Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 440: Amper 9 000 infeksies binne 24 uur aangemeld

Dit is dag 440 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Suid-Afrika het reeds meer as 1,7 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 57 000 sterftes.


Hier volg die jongste verwikkelinge: 

09 Jun. 21:57:32

Amerika gaan 1,7 miljoen dosisse van nuwe eksperimentele middel koop

Amerika gaan 1,7 miljoen dosisse van ’n nuwe eksperimentele middel aankoop waarmee Covid-19-pasiënte behandel kan word.

Die middel, Molnupiravir, sal gebruik word sodra dit noodgoedkeuring ontvang het.

Die farmaseutiese maatskappy Merck & Co het in ’n verklaring gesê die middel word tans in fase 3 van kliniese toetse getoets.

Volgens data uit fase 2 van die kliniese toetse help die anti-virale middel pasiënte wat nie gehospitaliseer is nie, om vinniger negatief vir die virus te toets.

Luidens ’n verklaring van Merck onderhandel hy reeds met ander lande vir aankope.

Lisensievoorwaardes word ook met die vervaardigers van generiese medisyne bespreek sodat die middel vir lae- en middelinkomstelande beskikbaar sal wees. - Reuters

09 Jun. 21:12:02

Gauteng loop voor met jongste infeksies 

Van die 8 881 nuwe koronavirusinfeksies wat Woensdag in Suid-Afrika aangeteken is, is die meeste nuwe infeksies in Gauteng (5 111) aangeteken. 

So lyk die nuwe infeksies in die ander provinsies:

Oos-Kaap (253)

Vrystaat (620)

KwaZulu-Natal (537)

Limpopo (229)

Mpumalanga (363)

Noordwes (650)

Noord-Kaap (335)

Wes-Kaap (783)

09 Jun. 20:57:24

09 Jun. 20:51:14

Amerika koop 500 m. dosisse entstof vir die wêreld

Amerika het 500 miljoen dosisse van Pfizer se Covid-19-entstof gekoop en gaan dit skenk om wêreldwyd gebruik te word, het verskeie nuusagentskappe Woensdagaand berig.

Pres. Joe Biden sal dié nuus amptelik bekend maak tydens die G7-beraad in Engeland.

Die beraad vind van 11 tot 13 Junie plaas.

Sowat 200 miljoen dosisse sal in 2021 aan die Covax-inisiatief geskenk word, en die oorblywende 300 miljoen dosisse sal in die eerste helfte van 2022 versprei word, het CNN berig.

Jeff Zients, een van Biden se topraadgewers, werk volgens CNN reeds die afgelope maand aan die transaksie.

09 Jun. 20:17:42

09 Jun. 19:50:06

Sommige reisbeperkinge dalk in Amerika opgehef

Amerika is besig om met behulp van werkgroepe wat uit kundiges bestaan daarna te kyk hoe om reisbeperkings veilig op te hef ná 15 maande van inperkingsmaatreëls.

’n Withuis-amptenaar het Dinsdag gesê die administrasie van pres. Joe Biden sal nie vinnig besluit om mense van oor die grootste deel van die wêreld toe te laat om weer Amerika te besoek nie weens die tydsduur wat dit die werkgroepe sal neem om hul werk te doen.

Die groepe sal saam met Kanada, Mexiko, die Europese Unie en Brittanje na veilige maniere kyk om weer reise te hervat. Hulle sal deur die Withuis se Covid-reaksiespan gelei word in samewerking met die nasionale veiligheidsraad, wat die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer-en-voorkoming sal insluit. – Reuters

09 Jun. 19:39:16

So lyk SA se jongste syfers: 

Nuwe gevalle: 8 881

Kumulatiewe gevalle: 1 712 939

Nuwe sterftes: 127

Kumulatiewe sterftes: 57 310

Aktiewe gevalle: 66 128

Pfizer-inentings: 1 043 278

Totaal: 1 524 589


09 Jun. 19:04:43

Rusland teken meeste infeksies sedert Maart aan

Die meeste nuwe koronavirusinfeksies sedert Maart – 10 407 – is Woensdag in Rusland aangemeld.

Die kumulatiewe getal is nou 5 156 250, het die federale statistieke-agentskap bekend gemaak.

Die kumulatiewe dodetal is nou 124 895, volgens die regering se koronavirustaakspan.

Die federale statistieke-agentskap het afsonderlik telling van sterftes gehou en volgens die agentskap is 270 000 mense tussen April 2020 en April vanjaar aan die virussiekte dood. – Reuters

09 Jun. 18:26:29

Dalk toeskouers op Spele?

Meer Japannese regeringsamptenare en organiseerders van die Olimpiese Spele is van mening dat binnelandse toeskouers op die Spele se geleenthede toegelaat moet word, het die Asahi-dagblad Woensdag berig.

Die dagblad het nie bronne vir sy berig verskaf nie.

Die Spele begin aanstaande maand in Tokio.

Voorheen is berig dat regeringsamptenare en organiseerders van mening was dat geen toeskouers weens die koronaviruspandemie op die Spele toegelaat moet word nie.

Die verandering in sentiment is glo te wyte aan al hoe meer mense wat teen die virus ingeënt word.

Geen buitelandse toeskouers word op die Spele toegelaat nie, met organiseerders wat wil poog om ’n ontsmette “borrel” te skep om besmetting tot die minimum te beperk.

Seiko Hasjimoto, president van die Spele, het Dinsdag gesê planne vir toeskouerbywoning sal voor einde vandeesmaand bekend gemaak word ná konsultasie met die Japannese regering. – Reuters 

09 Jun. 17:47:18

Meeste Britte het moontlik reeds teenliggaampies

Sowat 80% van die volwassenes in Brittanje het moontlik reeds teenliggaampies teen Covid-19 – óf ná infeksie óf ná inenting.

Dit is volgens nuwe data wat Woensdag uitgereik is. The Guardian berig die skatting word gedoen op grond van bloedtoetse wat sedert 17 Mei uit private huishoudings verkry is.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.