Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 407: Só lyk die jongste syfers

Dit is dag 407 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie afgekondig is.

Suid-Afrika het meer as 1,5 miljoen kumulatiewe koronavirusgevalle en meer as 54 000 sterftes.

Volg die jongste verwikkelinge hier.

07 Mei 21:44:26

Jongste syfers

Daar is nou altesame 1 592 626 bevestigde gevalle in Suid-Afrika aangeteken.

Daar was die afgelope 24 uur 67 sterftes, wat die sterftesyfer opstoot tot 54 687.

1 513 202 mense het al herstel.

07 Mei 21:42:36

07 Mei 20:19:18

Skolesport dra by tot styging in infeksies in Gauteng

Die hervatting van skolesport in Gauteng is een van die groot redes waarom Gauteng ’n toename in koronavirusgevalle ondervind.Die is nie die ondersteuners nie, maar die spelers wat die virus versprei, sê dr. Mary Kawonga, voorsitter van die premier, David Makura, se Covid-19-adviesraad.

“Onthou daar word nie ondersteuners toegelaat nie. Ons navorsing dui daarop dat die virus onder die spelers versprei. Daar is groepuitbrekings by verskeie skole,” het sy Vrydag ná ’n mediakonferensie van die provinsiale Covid-19-bevelsraad aan Netwerk24 gesê.

Kawonga sê die situasie met skolesport is veral kommerwekkend omdat die spelers dit na hul gesinne neem, en ook in skooltyd op die skoolterrein versprei.

“Baie van die leerlinge is asimptomaties. Dit is moeilik om die virus onder die deelnemers te beperk omdat die leerlinge nie in ’n bioborrel kan bly soos wat met professionele sport gedoen word nie. - Dennis Delport

Lees meer
07 Mei 19:14:52

Derde raadslid van Bloem dood aan Covid-19

’n Derde raadslid van die Mangaung-metroraad in Bloemfontein is Woensdag aan Covid-19 dood. Eddie Goliath (59) van die EFF wat in Heidedal gewoon het, was ’n proporsioneel verkose raadslid vir wyk 1.

Sy vrou, Rebecka, sê hy het Sondag positief vir die koronavirus getoets en is dieselfde dag in die waakeenheid van die Mediclinic Bloemfontein opgeneem.

Sy sê haar man was van 1996 vir twee agtereenvolgende termyne van vyf jaar ’n ANC-raadslid.

Hy was ook vroeër voorsitter van die South African National Civics Organisation (Sanco) se Heidedal-tak.

In sy tyd as ANC-raadslid het hy in onder meer die burgemeesterskomitee gedien. – Marietjie Gericke

Lees meer
07 Mei 15:57:50

Sweedse kiesers steun maatreëls

Dit blyk dat kiesers in Swede volgende maand in een van twee referendums die regering se maatreëls om die Covid-19-pandemie in bedwang te kry sal steun.

Die parlement het in September 'n wetsontwerp oor Covid-19 goedgekeur, hoewel daar teenkanting was dat die publiek ingeperk word.

Die uiteinde is 'n referendum oor dié kwessie wat ingevolge die Sweedse stelsel van direkte demokrasie gehou sal word.

Dit blyk egter uit 'n meningspeiling deur die uitsaaier SRF dat twee derdes van die stemgeregtigdes wel die maatreëls sal steun, terwyl 27% daarteen gekant is en 6% nog nie daaroor besluit het nie.

Die tweede referendum het op die uitskakeling van die gebruik van gifstowwe betrekking. – Reuters 

07 Mei 15:15:06

Opposisie pleit by Modi om virus te stuit

Rahul Gandhi, hoofopposisieleier in Indië, het Vrydag gewaarsku dat die dodelike huidige vlaag van die koronavirus sal maai onder die land se inwoners, maar ook ‘n bedreiging inhou vir die res van die wêreld indien dit nie onder beheer gebring word nie.

Gandhi het Narendra Modi, premier, in ‘n brief versoek om sake gereed te kry vir nog 'n landwye inperking, om die inentingsprogram te versnel en om die virus en sy variante wetenskaplik na te spoor.

Indië, die tweede digsbevolkte land ter wêreld, het 'n verantwoordelikheid in “ 'n onderling verbinde wêreld” om die “ontploffende” toename van die koronavirus in sy landsgrense te stop, sê hy.

"Die Covid-19-pandemie het gewys dat die grootte, genetiese diversiteit en kompleksiteit van Indië dit 'n teelaarde maak vir die virus om te muteer om meer aansteeklik en gevaarliker te word,” sê Gandhi. – Reuters

07 Mei 14:46:10

ATP verslap Covid-protokols; Wimbledon speel veilig

Die ATP-reeks oorweeg nuwe protokols om sy Covid-19-beperkings vir spelers op sy toernooie te verslap, maar Wimbledon het sy deelnemers ingelig hulle sal streng aan ’n “omgewing van verminderde risiko” moet voldoen.

Die Daily Mail berig die ATP het ’n memorandum aan spelers en hul verteenwoordigers gestuur wat sy nuwe Covid-19-maatreëls uiteensit.

Daarvolgens sal spelers glo toegelaat word om meer vrylik by toernooie rond te beweeg, insluitende besoeke aan winkels en restaurante buite hul akkommodasie.

Maar Wimbledon sal na verwagting hou by sy streng voorsorgmaatreëls, wat bepaal dat deelnemers tot hul aangewese hotelle beperk word vir die duur van die toernooi, wat in Junie begin.

Lees meer
07 Mei 13:06:34

Rekordgetalle in Indië, SA sê niks oor grensbeheer

Ondanks die rekordgetal stygings Vrydag in Covid-19-gevalle en byna 4 000 nuwe sterftes in Indië, het Suid-Afrika nog nie besluit of hy sy grense vir dié land gaan sluit om te voorkom dat die dodelike Indiese variant hier versprei en 'n moontlike derde vlaag kan aandryf nie.

In die afgelope weke is meer as 300 000 nuwe gevalle byna daagliks in Indië aangemeld, en in die afgelope week alleen is 1,57 miljoen nuwe gevalle en meer as 15 000 sterftes aangeteken.

Hoewel die nasionale koronavirusbevelsraad glo wel die moontlike sluiting van Suid-Afrika se grense vir reisigers uit Indië bespreek, sal dit ook nog voor die kabinet moet dien. Dit blyk egter dat die departement van gesondheid nie té bekommerd oor dié variant is nie.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, het gister aan Netwerk24 verduidelik dat Suid-Afrika se variant van die virus drie kernmutasies het, terwyl die variant in Indië net twee het.

Volgens haar dui dit moontlik daarop dat Suid-Afrika se variant aansteekliker as die variant in Indië is.

Manzi het toe gesê Suid-Afrikaners moet kalm bly en wag vir die wetenskaplikes om meer inligting oor die twee variante bekend te maak.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gisteraand dieselfde mening in 'n mediaverklaring uitgespreek.

"Hoewel ons variant van die virus meer mutasies as die variant in Indië het, het ons steeds (in Desember en Januarie) daarin geslaag om ons vlaag af te plat."

Hy het gesê Suid-Afrikaners moenie paniekerig raak nie omdat die behandeling vir die variante dieselfde as die behandeling vir Covid-19 is.

Volgens hom beteken dit ook dat die maatreëls om die virus hok te slaan dieselfde is.

Mkhize het gesê die wetenskaplikes werk hard daaraan om reisigers uit Indië vir die Indiese variant te toets.

07 Mei 11:46:25

Regering kán ingryp, maar . . .

Die regering kan ingryp in die provinsies waar kommerwekkende stygings tans voorkom, maar die nasionale departement van gesondheid meen dat Suid-Afrikaners al teen hierdie tyd weet hoe om die getal Covid-19-gevalle laag te hou.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê die Oos-Kaap is tans die enigste provinsie wat nie 'n distrik het wat die afgelope tyd kommerwekkende stygings getoon het nie.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is die hospitalisasies besig om in die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en die Noord-Kaap te styg.

Dr. Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, het ook gister aan Netwerk24 gesê dié provinsies is 'n bron van kommer en moet hul sokkies optrek sodat die virus nie verder versprei nie.

Volgens Mkhize moet Suid-Afrikaners nou meer as ooit tevore die maatreëls nakom sodat 'n derde vlaag nie uitbreek nie.

"Ons weet tog almal wat van ons verwag word om die infeksies in toom te hou. Ons weet ons moet maskers dra, ons hande ontsmet en groot saamtrekke vermy. Die regering kan ingryp, maar ons wil eerder op ekonomiese herstel konsentreer en verdere beperkings voorkom."

Suid-Afrika se koronavirusgevalle het vir 'n tweede agtereenvolgende dag met meer as 2 000 nuwe gevalle sedert Februarie gestyg.

07 Mei 10:45:10

Novavax-entstof kan ernstige siekte van SA variant keer

Die Novavax-entstof wat in Amerika deur die Novavax-maatskappy vervaardig word, is volgens ’n opgedateerde studie 100% effektief om ernstige siektes weens die Suid-Afrikaanse virusvariant te voorkom.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se bevindinge in dié verband is in die New England Journal of Medicine (NEJM) gepubliseer.

Die navorsing brei uit op ’n voorlopige studie wat in Januarie gedoen is, terwyl meer navorsing in Maart 2021 gedeel is.

Die aanvanklike studie toon Novavax bied matige beskerming teen die Suid-Afrikaanse variant, maar die opgedateerde studie toon dié entstof bied 100%-beskerming teen ernstige Covid-19-infeksies wat deur die virusvariant veroorsaak word.

Prof. Shabir Madhi, ’n entstofkundige aan Wits en medeleier van die studie, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vereis dat entstowwe ’n 50%-effektiwiteit teen Covid-19 het.

Volgens ’n verklaring wat oor die studie uitgereik is, het dié entstof aanvanklik ’n 49%-effektiwiteit getoon, terwyl hy in die ongepubliseerde analise ook ’n 49%-effektiwiteit getoon het.

Gesonde mense, wat nie MIV/vigs het nie, het in die voorlopige analise beskerming van 60% geniet, terwyl dié persentasie na 55% in die voltooide analise verlaag is.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.