Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 442: Ramptoestand verleng

Dit is dag 442 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Suid-Afrika het reeds meer as 1,7 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 57 000 sterftes.

Meer as 1,5 miljoen mense het al herstel.

Die nasionale departement van gesondheid sê altesaam 1 619 011 mense is reeds ingeënt.

Hier volg die jongste verwikkelinge:
11 Jun. 20:53:26

J&J-entstof-besmetting: Wat dit vir SA beteken

Die departement van gesondheid het Vrydagaand bevestig dat die Amerikaanse voedsel- en medisyne-owerheid (FDA) aangekondig het dat twee stelle Covid-19-dosisse wat vir Suid-Afrika bestem is, veilig is vir noodgebruik.

Dit kom nadat die FDA Johnson & Johnson Vrydag versoek het om 60 miljoen dosisse van sy Covid-19-entstof wat in ’n fabriek in Baltimore vervaardig is, weg te gooi omdat dit besmet kan wees.

Nog 10 miljoen dosisse van dié entstof kan wel uitgereik word – met ’n waarskuwing dat die korrekte prosedures nie deur die vervaardiger Emergent BioSolutions Inc gevolg is nie, het die New York Times berig.

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid is die implikasies vir Suid-Afrika dat die J&J-entstowwe by die aanleg in Ggeberha wat nog versprei moet word, eers deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) ondersoek moet word om vas te stel of dit geskik is om in Suid-Afrika te gebruik. 

Volgens die departement is altesaam 300 000 dosisse in die VSA gereed om baie dringend na Suid-Afrika gestuur te word.

Die FDA het ook aangekondig dat hulle, na deeglike evaluering van die entstowwe, die verlenging van die vervaldatum goedgekeur het nadat vasgestel is dat dit in ’n gewone yskas vir 4,5 maande pleks van 3 maande gestoor kan word.

11 Jun. 20:29:48

Ramptoestand in SA verleng

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die nasionale ramptoestand in Suid-Afrika weens die Covid-19-pandemie tot 15 Julie verleng.

Volgens die ministerie van samewerkende regering en tradisionele sake is die verlenging van die ramptoestand noodsaaklik sodat die land sy pogings om die pandemie te beveg, kan voortsit.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Donderdagaand bekend gemaak die land beleef nou amptelik ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies.

Suid-Afrika het op 15 Maart verlede jaar vir die eerste keer ’n nasionale ramptoestand ingevolge art. 27 (1) en art. 27 (2) van die rampbestuurswet afgekondig in reaksie op die koronavirus-pandemie.

Die ramptoestand sou aanvanklik op 15 Junie verlede jaar verstryk, maar wetgewing bepaal dat dit deur die minister met kennisgewing in die Staatskoerant vir ’n maand op ’n slag verleng kan word.

11 Jun. 20:23:13

J&J gevra om miljoene dosisse entstof weg te gooi

Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) het Johnson & Johnson Vrydag gevra om 60 miljoen dosisse van sy Covid-19-entstof, wat in ’n fabriek in Baltimore vervaardig is, weg te gooi.

Nog 10 miljoen dosisse van dié entstof kan wel uitgereik word – met ’n waarskuwing dat die korrekte praktyke nie deur die vervaardiger Emergent BioSolutions Inc gevolg is nie, het die New York Times berig.

Sonder om bekend te maak presies hoeveel entstof betrokke is, het die FDA in ’n verklaring gesê hy het twee groepe van die entstof vir gebruik goedgekeur, dat verskeie ander groepe nie geskik is vir gebruik nie en dat ander geëvalueer sou word.

Volgens die FDA kan die J&J-dosisse in Amerika gebruik word, of uitgevoer word.

As J&J en Emergent die entstof uitvoer, sal die FDA inligting daaroor mag verskaf aan die regulerende owerhede van die lande waar die entstof gebruik gaan word.

Die Europese reguleerder van medisyne het Vrydag gesê J&J se Covid-19-entstof wat vir die streek vervaardig is min of meer in die tyd dat kontaminasie in die aanleg in Baltimore ontdek is, sal nie gebruik word nie.

Dit sal dit vir J&J moeilik maak om teen einde Junie ’n besending van 55 miljoen dosisse entstof aan Europa te lewer. – Reuters

11 Jun. 19:18:50

Jongste syfers

Die jongste syfers vir die afgelope 24 uur soos Vrydagaand bekend gemaak, is soos volg:

Nuwe infeksies: 8 021

Totale getal infeksies: 1 730 106

Aktiewe gevalle: 74 221

Nuwe sterftes: 182

Totale getal sterftes: 57 592

Herstel: 1 598 293

Inentings:

Altesaam Sisonke: 479 768

Pfizer, eerste dosis: 1 139 243

Totaal tot dusver ingeënt: 1 619 011

11 Jun. 18:34:34

Minder volgende week in W-Kaap ingeënt

Die inenting teen Covid-19 in die Wes-Kaap sal voorlopig stadiger geskied omdat minder entstof van die nasionale regering ontvang is.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het Vrydag in ’n verklaring gesê nadat die teikens vir die aantal inentings die afgelope twee weke oorskry is, sal dit nou eers verlangsaam moet word.

Tussen 17 Mei en 3 Junie is 196 560 dosisse Pfizer-entstof ontvang, waarvan 167 886 toegedien is.

Noudat die inentingsprogram momentum begin kry het, is daar egter minder entstof beskikbaar en die beoogde teiken om 120 000 inentings te doen, moes tot 70 000 verlaag word.

Donderdag is 49 140 dosisse ontvang, wat van 14 tot 18 Junie toegedien sal word.

’n Totaal van 259 618 mense is reeds in die Wes-Kaap ingeënt.

Die gesondheidsdepartement sê die aflewering van Johnson & Johnson-entstof is vertraag.

Dit beteken al is daar meer sentrums waar mense ingeënt kan word, sal daar nie soveel ingeënt word as wat gehoop is nie. – Marelize Barnard

Lees meer
11 Jun. 15:44:54

170 W-Kaapse leerlinge toets dié week positief

Die afgelope week is 170 Wes-Kaapse leerlinge positief vir die koronavirus getoets.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het Vrydag by navraag gesê dieselfde styging in die getal infeksies soos oor die provinsie heen geld ook onder leerlinge.

Volgens die WKOD se jongste inligting het 87 onderwysers en 12 personeellede ook die virus opgedoen.

Lees die hele berig hier.
11 Jun. 14:57:16

90% van Afrika gaan nie teiken vir inenting bereik

Byna 90% van Afrika-lande sal nie hul teiken vir inentings voor September bereik nie, terwyl dit lyk asof ’n derde vlaag moontlik ook in die res van Afrika kan uitbreek.

Dit beteken 47 van die 54 Afrika-lande sal nie hul teiken bereik om minstens 10% van hul bevolking teen September in te ent nie.

Nuwe gevalle is in tien Afrika-lande aan die toeneem, terwyl die vasteland se kumulatiewe koronavirusgevalle byna by die 5 miljoen-kerf is.

Lees die hele berig hier.
11 Jun. 14:46:52

WGO waarsku Europeërs om veilig te reis in somervakansie

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Donderdag ’n beroep op Europeërs gedoen om in die somervakansie verantwoordelik te reis.

Die organisasie het ook gewaarsku dié gebied is ondanks ’n stabiele daling in die getal infeksies “geensins buite gevaar” wat betref die stryd teen die Covid-19-pandemie nie.

Lees die hele berig hier.
11 Jun. 14:12:37

Dié 2 provinsies bereik draaipunt in 3de vlaag

Met die hele land wat nou amptelik ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies ondervind, meen kenners die Vrystaat en Noord-Kaap is besig om ’n draaipunt te bereik.

Veral die Vrystaat het rondom Paasnaweek ’n skielike styging gehad, terwyl die Noord-Kaap hom intussen verbygesteek het.

Lees die hele berig hier.
11 Jun. 14:04:09

Brittanje skenk 100 m. entstofdosisse

Brittanje gaan in die volgende jaar minstens 100 miljoen surplus-Covid-19-entstofdosisse aan ander lande uitdeel.

Dit sal binne weke begin en die onderneming is dat 5 miljoen dosisse teen einde September uitgedeel sal word.

Boris Johnson, die Britse premier, het dit in Cornwall, waar die jaarlikse beraad van G7-leiers Vrydag 11 Junie begin, aangekondig.

Hy het verlede week ’n beroep gedoen op die leiers van die ander G7-lande om te help sorg dat die hele wêreld teen die einde van volgende jaar teen Covid-19 ingeënt is.

Die leiers van die wêreld se sewe rykste lande sal na verwagting ooreenkom om saam een miljard dosisse aan ander lande beskikbaar te stel deur middel van skenkings en die finansiering vir die vervaardiging van meer entstowwe.

Dit sal grotendeels deur middel van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Covax-inisiatief uitgedeel word.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.