Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: 3 285 nuwe gevalle, nóg 89 sterf

Daar is Maandag 3 285 nuwe gevalle van die Covid-19-virus in Suid-Afrika aangemeld.

07 Jun. 22:16:22

So lyk SA se jongste syfers: 

Nuwe gevalle: 3 285

Kumulatiewe gevalle: 1 699 849

Nuwe sterftes: 89

Kumulatiewe sterftes: 57 063

Herstel:1 581 540

Herstelkoers: 93%

Sisonke-inentings:479 768

Pfizer-inentings: 870 477

Daar is 1 666 meer inentings die afgelope 24 uur gedoen. 

Totaal: 1 350 245

07 Jun. 22:03:48

GRAFIKA: Pfizer-entstof: 2de dosis eers ná 42 dae toegedien

Diegene wat hul eerste dosis Pfizer-entstof ontvang het, kan eers ná ses weke vanaf die toediening ’n tweede dosis kry, het die nasionale gesondheidsdepartement Maandag gesê.

Die oorspronklike tydperk was drie weke, oftewel 21 dae.

Die departement sê in ’n nuusbulletin dat diegene wat reeds ingeënt is reeds deur ’n SMS-boodskap van die verlengde tydperk in kennis gestel is.

“Die tweede dosis Pfizer-entstof sal nou ses weke (42 dae) ná die eerste dosis toegedien word, en nie meer ná drie weke (21 dae) nie. Jy sal ’n SMS kry met die nuwe datum. Moenie by jou entstofsentrum opdaag ná 21 dae nie. Jy sal nie ingeënt word nie,” lui die boodskap.

Mense wat 60 jaar en ouer is, word tans in fase 2 van die regering se entstofprogram ingeënt. Volgens die nuutste inligting is 863 665 mense reeds met die eerste dosis Pfizer-entstof ingeënt.

Lees die volledige berig hier.
07 Jun. 22:02:59

Suid-Afrika ‘binne week in 3de vlaag’

Sodra daar 6 000 nuwe Covid-19-gevalle per dag aangemeld word, sal dit beteken Suid-Afrika is midde-in die derde vlaag. Dit kan binne die volgende week wees.

So sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, en voeg by dat die land nie-amptelik reeds deur die derde vlaag getref is. “Daar is baie mense wat tans siek is en nie getoets word nie omdat hulle dink dit is net verkoue. Baie van hulle het eintlik Covid-19,” sê sy.

Lees die volledige berig hier.
07 Jun. 21:58:57

NY wil terugkeer ná pandemie met musiekkonsert vier

’n Groot musiekkonsert gaan in Augustus in Central Park in New York gehou word om die stad se terugkeer ná die koronaviruspandemie te vier, het Bill de Blasio, burgemeester, Maandag gesê.

Die konsert sal deel wees van ’n week lange viering in dié stad, wat die eerste Amerikaanse brandpunt van die pandemie was. Volgens The New York Times sal daar twee gedeeltes by die konsert wees: een vir diegene wat ingeënt is teen die virus en die ander vir diegene wat nie ingeënt is nie. - Reuters

07 Jun. 21:58:15

Solidariteit het verdwyn toe entstowwe op toneel kom - Graca Machel

Die wêreldwye solidariteit wat deur die uitbreking van die koronavirus Sars-CoV-2 geskep is, het verdwyn die oomblik toe entstowwe beskikbaar geraak het, het Graca Machel, oud-presidentsvrou van Suid-Afrika, voor die aanvang van die G7-beraad vandeesweek in Londen gesê.

The Guardian berig Machel, ook ’n oudpresidentsvrou van Mosambiek, het ook ’n beroep op ryker lande gedoen om hul entstowwe te deel.

“Daar sal nie veiligheid wees totdat almal op aarde nie ingeënt is nie. Dit is ’n kwessie van oorlewing, selfs vir die ontwikkelde wêreld. Dit is algemene kennis dat ons moet verseker dat almal van ons die entstof ontvang.”

Machel het die G7-situasie met dié van die ontwikkelende wêreld vergelyk: “Ryk lande gaar entstowwe op terwyl slegs 2% van Afrika se inwoners ingeënt is.” Machel, ’n lid van die Afrika-vorderingspaneel, het gesê die G7 moet ’n ooreenkoms oor entstowwe en die klimaat bereik. - The Guardian

07 Jun. 21:57:07

20-plussers kan nou inenting kry in Engeland  

Mense tussen die ouderdom van 25 en 29 jaar sal van Dinsdag af in Engeland teksboodskappe van die nasionale gesondheidsdiens (NHS) kry vir hul Covid-19-inentings, het Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, Maandagaand bekend gemaak.

Hancock sê die wedloop tussen inentings en variante van die koronavirus Sars-CoV-2 raak al hoe strawwer.

Hy het in die Britse Laerhuis gesê wetenskaplikes is van mening dat die delta-variant van die virus wat eerste in Indië geïdentifiseer is, 40% meer aansteeklik is as die alfa-variant wat eerste in Kent, Engeland, geïdentifiseer is.

Hancock het ook herhaal dat dit steeds te vroeg is om te sê of alle inperkingsmaatreëls op 21 Junie opgehef gaan word. - The Telegraph 

07 Jun. 20:53:39

Infeksies bly wêreldwyd daal

Nuwe koronavirusgevalle – 3 miljoen – het in die week wat op 6 Junie geëindig het, wêreldwyd tot op die laagste vlak sedert middel Maart gedaal, volgens data van die Johns Hopkins-Universiteit.

Die weeklikse syfer daal al vir ses weke aaneenlopend soos die tweede vlaag van die pandemie in Indië verswak en immuniserings wêreldwyd toeneem.

In Amerika is die laagste getal nuwe gevalle – 5 455 – sedert Maart 2020 aangemeld, toe die pandemie soos ’n veldbrand oor die land heen versprei het.

Die wêreldwye dodetal is ook besig om af te plat en het van ’n kruin van 92 000 sterfgevalle teen einde April tot minder as 80 000 in die laaste week van Mei gedaal.

’n Aanpassing van Peru se sterftesyfer, die land het byna dubbeld soveel Covid-19-sterftes gehad as wat aanvanklik aangedui is, het verlede week die vergelykings ietwat skeefgetrek. – Bloomberg

07 Jun. 20:11:47

07 Jun. 20:05:49

WGO-hoof hoop Afrika kan self entstof vervaardig

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê hy hoop terreine waar entstof teen Covid-19 vervaardig kan word, kan binnekort in Afrika geïdentifiseer word.

Hoewel Ghebreyesus nie enige aanduiding gegee het van watter Afrika-land of -lande nie, het Reuters reeds berig dat Senegal teen volgende jaar Covid-19-entstof sal kan vervaardig nadat die land ’n ooreenkoms met die Belgiese groep Univercells gesluit het.

Ghebreyesus het verder ’n beroep op maatskappye soos Pfizer en Moderna gedoen om hul bRNS-tegnologie met die WGO se tegnologiese toegangspoel te deel. – Reuters

07 Jun. 20:05:45

WGO kan China nie druk oor ontstaan van virus

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kan China nie verplig om meer data oor die ontstaan van die koronavirus te verskaf nie.

Mike Ryan, direkteur van die WGO se noodprogramme, het Maandag op die vraag oor hoe die WGO China kan oorhaal om meer openlik te wees, geantwoord die WGO het nie die mag om sodanige druk op enigiemand toe te pas nie.

“Ons verwag volle samewerking, insette en ondersteuning van al ons lidstate in só 'n onderneming,” het Ryan gesê.

Daar is verskillende teorieë oor die ontstaan van die virus: die een is dat die virus van diere, moontlik vlermuise, na mense oorgedra is, of dat die virus uit 'n laboratorium in Wuhan, China, gelek het.

Lede van 'n WGO-span het vroeër vanjaar China besoek om die oorsprong van die virus na te speur, maar die span het nie toegang tot al die data gehad nie, wat net olie op die vuur was vir China se gebrek aan deursigtigheid. - Reuters

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.