, selfs al word dit goedgekeur, het dr. Anthony Fauci, wat aan die voorpunt van die VSA se stryd teen die pandemie is, Donderdag gesê.

Dié entstof is aanvanklik as 'n mylpaal in die stryd teen die koronavirus beskou, maar die effektiwiteit daarvan word sedert einde verlede jaar skerp bevraagteken. Die entstof is in talle lande goedgekeur, maar nie in Amerika nie.

Fauci het gesê die land het reeds genoeg kontrakte met ander verskaffers sodat sy hele bevolking ingeënt kan word en opvolgdosisse later vanjaar nog beskikbaar sal wees. 

– Reuters
02 Apr. 20:22:02

Toetse wys 55 van UP het virus; stappe word gedoen

Verskeie voorvalle van Covid-19-groepinfeksies is onlangs by tersiêre onderwysinstellings aangemeld – ook onder studente van die Universiteit van Pretoria (UP).

Die meeste van hulle het volgens die UP nié die virus op die kampus opgedoen het nie, maar vermoedelik in kuierplekke.

Hoewel die uitbreking nie in hierdie stadium as “grootskaals” bestempel word nie, het dit dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, wetenskap en innovering, genoop om studente, dosente en personeel weer te maan om aan Covid-19-riglyne te voldoen.

Lees die hele berig hier.
02 Apr. 19:10:13

Inwoners van Manila, die hoofstad van die Filippyne, staan met ikone in die strate om die seën van 'n priester te ontvang. Paasfees word vanjaar weens die koronaviruspandemie op dié wyse gevier. Foto: Getty Images

02 Apr. 18:02:43

Ingeënte Amerikaners mag weer reis

Amerikaners wat volledig teen die koronavirus ingeënt is, mag weer internasionale reise onderneem.

Die land se sentrum vir siektebeheer (CDC) het Vrydag egter in 'n verklaring benadruk dat dié mense egter steeds maskers moet dra wanneer hulle van openbare vervoer, soos vliegtuie, gebruik maak.

Volgens die CDC het onlangse navorsing oor die effektiwiteit van die entstowwe getoon dat mense wat ingeënt is 'n lae risiko loop om die virus op te doen en dat hulle kan reis sonder om vir Covid-19 getoets te word of in kwarantyn te gaan.

Die nuwe riglyne is nou van krag nadat sowat 'n derde van die bevolking reeds een dosis van die entstof ontvang het. – ABC News, USA Today, Washington Post

02 Apr. 13:01:19

Brittanje plaas nog 4 lande op rooi lys

Pakistan, Kenia, Bangladesj en die Filippyne is tot Brittanje se “rooi lys” gevoeg.

Dié stap wat op 9 April om 04:00 in werking tree is in reaksie tot kommer oor nuwe variante soos dié wat eerste in Suid-Afrika en Brasilië hul kop uitgesteek het.

Dit beteken internasionale besoekers wat vertrek het of wat in die vorige tien dae in dié lande gereis het sal toegang verbied word.

Britse en Ierse landsburgers en diegene met verblyfreg in Brittanje sal in die land toegelaat word. Hulle sal deur ’n aangewese grenspos moet inkom en vir tien dae in ’n goedgekeurde hotel op eie onkoste in kwarantyn bly.

Brittanje het nou 39 lande op die rooi lys. - SkyNews

02 Apr. 12:01:22

Pfizer/BioNTech se entstof bied lank beskerming

Pfizer/BioNTech se fase 3- kliniese toetse van sy entstof bevestig dat sy beskerming vir minstens ses maande ná die tweede dosis hoog bly, sê die maatskappye.

Kenners oor entstowwe sê beskerming hou selfs langer as dit, maar om data te hê wat goeie beskerming toon ses maande nadat mense ingeënt is, is goeie nuus.

Die entstof bly vir ses maande meer as 91% doeltreffend teen die siekte met enige simptome, sê die maatskappye in ’n verklaring. Dit blyk ook ten volle doeltreffend te wees teen die kommerwekkende B.1.351-variant – die dominante stam wat in Suid-Afrika teenwoordig is en wat navorsers vrees muteer het om beskerming teen entstowwe te omseil. - CNN

02 Apr. 09:03:53

Byna 20 lande kry entstof van SA

Baie lande in Afrika gaan baat by die verkoop van Suid-Afrika se dosisse van die AstraZeneca-entstof.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydagoggend in ’n verklaring bekendgemaak dat nadat die verkoop van ’n miljoen dosisse van dié entstof aan die Afrika-Unie (AU) verseker is, is die eerste besending daarvan landuit.

Hoewel dit ’n moeilike besluit was om die gebruik van die AstraZeneca-entstof in Suid-Afrika weens die 501Y.V2-variant te staak, is hy bly dat dit die ander Afrika-lande kan help.

Die lande is Nigerië, Ghana, Senegal, Guinee, Togo, Sierra Leone, Zimbabwe, Liberië, Mauritanië, Gambië, Guinee-Bissau, Malawi, Suid-Soedan, die Comores-eilande, Egipte, die Seychelle en Uganda.

Die verkoop van die entstof sal nie ’n vermorsing van uitgawes vir Suid-Afrika wees nie, sê Mkhize.

“Ons loof die AU om die taak te onderneem om die entstof na die betrokke lidlande te herversprei. As ’n regering is ons bly om ’n suksesvolle afhandeling van die kwessie te sien. Die verkoop van die entstof is ’n wen-wen-situasie vir almal.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.