Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Amerika se skenking kom sonder enige voorwaardes



10 Jun. 21:53:25

Pres. Joe Biden van Amerika en Albert Bourla, hoofbeampte van Pfizer, Donderdag voordat hulle die media in St. Ives in Cornwall, Engeland, toegespreek het. Foto: Reuters 

10 Jun. 21:51:22

Amerika se skenking 'n hupstoot in stryd teen virus

Amerika se skenking van 500 miljoen dosisse Covid-19-entstof vir die wêreld se armste lande is ’n hupstoot in die stryd teen die koronavirus en kom sonder enige voorwaardes.

Biden het Donderdag in die Engelse kusdorp Carbis Bay voor die aanvang van die G7-beraad in Cornwall gepraat.

Albert Bourla, Pfizer se uitvoerende hoof, het langs hom gestaan.

Die nuus dat Amerika 500 miljoen dosisse van Pfizer se entstof teen Covid-19 aangekoop het, het reeds Woensdagaand uitgelek.

Dit is die grootste enstofskenking tot dusver deur ’n enkele land en sal nog skenkings van die ander G7-lande – onder meer Brittanje – aanmoedig. 

Volgens ’n senior amptenaar in die Biden-administrasie sal 200 miljoen dosisse vanjaar aan die Covax-inisiatief beskikbaar gestel word en 300 miljoen dosisse volgende jaar.

Die G7-leiers wil die wêreld teen einde 2022 ingeënt hê in ’n poging om die Covid-19-pandemie te stuit. Die pandemie het inperkings meegebring wat ekonomieë wêreldwyd geknou en miljoene mense se lewensbestaan vernietig het. – Reuters

10 Jun. 20:41:11

Frankryk sal help in Afrika

Frankryk sal saam met Suid-Afrika werk om te verseker dat Afrika-lande toegang tot Covid-19-entstowwe kry, het pres. Emmanuel Macron van Frankryk Donderdag voor die begin van die G7-beraad in Cornwall, Engeland, gesê.

Macron het op ’n mediakonferensie gesê toegang tot entstowwe moenie belemmer word deur dispute oor die intellektuele patentereg op Covid-19-entstowwe nie. – The Guardian

10 Jun. 19:24:52

SA nou in derde vlaag

Dit is amptelik: Suid-Afrika is nou in die derde vlaag van koronavirusinfeksies. Die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) het Donderdagaand dié aankondiging gemaak. Nios het in ’n verklaring bekend gemaak daar is Donderdag 9 149 nuwe koronavirusgevalle aangemeld.

Lees die volledige berig hier.
10 Jun. 19:23:47

10 Jun. 19:17:33

Inentings: So lyk SA se jongste syfers

479 768 mense is volgens die Sisonke-studie ingeënt met die Johnson & Johson-entstof.

1 139 243 mense het al die eerste dosis van Pfizer se Covid-19-entstof ontvang.

85 245 mense is die afgelope 24 uur ingeënt (teen 23:59:59 op 9 Junie 2021).

Altesaam het 1 609 011 mense in die land dus reeds 'n entstof teen Covid-19 ontvang. 

So lyk die jongste syfers in SA:

Nuwe infeksies: 9 149

Aktiewe gevalle: 71 617

Kumulatiewe gevalle: 1 722 086

Nuwe sterfgevalle: 100

Totale sterftesyfer: 57 410

Totaal van pasiënte wat herstel het: 1 593 059

10 Jun. 18:25:59

Meer as 6 000 aktiewe gevalle in Wes-Kaap

Daar is tans meer as 6 000 aktiewe koronavirusgevalle in die Wes-Kaap.

Alan Winde, premier, het in ’n mediaverklaring gesê 1 028 pasiënte word tans in hospitale versorg en 247 in waak- of hoësorgeenhede verpleeg.

Winde het vroeër Donderdag gesê die provinsie gaan nou die derde vlaag van die pandemie binne.

In die verklaring is vermeld die provinsie het tans 6 108 aktiewe gevalle en dat 299 208 gevalle sedert die aanvang van die pandemie aangemeld is.

In geheel kon 281 177 pasiënte van die virussiekte herstel, met 11 923 sterfgevalle.

Teen Woensdagmiddag 17:00 is 91 732 gesondheidswerkers reeds teen Covid-19 (fase 1a en b) ingeënt en 154 505 mense ouer as 60 in fase 2 van die inentingsprogram.

10 Jun. 17:43:10

Inentings in Afrika minimaal wyl 3de vlaag kom

Sowat 90% van Afrikalande gaan ’n September-spertyd misloop om minstens 10% van hul bevolking teen die koronavirus in te ent terwyl ’n derde vlaag van die pandemie oor die kontinent hang, het ’n amptenaar van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Donderdag gesê.

Matshidiso Moeti, streekdirekteur van die WGO in Afrika, sê die kontinent benodig ’n bykomende 225 miljoen dosisse entstof om teen September ’n tiende van die vasteland se bevolking in te ent.

Altesaam 5 miljoen koronavirusgevalle is al in Afrika aangemeld, met die suidelike streek wat volgens Reuters se data vir 37% van die gevalle op die vasteland verantwoordelik is.

Suid-Afrika is die land met die meeste gevalle in Afrika en is verantwoordelik vir 34% van alle aangemelde gevalle en 43% van alle sterftes.

“Met entstofvoorraad en -besendings wat nou opdroog, is die vasteland se entstofdekking vir die eerste dosis tans 2% en sowat 1% vir Sub-Sahara-Afrika.”

John Nkengasong, voorsitter van die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, het op ’n afsonderlike mediakonferensie gesê 14 Afrikalande is nou “aggressief” op pad na ’n derde vlaag van die pandemie.

“Jy kan duidelik sien dat die variant wat eerste in Indië geïdentifiseer is, nou vastrapplek kry op die kontinent. Ons analiseer voortdurend die situasie om te sien of daar ’n korrelasie is tussen die variant en die derde vlaag,” het Nkengasong gesê. – Reuters

10 Jun. 16:41:03

‘Ondersoek oorsprong van Covid-19 sonder Chinese inmenging’

Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, het Donderdag gesê ’n volledige onafhanklike ondersoek na die oorsprong van Covid-19 is nodig sonder enige inmenging van China.

“Dit is belangrik dat ons ’n volledige, onafhanklike ondersoek in China doen om uit te vind wat ons kan, en dat so ’n ondersoek sonder belemmering geskied,” het Hancock in die Britse parlement gesê. – Reuters

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.