Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 449: 10 510 nuwe infeksies; 105 966 aktiewe gevalle in SA

Dit is dag 449 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Suid-Afrika het reeds meer as 1,7 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 58 000 sterftes.

Meer as 1,6 miljoen mense het al herstel, wat die land se herstelkoers op 90,39% te staan bring.

Die nasionale departement van gesondheid sê byna 2 miljoen mense is reeds ingeënt.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

18 Jun. 20:52:59

Deltavariant oorheers wêreldwyd

Die deltavariant van die koronavirus, wat eerste in Indië geïdentifiseer is, is besig om wêreldwyd dominant te word.

Dit is weens die hoë oordraagbaarheid van dié variant, het Soumya Swaminathan, hoofwetenskaplike by die Wêreldgesondheidsorganisasie, Vrydag op ’n mediakonferensie gesê. – Reuters

18 Jun. 20:52:54

5% van wêreldwye gevalle in Afrika

Die trajek van veral ongediagnoseerde Covid-19-gevalle in Afrika is kommerwekkend.

Dit is die gevolgtrekking van ’n senior amptenaar van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Vrydag op ’n mediakonferensie.

Dr. Michael Ryan, hoof van die WGO se noodongevalleprogram, sê as ’n mens bloot na die syfers kyk, lyk Afrika se syfers nie te sleg nie, maar die afgelope week is net meer as 5% van wêreldwye gevalle en 2,2% sterftes op die vasteland aangemeld.

Ryan het egter verwys na die feit dat baie gevalle ongediagnoseer is en gesê: “Dit is 'n trajek wat baie, baie kommerwekkend is.” – Reuters

18 Jun. 20:52:48

EU kry bloedneus in hofstryd teen AstraZeneca

Die Europese Unie (EU) het ’n hofsaak teen die farmaseutiese maatskappy AstraZeneca verloor oor die verskaffing van Covid-19-entstowwe.

’n Hof in Brussel het die EU se versoek verwerp dat AstraZeneca meer van sy entstowwe teen einde Junie aan die blok moet verskaf.

Die Anglo-Switserse maatskappy het in ’n kontrak onderneem om sy bes te doen om 300 miljoen dosisse entstof teen einde Julie aan die EU se 27 lande te verskaf, maar produksieprobleme het die maatskappy gedwing om sy doelwit na 100 miljoen dosisse af te skaal.

Die verskaffing van minder entstowwe het die EU se inentingsprogram in die eerste kwartaal van vanjaar vertraag.

Die EU het vir die grootste volume van inentings op dié entstowwe staatgemaak.

Dit het tot ’n bittere stryd en die EU se regstryd gelei om minstens 120 miljoen dosisse entstof teen einde Junie te bekom.

Die regter het beslis dat die maatskappy slegs 80,2 miljoen dosisse entstof teen die spertyd van 27 September moet lewer, het AstraZeneca in ’n verklaring gesê. – Reuters

18 Jun. 19:20:31

18 Jun. 18:24:18

So lyk die jongste syfers in SA

10 510 nuwe koronavirusgevalle is Vrydag in Suid-Afrika aangeteken. Die nuwe gevalle bring die kumulatiewe syfer nou op 1 796 589 te staan. Daar is tans 105 966 aktiewe gevalle in die land. 

Die meeste gevalle is weer in Gauteng aangeteken (66%), gevolg deur die Wes-Kaap (8%), KwaZulu-Natal en Noordwes (5% elk), Vrystaat (4%), Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Noordkaap (3% elk). 

Volgens 'n verklaring van Nios is meer as 51 301 toetse die afgelope 24 uur gedoen en is die positiwiteitskoers 20,5%.

Nog 118 sterftes is aangemeld. Die dodetal sedert die begin van die pandemie is nou 58 441.

Altesaam 1 632 182 mense kon al van die virussiekte herstel.

Daar was ook weer 'n styging in die hospitaliserings met pasiënte wat die afgelope 24 uur in hospitale opgeneem is.

Daar is tans 9 255 pasiënte wat weens Covid-19 hospitaalbehandeling in staatsinstellings (3 062) en private hospitale (6 193) ontvang.

Provinsiale gevalle op 18 Junie:

Oos-Kaap 334

Vrystaat 379

Gauteng 6 969

KwaZulu-Natal 553

Limpopo 278

Mpumalanga 315

Noordwes 567

Noord-Kaap 285

Wes-Kaap  830

18 Jun. 18:21:13

Israel, Palestyne gaan entstowwe deel

Israel gaan ten minste 1 miljoen Covid-19-entstowwe wat binnekort gaan verval na die Palestynse owerhede stuur kragtens ’n ruilooreenkoms om entstowwe te deel.

Naftali Bennett, die nuwe Israelse premier, het Vrydag bekend gemaak dat die Palestynse owerhede in ruil daarvoor dieselfde getal entstowwe, wat hulle eers later vanjaar gaan ontvang, aan Israel sal gee.

Menseregtegroepe het Israel, wat een van die wêreld se vinnigste inentingsprogramme gestig het, gekritiseer omdat hulle nie meer doen om te verseker dat Palestyne in die besette Wesbank en Gasa toegang tot entstowwe kry nie.

Die groep, Dokters vir Menseregte, het Israel op Twitter vir die ruiltransaksie gekritiseer en gesê dit is te betwyfel of die Palestynse owerhede al die dosisse sal kan gebruik omdat dit binnekort gaan verval.

Die ruilooreenkoms is een van Bennett se eerste beleidsbesluite teenoor die Palestyne sedert hy Sondag as Israelse premier aangewys is.

Die eerste honderdduisend Pfizer-BioNTech-dosisse is reeds Vrydag na die Palestynse gebiede gestuur. 1–1,4 miljoen dosisse sal na die Palestynse gebiede gestuur word luidens ’n verklaring wat deur Bennett se kantoor en die departemente van gesondheid en verdediging uitgereik is. – Reuters

18 Jun. 17:53:09

18 Jun. 14:47:28

Indië moet voorberei vir 3de vlaag, sê kenners

’n Derde vlaag van die koronaviruspandemie kan Indië heel moontlik in Oktober tref, en hoewel dié vlaag beter beheer sal kan word as die mees onlangse uitbreking, sal die virussiekte minstens nog ’n jaar ’n gesondheidsrisiko bly, meen gesondheidskenners.

Veertig gesondheidspesialiste – dokters, wetenskaplikes, viroloë, epidemioloë en ander professore wêreldwyd – wat aan 'n Reuters-peiling deelgeneem het, meen dat die inentingsprogram in die land ’n mate van beskerming teen ’n nuwe uitbreking van die virussiekte sal bied.

Altesame 85% van die respondente het gesê die volgende vlaag sal die land in Oktober tref, drie respondente meen die derde vlaag kan Indië reeds so vroeg as Augustus tref en 12 ander dat die derde vlaag in September kan toeslaan. – Reuters

18 Jun. 09:24:07

Géén provinsie is nou veilig nie

Die waarnemende minister van gesondheid sluit die mediakonferensie af.

Kubayi-Ngubane sê sy wil 'n beroep doen op die publiek om hul kant te bring om die virus te beveg. Sy sê sy weet van die politieke partye het sekere kwessies uitgelig, maar sy wil nie hê dat hulle die lewens van hul lede of ondersteuners in gevaar stel nie.

Volgens haar kan geen provinsie op die oomblik sê hy is veilig nie, want die syfers is besig om in al die provinsie te styg. Sy doen ook 'n beroep op almal om die boodskap uit te dra dat die land in sy derde vlaag is en dat mense aan die voorsorgmaatreëls moet voldoen.

Kubayi-Ngubane sê mense moet steeds maskers dra, sosiale distansiëring toepas en hul hande gereeld was en ontsmet. Die mediakonferensie is klaar.

18 Jun. 09:18:52

SA steeds naby teiken om 67% teen Januarie 2022 in te ent

Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, sê hoewel die departement en die inentingspogram verskeie struikelblokke moes oorkom, is vordering reeds met die inenting van mense met hul eerste Pfizer-dosis gemaak.

Die departement het gisteraand bekend gemaak dat byna 2 miljoen mense tot dusver in Suid-Afrika ingeënt is.

Phaahla sê die departement probeer soveel entstowwe as moontlik bekom sodat mense ingeënt kan word.

Hy beklemtoon weer dat 300 000 entstowwe reeds vir onderwysers bekom is en dat nog entstowwe vir hierdie doel gekry sal word.

Phaahla meen die departement sal steeds naby sy teiken kom om 67% van die land se bevolking teen Januarie 2022 ingeënt te hê.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.