Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: J&J wil raklewe van entstof verleng


Hier volg die jongste verwikkelinge: 

08 Jun. 21:52:21

Aspirien verbeter toe nie jou kanse op oorlewing

Aspirien verbeter nie pasiënte wat ernstig siek is aan Covid-19 se kanse op oorlewing nie.

Dit blyk uit vroeë resultate van een van die grootste kliniese toetse tot nog toe in Brittanje op een van die algemeenste pynstillers en bloedverdunners.

Wetenskaplikes het na ’n verskeidenheid moontlike behandelings vir die virus gekyk en onder meer die uitwerking van aspirien op sowat 15 000 gehospitaliseerde Covid-19-pasiënte geëvalueer.

Omdat aspirien met ander siektes help om bloedklonte te verminder, is dit ook getoets in Covid-19-pasiënte met ’n hoër risiko vir bloedklonte.

Peter Horby, medehoofnavorser, sê hoewel aspirien  met ’n klein verhoging in die moontlikheid dat ’n Covid-pasiënt lewend ontslaan sal word, is dié moontlikheid nie genoegsaam om die wye gebruik daarvan vir Covid-19-pasiënte aan te beveel nie. – Reuters

08 Jun. 21:52:10

Mkhize-sage: Geen rede tot kommer oor inentings

Daar hoef geen kommer te wees oor Suid-Afrika se entstofprogram noudat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op spesiale verlof geplaas is nie.

Dit was Dinsdagaand die reaksie van verskeie mediese kenners ná die nuus dat pres. Cyril Ramaphosa Mkhize weens die Digital Vibes-tenderskandaal op spesiale verlof geplaas het.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, sal tot verdere kennisgewing as waarnemende minister van gesondheid dien.

Lees die volledige berig hier.
08 Jun. 21:31:51

Meer mans as vroue in Indië ingeënt

Meer mans as vroue is tot dusver in Indië ingeënt.

Regeringsdata dui daarop dat 101 miljoen mans reeds gedeeltelik of ten volle ingeënt is – bykans 17% meer as vroue. 

Volgens die data is 54% van almal wat ingeënt is mans.

In die hoofstad Delhi en groot state soos Uttar Pradesh is die ongelykhede selfs nog meer.

Prashant Pandya, mediese superintendent van ’n groot regeringshospitaal in die staat Gujarat, sê mans in dorpe en kleiner gemeenskappe moet meer dikwels vir hul werk reis en word daarom eerste ingeënt, terwyl vroue hoofsaaklik tuisbly en hulle met huishoudelike pligte besig hou. – Reuters

08 Jun. 21:31:12

08 Jun. 21:03:29

Pfizer-entstof gou op kinders jonger as 12 getoets

Die farmaseutiese maatskappy Pfizer gaan sy Covid-19-entstof binnekort op ’n groter groep kinders onder die ouderdom van 12 begin toets.

Ongeveer 4 500 kinders uit Amerika, Finland, Pole en Spanje sal aan die kliniese studie deelneem.

Pfizer het tydens ’n vroeëre fase van sy kliniese toetse ’n laer dosering van sy entstof op kinders jonger as 12 getoets.

Die entstof is reeds vir gebruik vir kinders so jonk as 12 in Europa, Amerika en Kanada goedgekeur. – Reuters

08 Jun. 21:02:41

J&J wil raklewe van entstof verleng

’n Topamptenaar in die Withuis het Dinsdag staatsgoewerneurs gevra om saam met die Amerikaanse kos-en-medisynebeheerraad (FDA) te werk om die raklewe van Johnson & Johnson se Covid-19-entstof te verleng.

Kommer oor veiligheidprosedures by die aanleg in Baltimore, Amerika, waar die entstof vervaardig word, het daartoe gelei dat die FDA in April die vervaardiging van die entstof gestaak het.

Werknemers van dié aanleg het bestanddele van die J&J- en die AstraZeneca-entstof deurmekaar laat raak.

Amper die helfte van die 21 miljoen dosisse wat die maatskappy reeds in Amerika vervaardig het, is tans in onbruik.

Andy Slavitt, Covid-19-raadgewer in die Withuis, sê elke goewerneur met J&J-dosisse moet die FDA regstreeks kontak oor die korrekte wyse om die entstof te berg.

J&J is tans besig om stabiliteitstoetse op die entstof te doen in ’n poging om die vervaldatum te verleng.

Volgens Reuters het 13 besendings van J&J se entstof ’n vervaldatum van 27 Junie of vroeër. Dit is nog nie duidelik hoeveel dosisse in dié besendings is nie.

J&J het nog sowat 100 miljoen dosisse om te verskeep, maar dit is onduidelik wanneer dit sal gebeur. – Reuters

08 Jun. 21:01:10

08 Jun. 20:07:38

Noord-Kaap leef in ontkenning, sê Mkhize

Mense in die Noord-Kaap leef in ontkenning oor die Covid-19-pandemie en as dié gedrag nie onmiddellik verander nie, gaan lewensverliese drasties toeneem.

Dit is die boodskap wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Maruping Lekwene, Noord-Kaapse LUR vir gesondheid, ná die minister se besoek aan Kimberley wil uitdra.

Mkhize het die provinsie Dinsdag besoek om te kyk hoe die derde vlaag van koronavirus-infeksies bestuur word en ook om die vordering met die inentingsprogram te bekyk.

Skaars ’n uur ná die verrigtinge in die gebied het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig Mkhize is op spesiale verlof geplaas.

Lees die volledige berig hier.
08 Jun. 19:59:03

China sê ja vir entstof vir 3-jariges

China het die noodgebruik van sy Covid-19-entstof Sinovac vir gebruik op kinders so jonk soos drie goedgekeur.

Volgens ’n woordvoerder van Sinovac is noodgekeuring verleen vir die gebruik van die entstof in drie- tot 17-jariges.

Dit is egter nie bekend of jong kinders wel die entstof sal ontvang nie omdat die nasionale gesondheidskommissie van die land dit sal moet bepaal.

Sinovac het wel die eerste kliniese toetsfases van die gebruik van die entstof op kinders en tieners afgehandel en die resultate sal binnekort in die wetenskaplike vaktydskrif Lancet gepubliseer word. – The Guardian

08 Jun. 17:59:00

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.